Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

22.2.13

Peet (en prof Chris) en die Italiaanse prikkelpoppe

Sophia Loren
Gina Lollobrigida
VOORAF: Joernalis PEET SIMONIS wat destyds vir Dagbreek en Sondagnuus in Johannesburg geskryf het, kry die droom-opdrag om die storie oor die eerste hartoorplanting vir sy koerant te dek. In twee vorige bydraes wat hy op versoek van K’rant geskryf het, ontvou die dramatiese gebeure rondom die prestasie van die Kaapse hartchirurg, Chris Barnard. 

Peet raak bevriend met prof Chris en gaan saam met hom op sy eerste sensasionele besoek aan Europa. Chris bring Suid-Afrika sterk in die kalklig met sy goeie werk as ambassadeur en baanbreker-snydokter, maar dis veral sy wedervaringe met vroue wat destyds sterk aandag getrek het. 

In hierdie aflewering vertel Peet van Chris se besoek aan Sophia Loren en hoe ‘n bos proteas hom wat Peet is tot by Gina Lollobrigida se drumpel gebring het. Een van die lekkerste stories wat Chris Barnard se eerste sensasionele besoek aan Europa opgelewer het, was sy kuiertjie by Sophia Loren en dié se man Carlo Ponte by hul landgoed net buite Rome.
PEET SKRYF:  Ek en Louis Louw van Die Burger het teen dié tyd besef ons moet saamwerk teen die ander hordes joernaliste – een-een pogings was te moeilik en te duur.

’n Plan van Louis wat goeie vrugte afgewerp het, was dat ons ons met die aankoms in Rome aan Chris se gashere voorgestel het as “dottories” – nugter weet hoe om dit te spel, maar dis veronderstel om “dokters” (in Italiaans) te wees. Louis weet te vertel dat dit in Italië heeltemal wettig en selfs gebruiklik is dat iemand met ‘n universiteitsgraad homself mag voorstel as “dottori”.

Die inligtingsmense van daardie land het toe aangeneem ons is deel van Chris se geselskap en het gespring om Louis se versoek uit te voer dat hulle ons op die hoogte moet hou oor Chris se bewegings, omdat ons nie altyd by hom kan wees nie. Hy het ’n telefoonnommer gekry wat ons kon bel om inligting te kry.

So kom ons toe te hore dat ons beroemde professor op die laaste dag van sy besoek aan Italië by Sophia-hulle ’n draai sou maak. Ons het natuurlik gevoel ons MOET eenvoudig daar wees, maar ons het die wenk te laat gekry en daar was nie tyd om vas te stel waar presies die Ponti’s woon en hoe ons binne die mure van hulle landgoed, wat glo deur Italiaanse polisie bewaak word, sal kom nie.

Rome
By die lughawe-eindpuntgebou in Rome het ons ons geld getel en besef ons het baie min oor. Ons navrae by taximanne het op ’n nul uitgeloop – hulle verstaan nie ’n woord Engels nie. Louis het later handdoek ingegooi, maar ek het gevoel ek moet eenvoudig aanhou. Buite die gebou was maklik dertig taxi’s en ek het een na die ander bygeloop om te hoor wie weet waar Sophia Loren woon. Ná omtrent ’n halfuur se vrugtelose gesukkel, kry ek toe sowaar een wat ’n bietjie Engels ken en weet waar die plek is.

Ons het uitgewerk ons het net genoeg geld vir die rit van omtrent twaalf km en van daar af lughawe toe. By die luuksevilla aangekom, was dit toe soos ons verwag het – militêre polisie, motorfietse, honde, masjiengewere – en bedremmelde koerantmanne, buite die indrukwekkende staal-ingangspoort wat toegang geweier is.

Ons het nie eers uitgeklim nie. Toe ’n soldaat deur die venster loer, het ons ewe belangrik gesê dis dottori Simonis en dottori Louw – ons is deel van Chris se “span”. ’n Paar woorde oor die walkie talkie en tot ons verbasing swaai die hekke oop – ons mag ingaan!

Carlo Ponti en Sophia Loren
Die huis is geen dubbelverdieping en ook nie ’n kasteel nie. Eenvoudig, maar smaakvol het dit by die beboste omgewing ingepas. By die vooringang is ’n indrukwekkende, ruim ontvangskamer en daar het hulle gesit. Chris, Carlo, nog een of twee wat ons nie geken het nie en, natuurlik, Sophia in al haar glorie.

Sy lyk in lewende lywe selfs mooier as in die flieks. En haar byna ewe mooi suster was ook daar. Haar naam het ek vergeet, maar nie die soen wat sy my aan die einde van die kort kuier gegee het nie. Niks snaaks daaraan nie – die Italianers is eenvoudig sulke spontane, hartlike mense.

