’n Vorige keer het ek geskryf oor die opwinding van die eerste hartoorplanting en die ongekende wêreldaandag wat die mediese prestasie tot gevolg gehad het. Ook hoe dit gekom het dat ek die storie vir Dagreek en
Sondagnuus gaan doen het en hoe amper-amper ek nie eers ‘n onderhoud met Chris kon kry nie! (Klik HIER om daardie berig te lees.)
Maar ek het, en die professor moes gehou het van my stories en hoe groot die koerant dit gebruik het, want hy het ’n aanbod van Afrikaanse Pers (voorganger van Perskor) aanvaar dat ek hom op sy komende (eerste) besoek aan Europa sou vergesel as helper en “sekretaris”.
Watter geweldige storie was daai besoek nie – opgewonde, verliefderige vroue in Italië wat hulle kindertjies vir Chris gebring het om aan te raak en wat klere en blomme in die straat voor hom gegooi het om op te loop! Menseverering soos jy jou dit nooit kan voorstel nie ... ook wonderlike mediese erkenning... en dan een en ander wat groot huismoles vir Chris sou veroorsaak.
Die sekretaris-plan was nie my eie nie – dis uitgedink in die restaurant op die dak van die ou Perskorgebou in Aucklandpark.
Dalk onthou ’n paar van julle nog daai restaurant. Die deur soontoe was in Dagbreek se gang net langs Chris Vermaak se kantoor. Van daar het jy oor die silwer geverfde betondak gestap tot by die pers se restaurant waar boeretannies gekook en jy vir ongeveer drie Rand ’n bord kos met poeding kon kry.
Marius Jooste |
Iemand tussen hulle het iets goed gesê oor die stories wat ek oor die hartoorplanting gedoen het en oom Marius het voorgestel of was dit beveel: “Jy moet saamgaan Europa toe met Chris ... as sy sekretaris. Die pers sal vir hom die aanbod maak... ” Ek sien nou nog Vossie se groot glimlag en Dirk Richard se half siniese een – wat gaan ek sê?
Ek het gedink dis die simpelste ding wat ek nog gehoor het, maar voor ek enigiets kon antwoord, het iemand sy stoel terug geskuif – die besluit was geneem, die ete verby. Hoe die grootbase dit reggekry het, weet ek nie, maar die aanbod het by Chris uitgekom en hy het dit aanvaar – nogal met dank. En so is dit toe op die voorblad van Dagbreek aangekondig.
Die vet was dadelik in die vuur in die Kaap. Die Burger het die geveg gelei om die plan te verongeluk. Hoekom het húlle nie daaraan gedink nie? Chris is tog immers húlle s’n daar onner inni Kaap? Hulle het ook geweet hierdie is sommer ’n slenter vir publisiteit van hul Transvaalse vyand.
Grootte Schuur-hospitaal |
Chris het toe verskoning gemaak by ons – “dankie, maar onmoontlik!”
Ek was verlig.
Daardie dae het die koerante nie sommer gewone verslaggewers soos ek oorsee gestuur nie – die eer en voorreg was gewoonlik net uitgesoekte lede van die sportredaksie beskore as die Bokke gaan toer het.
Maar op die 4e verdieping is besluit ek moet gaan – en ons sou dit vir eers nie weer aan die groot klok hang nie. Die ander koerante moes nie weet nie, netnou stuur hulle ook iemand saam!
My vliegkaartjie op SAL saam met Chris en dr Botha ( die lid van die hartspan belas met weefseltipering) is gekanselleer ... of herskryf en terselfdertyd is die storie geplant dat Dagbreek nie meer iemand met Chris saamstuur nie.
Wat toe gebeur het, was dat ek stil-stil op ’n vlug na Salisbury bespreek is. Daar moes ek wag vir Chris hulle se vlug en by hulle aansluit.
Toe die persmanne dus die nuusmaker-professor op Jan Smuts gaan afsien het -- alles wat hy gedoen het was destyds nuus en so ook sy vertrek buiteland toe -- het ek geskitter in my afwesigheid.
Daar is toe sowaar nie ’n enkele koerantman van Johannesburg af saam nie. Kan jy jou dit voorstel!
