Stella Niemand |
Dié van julle wat Botswana ken, weet dis nie kinderspeletjies om daar te kom nie. Jy moet die hele tyd katvoet op die pad wees met die alewige slaggate en letterlik honderde beeste, bokke, donkies en skape wat gedurig herderloos oor die pad beweeg en soms sommer net daar staan om sout uit die slaggate van die Kalahari te lek.
Op Vrydag die 13de! (my verjaardag) is ek tot in die afgrond in bederf. Ek, Cobus en Blackie is met ’n helikoptervlug oor die Okavango-delta. Toe ek en Blackie die baie klein, oop ’koptertjie sien, het ons hoogtevrees ons oorweldig. Maar ons was dapper en het die dingetjie bestyg. Tot ons verstomming was die hoogtevrees weg toe ons eers in die lug was. Ons het talle diere gesien, veral olifante en kameelperde.
Halfpad deur die vlug het ons geland om eers ’n glasie op my verjaardag te klink. Daarna is ons terug Maun toe. Dit was hemels vir al drie van ons en ’n eerste vir my en Blackie.
Later die middag het ons op die Thamalakane-rivier gaan “booze cruise” om die sonsondergang te sien. Die boot se eienaar was heel spitsvondig met die benaming daarvan: Sir Rosis of the River – ’n puik woordspeling. Dit was asemrowend om die son in al sy glorie te sien sak.
Vir aandete het ons beesfilet gebraai en heerlike Woollies-groente daarmee saam geëet. Net ter insae: Filet kos sowat R35 per kilogram in Botswana!
Dit was voorwaar ’n uiters aangename en geseënde verjaardag saam met Cobus, die Chandlers en etlike van hul vriende.
Twee dae later is ons vort na Mankwe, ’n wildreservaat sowat 92 km noord van Maun. Die pad daarheen was skrikwekkend. Sinkplate en diep sand het mekaar afgewissel, maar ons Landy het sy goeie naam gestand gedoen en ons het die middag veilig daar aangekom. Ons is ewe dapper in ons onderskeie tente in om uit te pak en daarna het ons wild in die reservaat gaan soek.
Ons was twee dae en twee nagte daar en vir ons al vier het die woord YSKOUD gedurende die nagte ’n nuwe betekenis gekry! Die tente is staangemaak op houtplanke met breë spasies tussenin waardeur die wind snags ingekom het. Dit was werklik moeilik om warm te word en te bly. En met die enkelbeddens kon ons nie eens mekaar se liggaamshitte gebruik nie. Hierdie soort kampeerdery is gewis vir die jonger geslag.
Op die tweede dag is ons na die Khwai-rivier, nog ’n hele entjie noord van die kamp. By die rivier het ons tien olifante, waaronder twee kleintjies, uit die rivier sien suip. Dit het ons asems weggeslaan. Hulle was so naby aan ons!
Die opwindendste gebeurtenis het op die tweede aand plaasgevind. Ons het ’n loopsopie gedrink voordat ons sou gaan slaap. Blackie het iets vertel toe Cobus skielik beduie ons moet stilbly. Omtrent vyf of ses meter van die boma af het ’n luiperd uit ’n voëlbadjie op die grond water gesuip. Dit was ’n manjifieke groot kat en heeltemal ongestoord deur ons flitse en die kameraflitse. Dis ongelooflik hoe die adrenalien ’n mens se vrees wegneem. Ons het oor die reling gehang om na hierdie pragdier te kyk. Ons was pas in ons tente toe ons hiënas hoor huil het, ook sommer baie naby ons.
Een van die opvallendste dinge van Maun is dat daar geen bedelaars langs die paaie staan nie. Taxibestuurders ry met gewone sedans en bestuur soos beskaafde mense. Daar is ook omtrent geen misdaad nie.
Ons het by ons terugkoms pas oor die grens gery toe ons oor die radio weer van moorde en ander misdaad in Suid-Afrika hoor. Ons het ’n laat ontbyt in Zeerust geëet en natuurlik was daar weer ’n vervlakste karwag by die parkeerplek! Die werklikheid het sommer dadelik ingeskop en ons idilliese vakansie was verby.