Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

8.2.13

Steeds daardie bromponie

GERHARD KLEIJN skryf: Ek lees nou knap Peet van Staden se vertelling oor André Pienaar en toe skop die onthou-ding in.

Toe André op ‘n dag by Die Tranvaler se redaksiekantoor in Aucland Park inwals, was ek en ‘n paar ander penkoppe soos Joe van Buuren, Phillip Deetlefs en Johann van Loggerenberg darem al manne met etlike maande se ervaring.

André se geesdrif oor sy “jop” by die koerant was iets om te beleef. Hy het ons ‘ervare’ manne met die vrae oor alles en almal gepeper. Behoorlik aan ons lippe gehang, het hy. Telkens as iemand hom iets vertel het, het hy gereageer met: “Jissie, nè!” Duidelik vir dié seun van Coligny se wêreld, was die werk by ‘n stadskoerant ‘n droom wat bewaarheid is.

Illustrasie
Nou het André vir hom as sy heel eerste ryding ‘n “skoeterbaaik” aangeskaf. Ek wil dink dat dit een van daai rondegat Vespas of iets dergliks was. En soos die ongeluk dit wou hê, gebeur dit toe dat hy en sy “skoeterbaaik” in Johannesburg se druk verkeer in ‘n hengse botsing betrokke was.

André het in daardie stadium, soos baie beginners van destyds, vullers in die sportkantoor vertaal. Die luukse van ‘n eie telefoon was hom nie beskore nie. Só gebeur dit dat hy my op die dag van, of ná die ongeluk kom vra of hy my telefoon kan gebruik. Hy wil die versekering bel oor sy Vespa. Hy neem plaas op die punt van my lessenaartjie en hy bel.

Engels was in die Wes-Transvaal nie juis groot nie en soos die ongeluk dit weer wou hê, praat die klerk aan die ander kant Engels. Dit kom ek agter toe André sy Afrikaanse aanhef oor die ongeluk en die versekeringseis met ‘n ‘o, my bliksem’ onderbreek. En ek luister hoe hy sy bes probeer om die feite van die “krêsh” in die rooitaal oor te dra.

Die klerk moes hom gevra het na die omvang van die skade, want André roep skielik vervaard uit: “Dêmiets!? No, man. It not dêmiets. It wholly f@#$d up!’