Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

26.2.13

Pasteitjies op die drukkersmasjien

TOBIE VAN DEN BERGH het onlangs sy dertigste jaar as redakteur van Middelburg Observer herdenk en ‘n boek “Hang die Redakteur, Maar God is Liefte” die lig laat sien. Die boek bied belangrike insigte oor die rol wat ‘n goeie gemeenskapskoerant binne sy plaaslike omgewing kan speel en Tobie het ingestem dat K’rant enkele uittreksels uit die boek plaas.

Tobie het in 1975, kort ná sy matriekeksamen, by die Witbanknuus ingeval en het later na die Observer verskuif. Albei koerante word deur OH Frewin-drukkers uitgegee, wat van 1980 tot 1998 deel van die Perskorgroep was. In die eerste van hierdie uittreksels skryf Tobie:

In ‘n tydvak waar rekenaars, digtitale kameras en kleurdrukwerk ongekend was, was die lewe van 'n joernalis anders, heeltemal anders ... in swart en wit én lood én tikmasjiene.

Lyno Type-drukkersmasjien
Een van die groot voordele van looddrukwerk was die Lyno Type-drukkersmasjien wat so lekker oondwarm was, dat jy jou pasteitjie daarop kon warm maak.

'n Drukproses wat jou kop laat draai het, want die woorde is agterstevoor ingevoeg in lood. Pretoria sou geskryf gewees het airoterP maar die regdrukproses SOU dit wel gedruk het Pretoria.

In die jare sewentig was daar nie eens tikmasjiene by die Witbanknuus om op te werk nie, die berigte is op 'n stuk papier geskryf en na 'n tikster gestuur, wat dit weer sou oortik en aan die redakteur oorhandig.

Wanneer dit daarvandaan gekom het, het dit soos 'n Afrikaanse leerling se Engelse opstel gelyk wat met ‘n rooi pen ingekleur is. Behalwe die taalfoute het die redakteur vir die setters aangedui hoe die kopie moes lyk, hoe die opskrif moes wees: hoofletters sou "caps'" wees of kleinletters "upper and lower", watter grootte opskrif "point size" en ook die font aangedui. Later is tikmasjiene gebruik en daarmee saam die alewige gesukkel om die lint om te ruil en 'n paar pikswart hande daarna.

Met die koms van MDT's, Mini Data Terminale, was dit só 'n "revolusionêre ontwikkeling" dat vakbonde gekla het dat dit mense se werk gaan oorneem.

Die rekenaar met al sy programme was die wonderlikste stukkie toerusting wat op 'n joernalis se lessenaar kon beland.

'n Groot kopskuif was egter nodig vir iemand wat met ‘n disket (floppy disk) gewerk het en wat moes wag totdat joernaliste die disket een vir een in 'n houertjie op die lessenaar sit om gesub te word. Geen intemet, geen selfoon, geen lêer op die rekenaar waar daar woerts warts deur foto's gekyk kan word nie.

Nou is daar mandjies op 'n rekenaar met berigte wat sommer so, sonder dat jy dit sien, van een kantoor na ‘n ander, van een land na 'n ander, gestuur kan word. Van enige plek in die wêreld kan daar foto's in ‘n japtrap bekom word. 'n Totaal nuwe wêreldorde in 'n redaksiekantoor.

Die swart en wit het plek gemaak vir kleur, alles kleur.

Asemrowend!

Die wonderlike ou Nikon-kamera met sy swart en wit film is verruil vir die digitale kamera, geen film, geen negatief.

Vir altyd was die reuk van 'n donkerkamer daarmee heen en die negatiewe wat soos Maandagoggend se wasgoed op die draad hang.

Donkerkamer-spesialis Julie van Rensburg wat met elke denkbare truuk die swakste foto kon omtower.

Daar was 'n sykous voor die vergroter en liggaamsvet, of Vaseline, wat op die negatief gesmeer is om krapmerkies uit te haal. Maar 0- tog, wanneer 'n onbedagsame joernalis die lig aangeskakel het, was daar groot moeilikheid. 'n Hele pak papier was daarmee heen omdat dit nie aan lig blootgestel kon word nie. 'n Donkerkamer is ten minste ‘n donkerkamer. Daarom moes die film in nagdonkerte op 'n rolletjie gedraai word, wat 'n groot kuns was en 'n paar behendige hande vereis het,

Die wonderlikste van die ontwikkelingsproses was wanneer die filmpapier in die ontwikkelaar gesit is en die prentjie vorm hier voor jou, sekonde vir sekonde - die oomblik wat jy gister vasgevang het in sy volle detail. Wow!

Daarna is dit blitsig oorsit na die fikseerder om die ontwikkelingsproses te stop, die was van die foto en dan is dit weer draad toe, een vir een, foto vir foto.

In die uitlegkamer was dit “spoeg en plak”.

Van daardie einste foto is 'n PMT gemaak, 'n papierafdruk van die oorspronklike foto,

Tydens die uitlegproses moes "strippers" (soos hulle genoem is), op 'n ligtafel die berig met 'n messie uitsny saam met die PMT, nadat dit eers deur 'n waksmasjien gedruk is.

Daardie einste waksmasjien het vir vele vetkolle en smerigheid gesorg op uitlegdag en bewaar die dasdraer wat dit te naby gewaag het aan die warm rollende waks.

Deesdae gebruik vele gemeenskapskoerante die Good News-uitlegprogram.

Vir vandag se geslag net nog 'n rekenaarprogram, vir die swart-en-wit brigade is dit goeie nuus in die ware sin van die woord.

Eksemplare van Hang die Redakteur kan teen slegs R99.99 stuk van marianav@lantic.net of 072/220-1568 bestel word.