Nee, ek grap maar. Ek het laat glip dat ek graag ’n storie sou wou skryf oor hoe dit voel om Sophia te soen. Almal het gelag behalwe die suster – en ongelukkig kry ek toe die soen van haar en nie van Sophia nie. Ook nie veel meer as ’n vinnige piksoentjie nie, nie eintlik iets om oor (huis toe) te skryf nie, laat staan nog ’n storie.

Daar is oor ditjies en datjies gepraat en gelag – niks spesifieks nie en dit het net ’n rukkie geduur, toe staan Carlo op en bied aan om vir ons hul kunssaal te gaan wys. Almal is saam. Jy stap met ’n lang gang af na die kunssaal dieper die tuin in. Daar was beelde en skilderye van miljoene der miljoene werd. Jammer ons was so haastig – Chris en ons moes dieselfde vlug Frankryk toe haal.

Tydens die kuiertjie het nóg ek, nóg Louis, veel gepraat. Hierdie was nie ’n personderhoud nie – ons was maar net mede-dottori’s van prof Chris. Jy moes maar vir die regte oomblik wag. Ek het darem vir Sophia gevra wat dink sy van onse professor. Sy het lekker gelag en reg afgelei ek praat van sy voorkoms. Sy het iets begin sê toe die voor-op-die-wa suster haar in die rede val met: “Hy’s wonderlik; lyk nogal na Cary Grant.” Nog meer gelag, Chris ook, maar tog effens verleë.

Jammer ek het nie meer van daardie foto’s nie. Ek onthou ek het maar min geneem, want my film was op.
Vandag is fotoversending so maklik, selfs met selfone, maar destyds was dit ’n nagmerrie. Landlynmasjiene is gebruik en selfs dit was ’n baie groot deurbraak in fotoversending. Die alternatief was lugpos.

Om die negatiewe te ontwikkel, moes ek wag vir die donkerte, want die negatiewe mag nie lig kry nie. Ligte af, het ek met die film en ontwikkelingsdrom in die klerekas in my hotelkkamer geklim, die negatiewe in stikdonker in die drom gelaai. Die res was darem in lig, want die drom was ligdig. Die chemikalie wat ek saam gepiekel het (Rodinal), is met water gemeng en bygevoeg. Die film is ’n paar minute lank in die drom geroteer. Toe is die ontwikkelaar uitgegooi en die film (drom nog steeds toe) deur ’n spesiale gleuf met water bedek en vir ’n minuut of so weer afgespoel. Daarna is fikseersout (fixer) wat in water opgelos is, bygevoeg. Ná vyf minute of so is dit uitgegooi en die film behoorlik met water afgespoel. Daarna eers is die drom oopgemaak.

Die negatiewe is met ’n wasgoedpen iewers opgehang en wanneer dit droog was, moes ek dit by die naaste kantoor van UPI (United Press International) kry, met wie die pers ’n ooreenkoms gehad het. Hulle het dan die een of twee bestes in hulle donkerkamer afgedruk en dit per landlyn na Suid-Afrika gestuur.

Ek onthou in Rome was die negatiewe swak – ek het later agtergekom dis oor hulle kraanwater erg besoedel is – olierigheid het die negatiewe vaal en sonder kontras gelaat.

Lede van die span wat die eerste hartoorplanting gedoen het.
Dr Botha is tweede van links. Peet het die foto geneem.
Maar terug na Chris se storie . Van Italië af is hy Frankryk toe en ons natuurlik saam. Daar het die “dottori”-truuk nie so goed gewerk nie. Ons was gelukkig om ’n wenk te kry die aand toe daar ’n “gewolt” by die Crazy Horse Saloon was. Chris-hulle was teen die tyd al dik vir die paparazzi en daar het ’n struweling uitgebreek toe hulle die plek verlaat. Dr MC Botha (hy was ’n wêreldbekende immunoloog en lid van die hartspan wat saam in Europa was) het Chris probeer beskerm en met dié’n fotograaf gestamp. Die fotograaf het teruggestamp – op die oog. Dr Botha was teen die tyd al dik vir die spul en is voortydig met daardie blou-oog terug Suid-Afrika toe.

Dit was ’n Vrydagnag toe ek en Louis ons stories ná middernag deur geteleks het Suid-Afrika toe – myne vir die Sondagblad, Dagbreek en Sondagnuus, syne vir Die Burger. Ja, e-pos was daar natuurlik nie, maar in groot stede was poskantore deurnag oop en van daar af moes ons self ons berigte per teleks na Suid-Afrika stuur.

Ek sal nooit vergeet, toe ons lank ná middernag moeg, maar tevrede teruggestap het na ons klein hotelletjie. Dit was mistig langs die Seine-rivier en vanuit klein kroegies het ons sang en vrolike musiek gehoor. Ons is by een in waar die rook dikker was as die mis. Dit het niemand gekwel nie – rook was toe nog nie juis as ’n kankeroorsaak beskou nie.