Op die lughawe in Rhodesië, het ek aangesluit by Chris-hulle se SAL-vlug Duitsland toe. Dit was ’n Woensdagnag en ek het uitgesien na heerlike “scoops” terwyl ek sonder vrees vir mededinging tot Vrydagaand of Saterdag oggend my storie kon regkry vir die naweek se Dagbreek.
’n Skaflike tyd na ons opgestyg het, is ek na die eersteklas-kajuit met my kamera. Ek neem ’n foto van Chris en dr Botha, gesels ’n wyle en toe ek klaarmaak om te loop, knik die prof vertroulik vir my en sê iets soos:
Prof Chris Baranrd |
’n Beter koerantman sou miskien agter die kap van die byl gekom het van daardie storie, maar ek wou nie regtig weet wat daar aan die gang was nie – daar sou genoeg ander stories op die toer wees, het ek besluit en dit was so.
Maar my reaksie op sy aanmerking was: “Professor, jy is nou so bekend – alles wat jy doen is nuus. As jy dinge wil aanvang waarvan die pers nie moet weet nie, beter jy dit baie goed geheim hou en sorg dat ek of ander joernaliste niks sien of agterkom nie... het jy al van die paparazzi-fotograwe in Europa gehoor... ?”
Dit het nie gelyk of Chris dit ernstig opneem nie.
Dit was ’n deurnagvlug en teen tienuur Donderdagoggend het ons op die Frankfurtse lughawe geland – my eerste kennismaking met Europa.
Ek het maar baie onseker en skrikkerig gevoel en was verbaas toe ons uit die vliegtuig klim en onder by die trap staan ’n hele skare mense – joernaliste en fotograwe en belangrike mense het ek later uitgevind. Daar was maklik ’n stuk of sewentig van hulle.
Ek het ’n foto of twee geneem, Chris uit die oog verloor en die volgende oomblik sien ek net daar trek hy in ’n blinkswart Merc. En dit was my laaste sien van die professor daardie dag en die volgende... tot my groot angs en frustrasie. Hoe dek mens so ’n besoek en hy is skoonveld?
Ek het besluit om na aan dr Botha te bly, want ek wis toe – as ek hom ook verloor, is dit behoorlik nag vir my.
Op die golf van Chris se beroemdheid, is ek en dr Botha nie eers deur immigrasie of die doeane nie. Duitse amptenare het ons sommer so langs die lughawegebou verby na wagtende motors geneem en toe na die Hotel Europa (Europäisher Hof) toe. Teen Donderdagmiddag het ek benoud begin word – waar’s die professor? Ek het gaan mooipraat met dr Botha. “Jong, gee my groot asseblief net ’n wenk – enige idee waar Chris is?”
Dr Botha het gehoor dat die TV-stasie wat vir Chris se Europa besoek betaal, hom weg het en gaan wegsteek vir die pers so lank hulle kan. Eers Vrydagmiddag het hy te hore gekom Chris is in Baden-Baden. Ek het gejuig... tot ek uitgevind het daar is drie Baden-Badens in Europa. Watter een? Botha het nie geweet nie.
Al Duits wat ek geken het, het ek op skool geleer en dit was ‘n hele rukkie gelede. Hoe kan jy nou rondbel om navraag te doen as jy nie eers Duits praat nie?
By die hotel in Frankfurt het iemand geraai dit moet Baden-Baden in Wes-Duitsland wees. Dis ’n bekende uithangplek van rykes en beroemdes.
Met my outydse tas en lang grys jas wat my pa my geleen het, is ek uit in die koue – stasie toe waar ek ’n kaartjie Baden-Baden toe gekoop het. Ek hoor nou nog die geklang-klang van die trems en ek ruik die koffiewalms van die straatkafeetjies naby die stasie. Daar staan die Duitsers sommer so en koffie drink in die verbygaan en natuurlik sluit jy by hulle aan. Daar was ook heerlike bockwurst en mostert mit brötchen. Selfde as ons hot dogs maar baie lekkerder.
Van Frankfurt (am Mainz) Baden-Baden toe met die trein, was ’n rit van omtrent drie uur.
