Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

21.2.13

‘Time, gentlemen!’

JEAN OOSTHUIZEN, gewese politieke redaksielid in die Perskorstal, skryf: Ek kan skaars glo dit is byna 28 jaar sedert een van die beste koerantredakteurs wat ek ooit geken het so roemloos in die pad gesteek is deur ’n direksie wat geen benul gehad het waaroor joernalistiek eintlik gaan nie. Ek praat van Harald Pakendorf.

By hom het ek geleer om respek te hê vir meerderes en vir mense in
gesagsposisies wat respek verdien. Maar veral ook vir “minderes” en randfigure.
By hom het ek ook geleer om vreesloos weerstand te bied teen mense in sulke posisies wat ander wil manipuleer en hul gesagsposisies misbruik teenoor diegene wat hulle as minderes ag. Dit maak nie saak of dit ’n president, predikant, musikant, minister, moderator of watter orator is nie.

Hy was ’n streng maar regverdige redakteur. Maak jy ’n blaps soos wat joernaliste soms ook maar doen, het hy jou deeglik voor stok gekry. Maar dit was tussen hom en sy redaksie. Na buite sou hy altyd pa staan vir dit wat in sy koerant verskyn het al was dit ook ten koste van homself.

Anders as baie hardebaardkoerantmanne van destyds het Harald nooit gevloek of geskel om jou te laat verstaan wat hy wil hê nie. Hy het jou net gesê en jy het gedoen. Omdat jy wóú! Ek onthou van ’n keer toe hy my opdrag gegee het om die destydse minister van justisie, Kobie Coetzee, een oggend knap ná sewe die oggend te bel vir kommentaar. Kobie gee toe vir my kommentaar en ek skryf my berig heel tevrede in Pretoria en stuur dit vir Harald in Johannesburg by Die Vaderland. Sommer gou bel Harald my terug en sê Kobie het gegorrel. Ek moet hom weer bel en sê ons soek ’n beter antwoord. Wat ek toe natuurlik doen, want ek was versigtiger vir Harald as vir Kobie.

Die uiteinde van die saak is dat Kobie toe ’n baie beter antwoord gee en ek ’n baie beter berig kon skryf.
’n Week of wat later bel Kobie se private sekretaris my en sê die minister wil graag alleen saam met my gaan eet by die Burgerspark hotel in Pretoria. Aan tafel vis Kobie by my uit hoe dink ek en mense soos Harald sal die volk reageer as Nelson Mandela vrygelaat word. Eers baie jare later het ek besef hy was besig om die water te toets en het al lankal in die geheim die moontlikheid van Mandela se vrylating as ’n moontlikheid oorweeg. Vir die gewone man was so iets nog ondenkbaar.

Harald stuur vandeesweek vir my ‘n dokument wat die drie oorblywende Perskor-siele in die Parlement se persgalery vir hom gestuur het die dag toe hy ontslaan is. Hy het daarop afgekom toe hy sy ou dokumente uitsorteer.

Die dag ná die dokument aan hom gestuur is, het Harald spesiaal van Johannesburg afgevlieg Kaap toe om met Gerhard Burger, Frikkie Odendaal en my te gesels oor wat gebeur het. Ons het die aand by Sybelle Albrecht-hulle (Liza, die gewese redakteur van Rapport, se ouers) gaan braai.

Die rede vir Harald se weggaan is ’n skande in die Afrikaanse joernalistiek en iets wat nog behoorlik geboekstaaf moet word.

Die aand by die Albrechts het ons vir oulaas ’n mosie van roubeklag ingestel op die redakteurskap van Die Vaderland en ’n rondte geskink. Toe die voorsitter “time, gentlemen” skreeu, het die vergadering verdaag.
Dit was die einde van ’n era. Die Afrikaanse joernalistiek was armer. Baie armer. Daardie dag het die joernalistiek ’n “gentleman” verloor.