Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

4.2.13

‘Die salarisse was knap, maar dit was wonderlike dae’

JOHAN WAGNER, gewese Perskorfotograaf en -joernalis in Pretoria, skryf: Dankie vir K’rant se navraag na die AutoPavilion wat ek hier by VWSA bestuur. Ek vra om verskoning dat ek nie al vroeër geskryf het nie. Ek stuur binnekort iets.

Intussen wil ek net laat weet van nog oud-Oggendbladters wat byna van dag een af daar was – gelukkig kom ek toe af op K’rant se
uitgebreide lys van vorige personeel en dit het die wankelende geheue bietjie aangehelp. (Ek stel voor julle voeg alle name by wat mens kan kry, al het hulle nog nie ‘n bydrae gemaak nie. Sit maar solank ‘n 0 agter diegene se
name.)

Ek het op 5 Februarie 1971 as fotograaf by Oggendblad begin, met Alan Lipschitz destyds die hooffotograaf. Daarna was ek algemene verslaggewer, toe subkantoor (saam met Koos du Plessis, Fanus Bothma, Willa de Ruyter, Johan Steynberg, wat net wou nagskof werk en in die dag geswot het vir sielkundige; ‘n ander gawe ou wat voorheen ‘n dominee was, Herklaas Coetzee. Ek dink hy’t ‘n houtbeen gehad.

Herman Snyman
Harald Pakendorf
Dan was daar die algemene verslaggewer Janet de Buday (spelling?) waarmee ek “besonder” goed “klaargekom” het. (Sy was met ‘n Fransman getroud en ek glo sy bly vandag in Parys, Frankryk.) Ook die skone Annetjie du Toit (kunstenaar en vroueblad) met wie ek ‘n romanse gehad het wat lelik skeefgeloop het; Antoinette Fourie algemene veslaggewer van Klerksdorp af, ‘n pragtige blondine op wie ek onmiddellik verlief geraak het. Ons is toe later getroud en was seker so sewe jaar saam. Ons egskeiding was nog een van my vele “grootste foute van my lewe”. 

Ek onthou ook vir Ona Wolfaart, bibliotekaris en almal se vriend; Herman ‘Stoom’ Snyman, die nuusredakteur; en natuurlik Harald Pakendorf, die jongste koerantredakteur in die land. Om die waarheid te sê, die hele Oggendblad-redaksie se gemiddelde ouderdom was iets soos 25 en Harald op seker so 30 was ‘oud’. Wonderlike dae.
 
"Die Hoekie"
Hoepel Scheepers was die motorredakteur ná Willie Nel; Louis Roux van Stellenbosch af, wat meesal uit sy “kantoor” in “Die Hoekie” (die ou Western Hotel, nou die Barrel Inn) oorkant die slagplaas se kroeg gewerk het; Louis Smit en Paul Boekooi, die kunsredaksie; (daar’s ‘n Paul Boekooi wat steeds in Die Burger oor kuns skryf en sekerlik sy seun, Frans Boekooi wat ‘n wonderlike kunstenaar in Port Elizabeth was. Hulle het nou ‘n kunsgalery op Nieu-Bethesda – dit kan net dieselfde mense wees).

Voorts onthou ek karakters soos Arthur Barlow, wat disleksies was. Ons subs het gereeld sy ou swart tikmasjien se sleutels omgeruil in ‘n poging om hom te probeer help. Maar als verniet. Hy was egter ‘n geesdriftige en kranige verslaggewer.

Daar was Etienne Kriel, Gerhard Kleijn, Kobus Blignaut, laasgenoemde jonk oorlede, almal mense wat ek met groot warmte in my nostalgiese hart onthou (ek was so jammer om hier bo te lees dat Etienne afgesterwe het). Ek onthou ook vir Frans Esterhuyse, die spotprenttekenaar, en baie ander voor my geestesoog, maar die name ontwyk my.

MGB Roadster
In 1977 is ek ‘n jaar lank weg om verder te swot en in 1978 het Herman my gelukkig teruggevat. Natuurlik omtrent op dieselfde patetiese salaris as voorheen, maar darem. Destyds het van ons subs ná middernag, as die koerant afgehandel is, vir ekstra geld (R10 ‘n aand!) met ons eie motors en eie petrol (ek in my blou MGB Roadster) na Doornfontein deurgejaag om Die Transvaler te gaan steensub. Dan is ons so drie-, vieruur soggens terug Pretoria toe, om tot elfuur te slaap, deur Unisa te swot en teen 14:00 terug op kantoor te wees.

In alle geval, ek het later as motor- en motorfietsgeesdriftige oor veral motorfietsrenne begin verslag doen. Een aand in 1979 kry ek in die subkantoor ‘n oproep van Piet Wapenaar. Hy wou weet of ek nie vir hom ‘n Afrikaanse motorfietstydskrif wou begin nie. Dit was ‘n maklike besluit aangesien hy my meer as dubbel my salaris aangebied het. Ek het Superfiets begin Dit was so suksesvol dat ek baie gou Bike & Track bygevoeg het. Ek het ook begin om deel te neem aan motorfietsrenne en betreklik goed gevaar. Toe die bodem omstreeks 1983 uit die mark vir luuksegoedere geval het weens kortsigtige verhoogde dubbele belasting ook op motorfietse, het die onderneming in duie gestort. Piet Wapenaar het homself geskiet en weens die groot skuld aan die Perskordrukkery, moes Perskor noodgedwonge die tydskrifte oorneem. Ek het met ‘n redaksie van so 14 lede as redakteur aangebly en Perskor het vir ons kantore ingerig in Hoofstadpers se gebou.

Die AutoPavilio in Uitenhage
Die motorfietsmark se bloeityd was verby en teen ongeveer 1985 moes ons die tydskrifte sluit. Gelukkig kon ek die motorredakteurspos by Hoofstad kry. Die nuusredakteur was Dirk van der Walt (ook al oorlede). Hy was ‘n groot vriend van Eric Ströh. Lekker tye. In 1989 het Volkswagen SA my ‘n pos aangebied as mediaskakelman en ek het na Port Elizabeth verhuis, waar ek oor ‘n maand ná 24 jaar aftree. Ek het intussen in 2004 ‘n moderne motormuseum – AutoPavilion – help oprig en bestuur dit steeds.

Ons bly langs die see in die Baai – ek en my vrou Shirley, sy is 16 jaar jonger as ek en ‘n doktor in Wiskunde aan die Nelson Mandela Metropolitan University. Ons het ‘n pragtige dogtertjie, Tammy, wat nou tien is – so vriendelik soos ek en so slim soos haar ma.

Nou weet julle darem wat van my ook geword het. (Ek is ook op Facebook – so kom loer gerus daar in.)