Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

8.2.13

Vasberade ABJ wou niks anders as joernalis wees


Verwysings na wyle ANDRÉ PIENAAR, eertydse finansiële en sportsub en -skrywer van Die Transvaler, en later nuusredakteur van Die Vaderland, het ‘n klompie oudkollegas se gedagtes op ver paaie laat gaan.

Klik hier om 'n vorige berig oor hom te lees.

Willie Buys
WILLIE BUYS skryf: Wat onuitwisbaar in my geheue vassteek oor André Pienaar, liefdevol ABJ genoem deur sy kollegas, is sy vasbeslotenheid om 'n joernalis te word.

Hy was destyds 'n plattelandse outjie van so negentien jaar oud toe hy uit Coligny se wêreld gebel het om 'n werksonderhoud te reël. Hy wou niks weet van enige vertragings-verskonings nie en het amper elke dag gebel om te hoor wanneer hy kan kom vir die onderhoud.

Dié vasberadenheid het al klaar iets vir my gesê en die onderhoud is gereël. Dit was suksesvol en die geheel-indruk van dié kinderlik-naïewe man was dat niks in sy pad sou staan in sy strewe om 'n joernalis te word nie.

Dit is later bevestig deur sy moeder wat naderhand namens hom gebel het om te verneem of daar enige nuus oor 'n aanstelling was . Sy het toe verklap hy bid selfs dat sy aansoek suksesvol sou wees. Hy was so onwrikbaar in sy geloof dat sy aansoek gunstig beoordeel sou word, dat hy geweier het om om enige ander werk aansoek te doen!

Wie kan nou so 'n gesindheid ignoreer? Hy het die aanstelling gekry en deur die gewone opleidingsprosesse gegaan voordat hy uiteindelik in die sportkantoor beland het waar hy meestal oor fietsry verslag gedoen het.
ABJ het veral belang gestel in die skryfkuns en het later by wyle oom Jorrie Jordaan – suksesvolle jeugverhaalskrywer en assistant-nagredakteur van DT, wat kursusse in skryfkuns uit sy huis aan die Wes-Rand aangebied het – gaan kers opsteek om sy skryftalent te verbeter.

Hy met minstens een jeugverhaal gepubliseer. Oor ‘n bokser as ek reg onthou.

Hy het later gevorder tot nuusredakteur van Die Vaderland, onder redakteurskap van die man wat internasionale aansien as sportskrywer verwerf het, wyle Gert Kotzé.

Alwyn Strydom
ALWYN STRYDOM skryf: ALWYN STRYDOM skryf: Dis miskien omdat ons albei maar plattelanders was (ek van die Noordoos-Kaap) dat ons in 1974 vriende geword het.

Daarby het ons saam met ander redaksielede van die destydse Die Transvaler (soos Joe van Buuren, Charles Ocshe en die huisbaas, Johann de Wet) in ‘n groot ou huis in Dittonlaan 10 , Aucklandpark, gewoon.

Pretoria-stasie.
Daar was gedurig mense en partytjies en dis waar ons saam begin (probeer) kitaar speel het. Ek sal seker nooit Goudstadligte of Die trein na Pretoria hoor sonder om aan André te dink nie, want dit was twee van ons groot ‘”treffers” (oorlede Frans en Sannie Briel sou seker self begin tjank het as hulle ons vertolking van hul groot treffers moes beluister!). Klik op die foto om na Die trein na Pretoria te luister.

Partytjies, sing, kitaar speel, raas, Hillbrow en fietse was die lewe, maar vir André veral fietse en fietsry.

Outydse kattekwaad was daar baie. André het een Sondagmiddag met ‘n donkerbril, hoed en wit kierie heelwat simpatie en ‘n paar rand gekry vir die blindes (of liewer vir die Sans Souci).

Een nag ná die koerant af is, het ons die hekwag met ‘n “bebloede” plastiekarm die skrik op die lyf gejaag. Hy hardloop seker vandag nog!

Die rare Sondae wat ons nie gewerk het nie, maar veral wat ons geld gehad het, het ons ‘n “combine” (albei hoofgeregte), teen R12,00 by die Melville-Hotel gaan eet. Ons het die regte mense daar geken!
André wou altyd hê ons moet met fietse na sy ouerhuis in die Wes-Transvaal ry, wat hy toe wel gedoen het. Baie jare daarna was ek ook soontoe, nie met ‘n fiets nie, maar per minibus om as draer by sy begrafnis op te tree.


Stella Niemand
STELLA NIEMAND skryf: Ek onthou ABkie-J as ‘n dierbare, sagte, liewe siel. Soos die res van die destydse jongklomp, was hy baie lief vir kuier. Hy was altyd behulpsaam en sou enigiets vir sy pelle doen. Hy het ook ‘n groot skeut onnutsigheid in hom gehad. As ons destyds so laatnag partytjie gehou het, moes hy dikwels vir my die Kalfiewals op sy kitaar speel, oor en oor.

Vir my was hy soos ‘n jonger boetie en ons was baie geheg aan mekaar. Sy voortydige frats-dood het my diep geskok. Hy is een van my gewese kollegas wat ek altyd met liefde sal onthou.

Dirk Benadé
DIRK BENADÉ onthou hoe knap André Gert Kotzé, John du Toit en andere se stemme nageaap het. Veral vir John du Toit nadat dié op ‘n keer, toe redaksionele ruimte skraps was, daarop aangedring het dat André die drukkerstempel (‘imprint”) uitgooi, wat op die agterblad moes verskyn. Daardie blokkie wat aandui wie die koerant druk, wat die adres is, ens.

