Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

1.2.13

André sorg vir apopleksie en druipsterte

PEET VAN STADEN was 14 jaar lank aan Die Vaderland, Die Transvaler en Rapport verbonde, by die laaste twee publikasies as sportredakteur. Daarna het hy as nuusskrywer by die SABC TV begin, later bulletinredakteur geword en uiteindelik uitvoerende regisseur. Onder sy innoverende en dinamiese leiding het die Afrikaanse TV-nuusuitsending op SABC2 tot die grootste kykertal naas die Zulu/Xhosa nuusprogram gegroei. ‘n Tweede Afrikaanse
nuusbulletin het a.g.v. sy inisiatief op SABC3 gevolg. Hy was voorsitter van die Randse Sportskrywersvereniging en het onder meer die toekenning as sportskrywer van die jaar ontvang. Die ATKV het hom vir die bevordering van Afrikaans vereer.

------------

André Pienaar
Peet skryf: Ek en André Pienaar broei op 'n dag in 1976 by Die Transvaler 'n idee vir 'n storie uit wat die regering apopleksie gegee en die parmantige sokkermense se sterte laat druip het. Eintlik wil die staaltjie die geesdrif nateken van 'n joernalissie wat uit die bloute skryfkans kry, maar in dieselfde asem wys dit hoe naïef ons almal was, veral die wit politiek destyds.

André is seker maar enkele maande tevore saam met ander beginnerjoernaliste uit die (oom Hermie Hendriks se?) koekiedrukker geskud toe ek hom by die sakeredaksie erf ná my geneul oor ’n sportsub. Ek wou ’n jongetjie nie vonnis tot lewenslank net sub nie. Gevolglik het ons ooreengekom dat hy tussenin ’n bietjie oor kleiner sportsoorte sou skryf. Sokker was een daarvan.

’n Wedstryd is beplan waarmee ’n Suid-Afrikaanse span uit sy internasionale isolasie sou breek. Ek meen dit was teen Zimbabwe/Rhodesië. Suid-Afrika sou nie net ’n wit span kies nie, maar iets soos die Suid-Afrikaanse Vyftiental wat die vorige jaar teen die Franse rugby gespeel het. Al was Suid-Afrika dus al vir mylpaalgeleenthede verby die stadium van suiwer wit spanne, was daar geen sprake dat gemengde spanne hom op formele toetsvlak verteenwoordig nie. Daar het buitendien geen kleure vir sulke spanne bestaan nie: Springbokkleure was net vir wit spanne.

Die tergendste vraag was dus in watter kleure die span sou speel – iets neutraal soos die wit truie, met as embleem’n XV op ’n rugbybal, soos Morné du Plessis-hulle die vorige jaar, of iets waagmoedigers? Waarop ek André met inspirasie byloop toe die sokkermense nie wou sê watter truie hulle beplan nie: “Jong, dié ouens is net dwars genoeg met die regering om iets astrants te probeer. Sweerlik beplan hulle Springbokkleure. Bel die Transvaalse Rugbyunie en vind uit watter fabrieke sulke truie kan vervaardig. Praat met die fabriek en gaan kry ’n foto van die trui.”

Ek dink nie ons het die foto gekry nie, maar ek onthou André se gesig toe hy kom bevestig het dat dit Springbokkleure is. Sy lyftaal het uitgestraal wat ’n snelbouler by geleentheid in ’n sosiale krieketwedstryd vir Wim van der Berg van Oggendblad gesê het toe hy voel hoe lekker dit is om sesse te slaan: “Dié is lekkerder as meisies.”

Piet Koornhof
Die koerant was kwalik op die sypaadjie toe Piet Koornhof sewe stelle stuipe kry oor die vermetelheid van die sokkermense om só met ’n nasionale (wit) simbool om te gaan. Hulle het nederig om verskoning gevra en inderhaas nuwe truie laat maak.

Maar ek as die sportredakteur is verplig om ’n dag of wat later met die minister ’n onderhoud te gaan voer wat die Nasionale Party se sportbeleid “in perspektief” sou stel.
Vir my was dit nogtans ’n vervloeks lekker storie binne die denke van destyds. Vir André was dit nog lekkerder – sy eerste groot storie.

Hy was ’n jong man wat Lekkerte ontdek het en sub was werk. Sy soektog na nóg was op paaie waar ek nie gekom het nie. Uiteindelik het albei ons s’n Uitsaaisentrum toe geloop. In die SAUK se TV-nuuskantoor was ons saam met Hennie Venter, Leendert Pieterse en Frikkie van der Walt ’n ruk op die bulletinredaksie. André was duidelik meer volwasse. Een van die redes was sy talent vir padfietswedrenne. Hy kon blykbaar op provinsiale vlak mededingend ry. Sommer vir oefen het hy dikwels oor ’n naweek weggeskiet na sy ma toe op Gerdau, suid van Lichtenburg.

Die A toon waar Gerdau is.
En hy het ’n hond gekry, ’n staffie, wat hy een middagtete vir my by sy blyplek in Mayfair gaan wys het. Daai meneer kon aan ’n stok bly vasbyt wat André bokant sy kop in die rondte geswaai het en repe rubber van ’n buiteband afskeur.

André het ook ’n slag gehad met televisie. Hy was een van die baanbrekers onder Afrikaanse nuusskrywers met die verpak van bydraes met ’n stemverslag. Sy stem was goed en het veral gepas by ligte bydraes met skouspelagtige beeldmateriaal. Sy sportagtergrond het verder daartoe bygedra dat hy na die sportredaksie verskuif is waar hy gedy het. Hy kon ook allerhande sêgoed en maniërismes namaak van die heilige koeie en volksvreemdes wat toe by die Uitsaai was.

Die sportredaksie is toe ongelukkig beheer deur een van daardie mense onder wie die meeste van ons êrens in ons loopbane werk. Ek onthou die Vrydagmiddag toe hy die nuus van die verskuiwing aan André kom oordra het. “Haai!” het hy van die een kant van die oopplankantoor af geskree, “van Maandag af werk jy vir my.”

Om die een of ander rede het ek geen later herinnering voor die nuus van sy ongeluk nie. Maar ek verkies die herinnering aan die volwasse André Pienaar wat altyd nog iets oorgehou het van die skraal vaal seun met die Romeinse neus wat nie kon glo hoe lekker is ’n groot storie nie.