Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

9.8.12

Vegkop op sy grusaamste

PHILIP DEETLEFS skryf: As mens al die herinneringe van die doene en lates in Vegkop in een boek moet neerpen sal jy ‘n groot bos moet uitkap om die boek te druk.

Een van my meer grusame herinneringe – daar is baie ook wat ek nie kan onthou nie en ook nie noodwendig omdat my geheue my in die steek begin laat nie, maar omdat dit ‘n Vegkop herinnering was.

In ‘n stadium was Vegkop sekroegman se naam Danie. Danie was nie soos ‘n groot uitsmyter-tipe van mens gebou nie, maar niemand moes hom vlak gekyk het nie. Danie was opreg straat-slinks en het kans gesien vir enige ou wat daar in Vegkop sy taak bemoeilik het.

Kort na een spesifieke onderonsie wat Danie betreklik hardhandig uitgesorteer het met die moeilikheidmaker wat teësinnig op die sypaadjie beland het, is Danie een nag na toemaaktyd deur iemand (ek kan maar net raai wie) buite in die straat met ‘n pyp aangeval en is sy kakebeen in die proses so min of meer vergruis.

Danie se onderste kaak is aan die boonste kaak met drade aan mekaar gewerk en op so ‘n manier dat hy nie regtig vlot kon gesels nie en sy dop en kos deur ‘n strooitjie moes inkry. Danie moes vir weke lank letterlik op sy tande te byt.

In daardie tyd was daar ‘n groepie Lebanese ouens wat dikwels poker in die kroeg gespeel het en Danie het graag saamgespeel. Vir geld. As ek sê geld dan bedoel ek GELD. Het dikwels in verstomde bewondering gestaan en kyk hoe etlike kere my maandelikse salaris op een pot poker gewen of verloor word.

Een so ‘n dag terwyl Danie met sy aanmekaargewerkte kake met die Lebanese ouens poker speel het, het een van die spelers (moes ‘n nuwe ou gewees het!) vir Danie daarvan beskuldig dat hy verneuk nadat Danie ‘n groot pot gewen het.

Dit het eers gelyk of Danie oombliklik in ‘n soutpilaar versteen het. Toe in een beweging het hy ‘n bottel afgeruk van een van daardie maatgoed wat jy druk vir ‘n dop, die bottel teen die kroegtoonbank stukkend geslaan en die gebreekte bottel in die ou se gesig gekap.

Terwyl ons gewone mense ook versteen gestaan het, oortuig daarvan dat die ou nou dood moet wees, het Danie so tussen sy gedraadwerkte tande deur gesis dat niemand hom ooit van so ‘n lae daad moet beskuldig nie!

Die ou was darem nie dood nie, maar ek glo nie hy sou vir Danie ooit weer maklik van enigiets beskuldig of selfs eens verdink het nie.