Dis ’n vraag wat my al meer as 30 jaar pla.
Die storie wentel om die nadraai van die Soweto-onluste waarop die stof en knalskote 18 maande na die geskiedkundige datum – 16 Junie 1976 – nog
nie gaan lê het nie.
Dit was in Desember 1977 dat dr Willem de Klerk, hoofredakteur van Die Transvaler, my genader het om vir die koerant skakelmense in Soweto uit te snuffel met wie oor die toestande daar gepraat kan word. Hy het gemeen die land se toekoms hang ten nouste saam met wat in Soweto gebeur. Gesprekvoering met Soweto-leiers was die mikpunt.
“Waar begin ’n mens? Met wie praat jy? Ná 16 Junie 1976 se onluste en wat daarop gevolg het, was baie van die leiers in die tronk. Die amptelike liggaam – die stedelike Bantoeraad – het uit eie wil ontbind,” het ek later geskryf.
Maar ek is Soweto in. Dit was nog in ’n gevaarlike tyd waarin blankes toestemming van die SA Polisie moes hê om Soweto binne te gaan. Daaraan het ek my nie veel gesteur nie.
Vir elke swartman wat ontmoet is, was daar vier uiteenlopende standpunte. En dit was feitlik onmoontlik om te besluit wie hulle verteenwoordig. Daar was wel ’n paar papiertiere, maar van hulle was maar bra leë doppe.
’n Ligpunt was ’n regeringsbesluit om in Soweto ’n verkiesing ingevolge die Wet op Gemeenskapsrade te hou. In die Vaaldriehoek het so ’n verkiesing goed geslaag.
Nie in Soweto nie. Daar was slegs 11 benoemings vir die 30 wyke van dié stad. Swart leiers het die regering nie vertrou nie. Die ou Bantoeraad kon slegs advies gee, wat feitlik pal in die wind geslaan is.
MT Moerane |
Dit was vroeg in 1978 dat dr Connie Mulder die leisels as Minister van Plurale Betrekkinge oorgeneem het en ek het hom versoek om die SRC in die hoogste geheimhouding in die Millparkse Holiday Inn te ontmoet. Dit was Sondagaand 26 Februarie.
Die SRC het geëis dat dr Mulder in die Parlement die versekering moet gee dat die Soweto-raad binne ’n bepaalde tyd volle outonomie sou kry. Op 28 Februarie gee dr Mulder die versekering in die Volksraad. Die Transvaler het op 1 Maart die nuus gebreek dat die SRC aan die verkiesing gaan deelneem. Ander partye het spoedig gevolg.
Daar was egter nog ’n speek in die wiel. Soweto se invloedryke Komitee van Tien was sedert 19 Oktober 1977 in aanhouding sonder verhoor. En dit het veroorsaak dat die Inkatha-beweging sy lede verbied het om aan die verkiesing deel te neem.
Gatsha Buthelezi |
(Ek was teenwoordig toe hy in 1980 ’n toespraak op Ulundi gehou het wat deur PW Botha bygewoon is. Hy het pront gesê wat sy mense wil hê. PW het tot met sy onwillige uittrede uit die politiek nooit weer met hom, toentertyd die sterkste swart leier in die land, gepraat nie.)
My pad het toe geloop na dr Sipho Nyembezi, Inkatha-voorsitter van Soweto. Hy was ’n mediese dokter en het ook ’n winkel gehad waar ons gesprekke plaasgevind het. Dr Nyembezi se eise was onder meer huisbesitreg vir swartmense.
Weer is ’n vergadering met dr Mulder gereël – die keer in die deftige President-hotel naby die Johannesburgse stasie. Dr Mulder se sitkamer het ’n Sjinese motief gehad en hy het heel imposant, hoewel verdwerg, in ’n Chinese stoel met uitermatige hoë rugleunings gesit.
Dr Nthato Motlana |
Aggrey Klaaste |
’n Bomskok. Dit het my geklink of al ons werk daarmee heen is.
Dit was 21 Maart en die Parlement was in reses vir die Pase. Dis feitlik onmoontlik om al die betrokke ministers in die hande te kry, het dr Mulder gesê. Boonop was Jimmy Kruger toe Minister van Justisie en moes sy instemming verkry word. Hy’t aan die Natalse Noordkus vakansie gehou.
Maar 48 uur later is ek die eerste joernalis wat ’n onderhoud voer met ’n vry dr Motlana, Aggrey Klaaste en Leonard Mosala.
Klaarblyklik het ek dr Mulder se geesdrif en invloed onderskat.
’n Paar dae later was daar kandidate vir al Soweto se wyke, hoewel die stempersentasie in die verkiesing teleurstellend laag was.
Percy Qoboza |
Post, onder redakteurskap van Percy Qoboza, het plakkaatnuus daarvan gemaak. Steve Kgame van die Rand Daily Mail is ook betrek en daar is ooreengekom dat hulle aan die dinkskrums deelneem en dat ons gesamentlik daaroor sou berig. Dinkskrums sou tog nie die doel dien as die mense van Soweto en omstreke nie daarvan kennis neem nie.
Swartmense en Afrikaners praat met mekaar.
My beloning? Prys vir ondernemende joernalistiek in Stellebosch-boerewynkamery se landwye kompetisie oorhandig deur die man van die Washington Post wat die Waterrgate-skandaal oopgevlek het.
Sover ek weet, was ek die eerste Perskor-joernalis wat so iets kon regkry. Marius Jooste het my op ’n dag daarna in die gang raakgeloop en smalend gesê: “En jy wen toe ’n ou prysie.”Ek kan nie onthou of ek toe reeds bedank het nie, maar dit sou die laaste strooi wees.
Die eerste prys was egter toe ek terug is uit Kaapstad waar die toekennings gedoen is en gehoor het dat die manne in Vegkop verbaas opgekyk het toe die toekennings op TV vertoon is en hulle iemand daar herken het!
Oor die kwessie van hoe betrokke ’n joernalis mag wees, het Die Transvaler op 26 Januarie 1979 in ’n hoofartikel oor die toekenning onder meer geskryf: “Die joernalistiek bied nie slegs ’n daaglikse spieëlbeeld van die werklikheid wat ons omring nie; vervul nie slegs ’n inligtingsfunksie tussen owerheid en publiek wedersyds nie; sy tussengangersrol strek veel verder; dit het ook die plig om steeds kommunikasiekanale tussen publiek en owerhede te open; om aan te hoor en weer te gee wat in die hart van alle sektore van die bevolking leef.
“Soos in die onderhawige geval, word die joernalis in die volbrenging van hierdie deel van sy taak uit vele rigtings en om vele redes verkwalik. Die gesprek wat Die Transvaler met sekere Soweto-leiers aan die gang gesit het, is nie uit alle oorde verwelkom nie. Beskuldigings van die opeis van ’n leiersfunksie, die praat met die ‘verkeerde’ mense, die oopkrap van dinge wat kon gebly het, moes aangehoor word.
“Die resultaat van die samesprekings bewys die teendeel: ’n spanningsituasie is verlig, dialoog het begin waar dit byna onmoontlik gelyk het…”
Met die herlees van die hoofartikel troos ek my daaraan dat die motief eerlik en opreg was, maar die vraag bly steeds hang oor waar die grens getrek moet word.