Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

12.2.13

Wolhaarstorie gee Joe vlerke

JOE VAN BUUREN skryf: Dirk Benadé se storie oor die slenter met betrekking tot Theunie Steyn herinner my aan ‘n soortgelyke voorval waarby ek betrokke was.

Ek het in ‘n stadium waargeneem as nuusredakteur by Die Transvaler onderwyl daar na ‘n bevoegde persoon gesoek is. (Willie Buys is toe al derde verdieping toe bevorder, waarskynlik by Perskorburo.)

Andries Treurnicht
Die radio in die nuusredakteur se kantoor was op Radio Hoëveld ingeskakel en op ‘n dag lees Helen Naudé in ‘n nuusbulletin dat dr Andries Treurnicht op sy plaas in die Waterberg doodgeskiet is.

Ek vlieg uit my stoel en sover ek kan onthou, het ek nie grond gevat tot ek voor Hennie Kotzê se lessenaar gestaan het nie.

Daar het ek uitasem die storie oorvertel.

Hennie Kotzé, Gert Kotzé en die ander base het in die nuusredakteur se kantoor bymekaar gekom.

Ek was so opgewonde ek kon my beswaarlik beteuel, maar dit was duidelik dat die base maar swaar sluk aan die storie.

Hennie Kotzé het gesê sover hy weet besit dr Treurnicht glad nie eens ‘n plaas in die Waterberg nie.

Ná ‘n paar oproepe is daar gou vasgestel die storie is ‘n versinsel.

Daar is later verduidelik dat Helen Naudé, wat toe pas by Radio Hoëveld begin werk het, daardie dag by ‘n buite-uitsending betrokke was, moontlik vanaf die destydse Randse Paasskou, waar Hoëveld se gewone veiligheidsprosedures ontbreek het.

Vindingryke kwaadwilliges het ‘n manier gevind om die gewraakte berig tussen die ander berigte in die bulletin te versteek. Die betrokke berig se formaat het natuurlik verskil van dié van die egte berigte, maar weens haar gebrek aan ervaring het Helen dit maar gelees.

Sover my kennis strek, is die skuldiges nooit vasgetrek nie.