Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

21.12.12

Die wel en wee van ‘n unieke internetproduk

K’rant gaan van vandag af ook vakansie hou. 

Ons heropen op 2 Januarie 2013. 

Seënwense

K’rant gaan van vandag af ook vakansie hou. Ons heropen op 2 Januarie 2013. Vergun ons dan sommer ook dié geleentheid om almal ‘n geseënde Kersfees en voorspoedige nuwe jaar toe te wens. Ons bede is dat almal ongedeerd en veilig volgende jaar se K’rant in oënskou sal kan neem.

Alvorens ons gaan uitspan, gee ons ’n oorsig van wat K’rant in die eerste agt maande van sy bestaan ervaar en bereik het. Vir dié wat wonder: hoog gewaardeerde kollega en medestigterslid Andries Botha, was met vakansie toe dié stuk gskryf is.

Piet Ebersöhn
PIET EBERSÖHN, aanstigter/stigterslid van K’rant, skryf: Vertel iets oor die ontstaan van K’rant, het Willie Buys laat weet toe ’n jaareind-geskrif vir K’rant met die redaksie se gereelde e-pos-“vergaderings” op die nuuslys beland. Goed dan, só het dit verloop.

Lank, lank gelede in 2004 het Peet Simonis manalleen K’rant as ’n e-pos-nuusbrief die lig laat sien. ’n Klompie puik uitgawes het verskyn en goeie kommentaar en lewendige debat uitgelok. Dit het egter te veel tyd geverg en Peet het vrywilligers gesoek om by hom oor te neem.

Geen hande het opgegaan nie en Peet het mettertyd die publikasie daarvan gestaak.
Op 2011 se reünie het die herlewing van K’rant in ’n gesprek tussen Hans Lombard, Peet Simonis, Andries Botha en ek self ter sprake gekom. K’rant moet herleef, was die eenparige mening, maar wie sal die goeie stryd stry?

Peet Simonis
Drie senior vingers het na my gewys.
Hans Lombard

Ek het bly uitstel, maar net voor die afstel, het K’rant in Mei 2012 as e-pos-nuusbrief herleef.

Oudkollegas het opnuut groot geesdrif daarvoor laat blyk en dit was nie moeilik om Willie Buys om te praat om as mede-redakteur sy lot by K’rant in te werp nie.

Met die verskyning van die tweede uitgawe het Japie Bosch die briljante voorstel gedoen om K’rant in ’n webjoernaal te omskep. Hy had ervaring van sulke publikasies en was bereid om as joernaalmeester op te tree.

Andries Botha
Stella Niemand
Volgende aan die hoek was Andries Botha, wat ingestem het om K’rant se vierde  mede-redakteur te word, en die jongste toevoeging tot die redaksie is Stella Niemand, wat op versoek die ondankbare taak van subredakteur opgeneem het, nadat alte veel taalfoute begin deurglip het.

Ons kan ook nie ons dank nalaat aan Japie se seun Zander wat pro amico as K’rant se regsadviseur optree nie.

Dan is daar bykans 70 bydraers van buite die redaksie wat reeds die pen vir K’rant opgeneem het, met Philip Deetlefs, Joe van Buuren en Suzelle Fourie die vrugbaarste onder hulle.

Philip het daar ver uit Windhoek uit ook al gehelp om ’n paar ander mense aan die skryf te kry. As daar nog lesers is wat op dié wyse wil help, sal die redaksie dit met ope arms ontvang.

Benewens bogenoemde is daar tientalle oudkollegas wat geesdriftig (soms darem ook met ’n bietjie aansporing) bydraes vir K’rant belowe het, maar nog nie daarby uitgekom het nie. Ons hoop dis bo-aan julle lys van nuwejaarsvoornemens.

Dit is hierdie grootse spanpoging en die oorskakeling van ’n nuusbrief na ’n webjoernaal wat hopelik dié keer K’rant se voortbestaan sal help verseker.