Daardie Duitse treine is iets anders – beslis nie die destydse stadige ou stoomtreine van Suid-Afrika nie – nader aan ons Gautrein van vandag. Hulle ry teen ’n groot snelheid, wieg net so nou en dan so effens heen en weer en die kompartemente is luuksieus en verwarm, die sitbanke oorgetrek met rooi fluweelstof.
Buite het die pragtigste tonele ontvou – bergagtig en afwisselende groot dennewoude. Dis Heinz Konsalik se wêreld, het ek gedink en sou die rit baie geniet het, was dit nie dat ek maar heeltyd onrustig was nie. Wat as Chris nie daar is nie? More teen twaalfuur is my spertyd – daar gaan nie tyd wees vir ’n verdere soekery nie! Hierdie is my enigste kans!
Op die trein in my kompartement was ’n Duitse vrou wat bietjie Engels kon praat. Sy het my gehelp om ’n paar sinne Duits agtermekaar te kry vir die stasiemeester van Baden-Baden. Ek sou vir hom vra: “Watter hotel is die duurste en beste hier rond – die een waarheen prinse en konings sal gaan as hulle Baden-Baden toe kom?”
Hy het sonder aarseling die naam gegee en ek het ’n taxi soontoe geneem. Wat ’n indrukwekkende plek! Ek glo nie iemand van gewone stand het al ooit daar gebly nie. Ek kon beslis niemand beïndruk met my lang jas en ouderwetse reistas nie. Maar daardie naam kon deure oopmaak – ek het net gesê ek is saam met professor Barnard – is hy daar?
Ja, hy is, maar hy’s uit en hulle weet nie wanneer hy terugkeer nie. “In daardie geval beter ek maar oorbly,” het ek aangekondig en hulle het geen fout daarmee gevind nie.
So ’n kamer! Ek kon uitloop op die balkon en die tuin van Eden bewonder, ruisende waterstroompie en al.
Ek het tot elfuur se kant gewag, maar Chris was weg en het weggebly. So hier is ek nou vir die groot storie, maar eintlik kon ek maar net sowel by die huis gebly het. Daar sou ek minstens kon sien wat die nuusdienste oor Chris skryf! Voor ses die Saterdagoggend het ek Chris se kamer geskakel. Tot my onbeskryflikste verligting het hy self die foon geantwoord:
“Hemel Chris, waar was jy – wat het van jou geword?”
“Jong die TV mense was heeltyd met my besig, maar daar is moeilikheid – het jy die koerante vanoggend gesien?”
“Nee, nog nie, maar wat’s dit?”
“ Gaan kyk in die koerant!”
“OK Chris, maar bly net waar jy is!”
“Jy sal moet goumaak – ek is op pad Bonn toe vir ’n besoek aan die Suid-Afrikaanse ambassade – die ambassadeur se motor kan enige oomblik opdaag!”
Ek hardloop na die ontvangstoonbank en kry die Duitse koerante. Dankie hemel ek kan darem nog Duits op ’n manier lees al was skooldae lankal iets van die verlede. Ek kan dadelik sien waarom Chris ontsteld is – yslike banier opskrif van die beroemde dokter en gisteraand se dinge in ’n nagklub.
Daar is ’n foto waar Chris dans met ’n mooi vrou – sy linkerhand onder haar baadjie se rugkant.
Die berig sê sy is Uta Lefka en tussen die lyne kan mens gou agterkom sy is nou nie juis ’n Sondagskool-juffrou wat die pad net een aand effens byster geraak het nie. Die sousige brokkie is dat Chris baie komplimenterend oor haar en die aand se dinge geskryf het in die nagklub se gasteboek. Iets soos:
“Dis nie aldag dat ek die eer het om so ‘n intelligente vrou soos jy te ontmoet nie – dit was ‘n voorreg om jou van nader te leer ken... ?”
Hoeveel “nader”?
Dis die vraag waaroor die koerante nog heelwat te sê gehad het.
Ek was nog besig om te lees toe Chris bel:“Jong, jy moet die storie tog net uit die Suid-Afrikaanse koerante hou. As my vrou dit sien, skei sy my...”