In die kroegie het twee ouens klassieke kitaar gespeel. Hulle was absolute meesters en selfs dié tyd van die nag was daar steeds waardering vir hul talent, maar hulle was skaars hoorbaar. Daar was ’n roesemoes van vrolike stemme en gelag. Dinge het nog uitbundiger geraak toe die kroegman een van die kelnerinne oor sy skouer tel, haar rok opskuif en haar speels op die boud klap. In Suid-Afrika was so iets in daardie dae ongehoord. Hier was dit eenvoudig ’n groot grap en die meisie kon nog bloos ook. Onder protes is sy weer neergesit en het ongesteurd aangegaan om die vrolike drinkers te bedien. Niemand was lelik dronk nie. Hier soort kroeg is deel van Parrys se kultuur, hoor ons toe.

Chris se eerste Europese besoek het so tien dae geduur en toe is ons terug Suid-Afrika toe. Daar was ’n groot gedrang van koerantmanne op die Lughawe Jan Smuts. Die stories wat ons en ander nuusmedia deurgestuur het Suid-Afrika toe, het die Chris Barnard-histerie nog ’n paar grade opgejaag. Chris moes allerhande lastige vrae oor sy Europese kuiertjie beantwoord. Hy het dit goed gedoen. Hy het darem nie bloot rondgerinkink nie – hy het opgetree voor talle uitgelese gehore en voor ander beroemde dokters en mediese instellings. Hy was onder meer ’n gas by die befaamde Max Planck-instituut – Europa se top- mediese navorsingsplek. Miljoene mense het met ander oë na Suid-Afrika begin kyk, danksy Chris se buitengewone, spontane ambassadeursrol.

Gina Lollobrigida
Chris het in Europa nie net vir Sophia Loren ontmoet nie, maar ook vir die warme Gina Lollobrigida. Daardie ontmoeting was skynbaar nie so kosjer soos die een met Sophia nie, want laasgenoemde se man was altyd by.

Gina se man, dr Milco Skofic, was seker uitstedig toe sy die professor leer ken het, want vrou Louwtjie het ’n minnebrief van haar in Chris se bagasie gekry. Volgens die skinderkoerante was dit die finale strooi wat hulle huwelik gekelder het.

In Suid-Afrika het ons Afrikaanse opposisie-koerant aangekondig dat hy eksklusiewe regte verkry het op die Lollobrigida-storie en hulle sou dit in ’n reeks artikels publiseer. Dit sou ’n taamlike nekslag wees vir ander koerante.

Daar is besluit dat ek dadelik Italië toe moet gaan om ’n onderhoud met Gina te probeer kry. Dit moes blitsig gebeur. My besware daarteen is in die wind geslaan.

By Burger-Broers in Fordsburg het ek die beste, mees modieuse pak klere van 100% suiwer nuutwol gekoop wat te kry was. Die pers sou hopelik help betaal. Ek het gesien hoe Chris Barnard in Italië aantrek en het ’n bladsy uit sy boekie geneem.

Daar was nie tyd om aansoek te doen vir n visum nie – “maak dat jy wegkom, meneer,” was Dirk Richard se bevel, en ek het geweet dis weer ’n idee van “bo” af – uit mnr Jooste se kantoor! En dit was ook so.
Met bitter min hoop op enige sukses, is ek hier weg met die mooi pak klere en ’n dik rol note. Ek kon nie by Burger-Broers die regte leergordel kry wat by die pak pas nie, maar het tydens die vorige besoek saam met Chris gesien dis oral op straathoeke in Rome te koop. Op ons lughawe het ek ’n groot bos van die mooiste proteas gesien en dit op die ingewing van die oomblik vir La Lollo gekoop – sommer ’n simpel idee, het ek later gedink.

In Rome aangekom, word ek toegang geweier oor ek nie ‘n visum het nie. Kon dit te wagte gewees het. Dit het mooipraat gekos ... en wraggies, die blomme het die knoop deurgehak.

Die hoofamptenaar by die doeane wou weet: “En vir wie is die blomme?”

Ek: “Vir Lollobrigida!”

Beampte: “Jy meen vir La Lollo?”

Ek: “Ja, ek moet ‘n onderhoud met haar voer.”

Dit het hom sag gemaak. Ek kon sien hy dink weer en toe daardie stout Italiaanse glimlag.

Illustrasie
“Wel, ons kan haar nie teleurstel nie, kan ons? Ek gaan vir jou ’n visum vir 48 uur gee, maar jy moet dit nie verbreek nie, anders is ek my werk kwyt!”

Ons het uitgewerk ek moet daardie Saterdagaand se vlug terug haal na Suid-Afrika, dan is ek binne die spertyd van 48 uur.