WILLIE BUYS skryf: Dit het uit die bloute gekom en ek het in my somtyds vervelige niksdoendae van uitgetredenheid hier aan die Natalse Suidkus waartydens kommunikasie met die "buitewêreld" maar bra beperk is, g’n stuk van niks geweet nie oor hoe dramatiese/lekker my ledige oomblikke die komende maande volgepak sou word deur dit te beoefen waaraan ek my hele lewe en loopbaan gewy het.

Dit het afgeskop met kollega Piet Ebersöhn se aankondiging dat hy per instruksie van die Reüniekomitee wat die jaarlikse herenigingsbyeenkoms van oud-Perskoriane reël, ‘n vorige nuusbrief/koerant – destyds onder die bekwame leiding van die die deurwinterde joernalis Peet Simonis, wat dit ongelukkig moes laat vaar weens die veeleisendheid van dié liefdestaak – gaan laat herleef.

Op stuk van sake het K’rant spontaan as ’n unieke en volwaardige internetkoerant VIR oudPerskoriane DEUR oud-Perskoriane ontstaan. Maklik was dit nie en somtyds is dit dan ook ’n ondankbare soort werk.
’n Wonderwerkie in die kleine was vir my egter die spontaneïteit waarmee ons met aanbiedings van hulp oorval is

Ons as redaksie werk op die konsensusmodel met die uitgangspunt dat K’rant NIE in ’n platform mag ontaard vir gegriefdes wat persoonlike byltjies te slyp het nie. Somtyds moes ons bitter besluite neem na uitgerekte onderlinge debattering, maar in die geheel is dié taak ’n liefdesdiens wat aan ons almal groot genot verskaf.

So is K’rant steentjie vir steentjie gebou tot wat ons glo ’n geslypte produk is waarop almal – ook die medewerkers en lesers – uiters trots kan wees. Ons het soveel geloof in ons produk dat ons verdere ambisieuse planne met hom/haar in die mou voer – maar daaroor hoop ons om in die nuwe jaar meer te kan vertel. Hou ons gerus dop.

Hoogtepunte? Benewens die stigting van dié forum ongetwyfeld die wêreldwye “scoop" van kollega Andries Botha wat insae gehad het in die lief en (pynlike) leed van dr. Willem de Klerk se persoonlike opruimingsvertellings van sy jarelange vernietigende stryd met die persbaas Marius Visser Jooste. De Klerk was ongetwyfeld ‘n voorlopende denker/filosoof wat hom die argwaan van talle politici op die hals gehaal het – en hy het ‘n baie hoë prys daarvoor betaal.

Daar is nog talle ander hoogtepunte in K’rant se bestaan soos die befaamde koerantfotograaf, Bernard Jordaan, se foto’s en artikels uit die hart van die internasionale skoonheidswêreld. Hy het naamlik verskeie internasionale mooi meisies al voor sy lens gehad en dit het ons K’rant opgekikker.

Suzelle Fourie se vertellings oor haar wedervaringe as “foreign expert” in veraf landelike China was nog ’n treffer wat talle komplimente ontlok het.

So is daar nog talle stories waaroor baie gunstige kommentaar ontvang is. Hierdie is maar enkele hoogtepunte wat uitgelig is, maar ons hier by K’rant kan die versekering gee dat elke bydrae met groot waardering en respek ontvang en behandel word.

Die grootste bewys dat ons nie met tydverkwisting besig is nie, is egter die groei in lesergetalle. (Lees en sien die ontledings en grafiek van joernaalmeester Japie Bosch hieronder.) ’n Groot teleurstelling vir ons is egter dat so min ander oudwerkers van Perskor, uit ander afdelings benewens die redaksionele komponente van die koerante, dieselfde geesdrif met bydraes aan die dag gelê het.