“Chris daar is geen manier dat die storie nie in Suid-Afrika sal kom nie – ek kan jou verseker hy is REEDS daar deur die nuusdienste! Al wat ek kan doen is om jou kant van die storie ook te gee... so wat ís jou storie?”
“Wat kon ek doen? Ek is ’n gas van die mense en hulle vat my na die plek toe en nouja ... ek het natuurlik nie geweet dis so ’n meisie nie!”
Louwtjie Barnard |
Ek was jammer vir Chris, maar gedane sake had geen keer nie en hopelik sal die mense in Suid-Afrika darem begrip hê... en veral Louwtjie, sy vrou.
Ek was verkeerd.
Met sy aankoms in Suid-Afrika ’n week later, sou Louwtjie hom nie in die aankomssaaal by die DF Malan lughawe ontmoet nie – sy het buite in die motor gewag. Dit was toe skeisake... maar darem seker nie oor daardie aand in Duitsland nie.
Regs: Die foto is geneem toe Chris in Suid-Afrika op Jan Smuts lughawe aangekom het. Hy lyk nie gelukkig nie. Ek is tweede van links. Heel links is Kit Katzen, verslaggewer van ’n Engelse koerant. Hy het vir Chris gevra hoe voel hy oor die publisiteit uit Europa.
Net na Chris se vertrek het ek vir Johan Liebenberg, Londense Verteenwoordiger van Afrikaanse Pers in Engeland gebel en gewaarsku ek bel aanstons vir hom die storie deur uit Baden-Baden.
Dit was primitiewe kommunikasietoestande van vanmelewe. Arme Johan moes die lange storie woord vir woord afneem en dan op teleks tik en deur teleks na Johannesburg – ure se gesukkel en was daardie oproep vir jou duur!
Teleksmasjien |
Maar so is die storie toe deur Dagbreek en Sondagnuus toe. Die dagblaaie het toe alreeds die kern van die gebeure weerspieël, maar almal het gewag vir die Sondag se storie – ’n groot “scoop”!
Dit het die koerante in Suid-Afrika laat wakkerskrik. Daardie Sondag het Nasionale Pers hulle verteenwoordiger gestuur – Louis Louw van Die Burger in Kaapstad. Louis was ’n gesoute joernalis en ek het ’n paar dinge by hom geleer. Een daarvan was toe ons saam met Chris Italië toe gevlieg het. Hy het my vermaan:
“Onthou hier in Italië word enigiemand met ’n universiteitsgraad “dottori” genoem. So van nou af is ek dottori Louw en jy dottori Simonis.
Die titels voor ons name het die Italianers wat die professor op die lughawe ingewag het, laat dink ons is ook van Grootte Schuur hospitaal en op ’n manier saam met Chris. “Louis het iemand daar wat dinge vir Chris reël, se telefoon nommer gevra. Later het hy gebel en gesê ons is in so en so ’n hotel en hier is ons nommer. “Bel asb kort-kort en hou ons op hoogte van die professor se bewegings”!
Sophia Loren en Carlo Ponti |
Maar ek loop die storie nou vooruit: Frankryk en die Follies en ’n geveg by ’n ander nagklub waar dr Botha glo ’n blou-oog gekry het, sou ook nog volg...
Ek was ook bekommerd oor my geldsake – die reuse-voorskot van die pers was amper uitgeput. Hoe kry ek nog geld in die hande? (Dit was natuurlik dekades voor die dae van kredietkaarte en OTM’s!)
En ek vergroot nie as ek sê daardie nag se verblyf in daardie paleisagtige hotel in Baden-Baden en die lang, duur telefoon oproep Londen toe, was skokkend duur. Ek kon vir daardie geld al byna ’n splinternuwe Volkswagen Kewer in Wolfsburg, Duitsland uit die fabriek trek.
Ek weet, want ek het Johan Liebenberg opgevolg as Londense Verteenwoordiger van Afrikaanse Pers en hét toe die Volksie gekry. Die uitvoerprys was minder as twee duisend Rand en die skeepsvrag na Suid-Afrika slegs honderd pond!