Dit was min of meer op die volgende trant: “Pienaar! Daai ‘imprint’ moet uit! Diggers moet in!”

Wanneer iemand aanbeweeg het, is dit mos die regte gebaar om hom te verhef tot iets wat daardie persoon nie eintlik was nie . Met André was dit nie nodig nie. Hy was eenvoudig ‘n moerse gawe ou!


Philip Deetlefs
PHILIP DEETLEFS skryf: ABJ was daar van die Wes-Transvaal af iewers en Engels was nie sy sterkste spreektaal nie.

Hy het destyds op ‘n bromponie rondgery en eendag in ‘n ligte ongeluk betrokke geraak. Die voorwiel was stukkend soos in moet heeltemal vervang word.

Die bromponie was darem verseker en ABJ het ‘n eis ingedien. Die assessor wat sy eis behartig het, bel toe vir hom om te hoor van die skade. Die probleem was net dat die assessor nie Afrikaans kon praat nie! Nou moes ABJ verduidelik dat die voorwiel van sy bromponie onherstelbaar beskadig is, maar hoe sê mens dit in Engels?

Hy het sy Engelse woordeskat hoofsaaklik in die Sans Souci geleer en sy antwoord? “The wheel is totally vaaktap.”

Ek onthou ook hoe hy verslag gedoen het oor ‘n fietsresies waar hy gepraat het van die renjaers wat in ‘n “bedompige bondel op die eindstreep afgestorm het”. Sy been is lekker daaroor getrek.

Rika van Graan
RIKA VAN GRAAN skryf: Ek onthou dat André baie vriendelik, behulpsaam en netjies was. Sy krullerige vaalblonde hare was altyd elkeen op sy plek.

Hy het baie gou die prosedure en werking van die koerant onder die knie gekry en kon partykeer die blaaie alleen hanteer as die seniors nie daar was nie.

Ek onthou soos gister die aand toe die krag in Aucklandpark kort voor saktyd afgegaan het, terwyl ek besig was om die hoofberig te skryf.

Kragonderbreking:  André brand 'n koerant sodat Rika kan skryf.
ABJ, wat altyd ’n plan kon maak het gesê: “Rieks, kom ek brand ’n koerant, dan kan jy jou berig klaar skryf.”

So gesê so gedaan. Toe die ligte weer aangaan was my berig op pad na die setters.

André was versot op sy fiets en het oral heen met sy fiets gery. Hy was baie fiks, maar ek kan nie onthou dat hy mededingend deelgeneem het nie.

Die fietsrygogga het hom gebyt nadat hy ’n paar keer saam met my en Len Ward by Hector Norrispark in Turffontein gaan fietsry kyk het. Len was die fotograaf en ek het die kopie geskryf.

Ek het naweke fietsry geskryf nadat Johan Volschenk my gevra het om dit te doen omdat ek naby Hector Norris gebly het.

Hy het die aand van die ongeluk in De Kortestraat gery toe ’n voetganger voor hom oor die pad gehardloop en ABJ in hom vasgery het. André het deur lug getrek en blykbaar die randsteen met sy kop getref. Hy is bewusteloos daar opgetel en is met bloeding op die brein in die hospitaal opgeneem waar hy twee dae later oorlede is.

Gert Coetzee
GERT COETZEE skryf: Ná ABJ se ontydige, skokkende dood (oom André Verster het my die aand nog gebel en vertel) het ons hom gaan begrawe daar in 'n kerkhof naby Coligny.

Ons was 'n hele klompie, ek kan nou nie onthou wie almal nie, maar ek weet vir 'n feit Christo Lemmer was saam. Wie dit gereël het, weet ek nie, maar ons het met die Buitendag-Mobiel (Koos Buitendag se kombi) gery. Op pad soontoe, via Tarlton, het ek nogal opgemerk ek wonder hoe lank dit ABJ gevat het om dié hele ent pad te trap met sy fiets, want as hy by die huis gaan kuier het, het hy fietsgery van Johannesburg af Coligny toe, en ek sweer hy het dié langpad nie veel stadiger as die kombi afgelê nie.

Nog 'n onthou is hoe verskriklik swaar hy was toe ons hom op 'n hittige dag van die kerk af na die kerkhof toe dra. Agterna het ons vir ABJ beurtelings toegegooi wat nie maklik was nie, want dit was blêddie warm.

Ek weet vir 'n feit die rit terug ná die begrafnis het veel langer geduur as wat ABJ hom ooit per fiets getrap het. Ons het Ottosdal oor teruggekom en ons eerste halte was die hotel op Ottosdal. Daarna het ons Klerksdorp, Potchefstroom en Kraalkop buite Fochville aangedoen, daarna laat my geheue my totaal in die steek.

Oral waar ons gestop en gefuif het, het ons vir mekaar gesê: "ABJ sou dit so wou gehad het."

Christo het gedink dis onbetaamlik en wou nie uitklim nie, maar teen Kraalkop het hy maar kopgegee en saam gaan fuif.

Ek is laaste afgelaai in Brakpan, omdat ek die verste gebly het en het eers kleinnag tuisgekom. 'n Herinnering, nie aangenaam nie, maar iets wat 'n ou altyd sal bybly.