Waar is die mense van Republikeinse Pers (met publikasies soos Rooi Rose, Scope, Personality Farmer’s Weekly, SA Garden & Home en die fotoverhale), die gemeenskapskoerante, uitgewerye, drukkerye, advertensiewewerwing, verspreiding, bemarking, administrasie en al die ander afdelings en filiale?

Gaan ons dit kan regstel aanstaande jaar? Dit bly een van ons groot doelwitte.

Nog ‘n raaisel: Waarom maak oud-kollegas wat ’n eie inkomste genereer so min gebruik van K’rant se gratis advertensiegerief? Klik geus HIER om die vereistes te sien en laat kom die advertensies!

JAPIE BOSCH skryf: Om K’rant uit te gee, is soos om enige ander koerant uit te gee, met ’n paar verskille natuurlik:

• Dis darem nie ’n hele koerant elke dag nie, maar die vier redakteurs bedink en lê elke dag stories aan. Oud-kollegas word opgespoor. Versoeke word gerig. Foto’s en illustrasies word gesoek. Stories word ge-sub. E-posse vlieg tussen die redakteurs.
• Ons jaag nie sirkulasie na nie, want ons lesers is uitsoekmense – onse mense en
• Les bes: ons het nie swak stories nie. Elke storie is ’n juweel wat ons terugneem na ’n tydperk in die joernalistiek wat verby is. Boonop word ou vriendskappe dikwels hernu.

K’rant het op 7 Mei 2012 as ’n webjoernaal sy eerste storie geplaas, geskryf deur Philip Deetlefs. In die eerste maand al het 50 stories verskyn. Die joernaal was van die begin af ’n sukses met ’n leserstal wat groei. Tot dusver het ons 308 stories geplaas.

Soos die tyd aangestap het, het ons aanpassings gemaak. Die belangrikste was dat ons elke dag minstens een storie plaas, uitgesonderd Saterdae en Sondae.

Van 1 Junie 2012 af het ons statistiek begin hou. Sedertdien het K’rant meer as 7 900 (in rekenaartaal "unieke besoekers" besoekers gehad. Dit is ’n gemiddeld van 38 per dag, maar onthou Saterdae en Sondae is daar heelwat minders lesers. As net weekdae in ag geneem word, is die gemiddeld 55 besoekers per dag. ’n Besoeker word net een keer in ’n tydperk van 24-uur (middernag tot middernag) getel. Die meeste besoekers op een dag was 154.

Al die besoekers het altesame meer as 26 360 berigte gelees.

Dié grafiek toon die besoekersgetalle van K’rant van 1 Junie 2012 tot gister. Die dalings elke nou en dan is die naweke.

K’rant het by die 60 intekenare. Dit beteken hulle word elke dag per epos laat weet daar is ’n nuwe storie. Daar is talle ander wat K’rant as ‘n “gunsteling” op hul rekenaars hou en gereeld kom lees. Uiteraard is die meeste besoekers oud-kollegas, maar daar is toenemend besoekers wat ons “vriende” kan noem. Dit sluit in oudkollegas se vriende en/of familie.

Suzelle Fourie
Gerhard Burger
K’rant was baie goed ontvang. Onlangs is ’n (berig hieroor geplaas. Klik HIER om dit te lees. ’n Raakvat-opsomming het van Suzelle Fourie gekom. Sy het geskryf: “Nee kyk, hierdie ‘Krant-besigheid kan verslawend wees. Julle is nou al derde op my lysie van vroegoggend-leesstof op die internet – dis nou ná my e-pos en die weervoorspelling”.

Gerhard Burger het geskryf: “Moerland! Dit is voortreflik. Uitpuntend, soos Gert Kotzé sou sê.”

Soos ons meer oud-kollegas opspoor en almal se geheue en skryflus al meer deur K’rant geprikkel word, voorsien ons om in 2013 voort te gaan soos nou.

Maak dit ’n nuwejaarsvoorneme om K’rant meer voortreflik en verslawend te maak.