“Ek wag vir jou en wil hoor wat gebeur het!” was die streng vermaning.

Ek kon my ore nie glo nie en met ’n groot glimlag, die blomme en ’n broek wat wil afval, is ek Italië binne. Ek het weer plek gekry by die Flora-hotel in Rome waar ek ook gebly het destyds toe Chris Barnard daar was.

Dit was maklik om die regte leergordel te kry – en ’n taxi na La Lollo se herehuis. Maar daar het dit geïndig. Daar was natuurlik weer ’n hoë muur om die plek. En daar was geen antwoord toe ek die klokkie by die ingangspoort lui nie. Mense het my met beterweterige glimlagte aangestaar en hier en daar begrypend geknik. Hulle het gedink hulle weet presies wat die welgeklede heer met die mooi blomme daar kom soek!

Wat ’n verspotte gedagte om te dink enigiemand kan so ’n beroemde ikoon so in die hande kry –met die druk van ’n knoppie en ’n stem oor die interkom: “Hallo there, this is Pete Simonis from South Africa! Is Miss Lollo in?”

In die eerste plek sou die stem aan die anderkant nie ’n woord Engels verstaan nie en tweedens is die blote gedagte aan so iets so absurd dat hulle ’n vangwa sou stuur om my te kom wegvat groendakkies toe, as daar so ’n plek in Rome is, eerder as om my los te laat op hulle ikoon. Daardie dae was La Lollo in Italië byna net so gewild soos Sophia. Maar nou ja, dis naastenby hoe ons ingekom het by Sophia se plek, en dis seker wat Dirk Richard en die ander toe laat dink het ’n wonderwerk kan weer gebeur!

'n Italiaanse koerant (met die Oscar
Pistorius-storie heelbo).
Maar dit het nie, en ek is moeg, warm en vieserig terug hotel toe. Ek dink ek het die blomme vir die hotel gegee – ek kon dit nie verduur om langer daarna te kyk nie.

In my hotelkamer het ek plan B in aksie gestel – om die uitgewers van La Lollo se “boek”, Arnoldo Mondadori Editore van Milaan, te bel en minstens die nuusverklaring oor die boek te kry. Moeilik, maar nie onmoontlik nie.

Maar dit was nie die deurbraak nie.

Toe ek daardie Vrydag na ’n slegslaap-nag gaan vars lug skep, en ’n sterk koffietjie, sien ek oral is plakkate van La Lollo en Chris Barnard op. ’n Bekende Italiaanse tydskrif het blykbaar ook die regte op die storie gekry. Ek het al wat tydskrif en koerant gekoop met enigiets oor die “scoop”.

Italiaans kan ek nie lees nie, maar die foto’s het die storie vertel.

Ek het vir Dirk Visser, hoof van inligting by die SA ambassade in Rome gebel en gevra hy moet dit asseblief, lees en my in breë trekke vertel wat die Italiaans beduie. Ons het tydens Chris se eerste besoek aan die stad ontmoet en ek wis hy is Italiaans magtig.

En dis hoe ons Die Beeld toe met hul eie storie geklop het. Wel, nie heeltemal nie, maar ons het darem ’n stukkie van hulle donder gesteel. Ek het geskryf oor wat die Italiaanse media berig het oor die sogenaamde boek en die kastige verhouding tussen Chris en La Lollo. Sy sou glo vir Chris na sy hotel vergesel het met net haar hoëhakskoene en pelsjas aan.

Ek het nooit daardie boek gesien nie. Sover ek kon vasstel, het daar nooit so ’n boek verskyn nie – ek twyfel of dit ooit geskryf is.

En amper loop ek toe daardie Saterdagaand die vlug terug Suid-Afrika toe mis, want ek koop toe ’n mooi blink blikhorlosie op ’n straathoek – regte winskoop vir slegs omtrent R50 – ’n egte namaaksel. Daar’s toe niks verder te doen as om vir kwaadgeld rond te loop om tyd te verwyl nie.

Chris lyk moeg terwyl hy lede van die Duitse pers te woord staan.
Die foto is geneem tydens sy eerste besoek aan Europa.
Later het ek die hotel gaan betaal, my goedjies bymekaar gekry en ewe rustig ’n taxi lughawe toe gehaal. Die immigrasie-man het angstig op my gewag. Hy wou weet of ek La Lollo gekry het en hoekom ek laat is. Die vliegtuig wag al! Alles in een asem.

Ek wys hom my “nuwe” horlosie – ek’s heeltemal betyds!

En hy wys my sy horlosie – ek’s heeltemal laat!

Hy drafstap saam na die wagtende vliegtuig. Ek bly hom ’n antwoord skuldig oor Chris en La Lollo,
... want ek weet nie.