Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

16.8.12

Om Gert van Rooyen te wees...


GERT VAN ROOYEN, oud-DT-verslaggewer skryf: WATTER wonderlike oomblik was dit toe Philip en Wilma Deetlefs my vertel van K’rant en ek die webjoernaal oopmaak! Omtrent almal wat ek ken en onthou, is daar, veral my Transvaler-maats: Willie, Joe, Stella, Piet, Danie, Dave, André de Kock, Lala, en almal. Ai, ek wou Bushy se naam sommer uit gewoonte bysit, maar nou ja...


Ek wens K’rant nog baie hoë ABC-syfers toe.

Ek wil nou nie op ʼn egoïstiese reis gaan nie, maar darem net met julle deel wat dit is om as Gert van Rooyen gebore en gedoop te wees: nie maklik nie, hoor!

In my skooldae was Gert te algemeen en “common” en is ek sommer Boetie, Gerrie of Gerrit genoem. In die weermag was jy niks, net 674095401! Op universiteit het my koshuisseniors (waarvan David van Rooyen en Johan van Wyk twee was) my sommer Percy genoem, want ek was mal oor Percy Sledge!

Toe ek in 1973 by Die Transvaler beland, besluit Stella terstond Gert moet “G” (Engelse G) word en met my eerste voorbladberig maak nagnuusredakteur Mike van Niekerk my sommer Gerrie. Nou ja, G en Gerrie was dit vir lank.

Die ná-Perskor dae was dit toe Gert, maar in die laat tagtigerjare tref die bom: my naam en van is op almal se lippe; dit is vir maande en selfs jare 90pt Times Roman CAPS op voorblaaie en op plakkate: om die verkeerde redes! Hoe meer ek vir die mense sê ek is nie familie van dáárdie Gert van Rooyen nie, èn hy is eintlik Gerhardus gedoop èn hulle noem hom eintlik Bokkie, hoe meer word ek (darem goedgunstiglik) gespot!

Om dit erger te maak, ek het daardie tyd in Rietfontein, Pretoria gebly, ʼn hanetreetjie van waar Van Rooyen se huis in Capital Park was! Vriende en familie het my dikwels gesê-vra: “ek sien hulle (die polisie) het jou tuin omgedolwe” of “ek hoor hulle het die vloerplanke in jou gang opgeligˮ. Ek wou elke Maandag my naam by Binnelandse Sake gaan verander ná die vorige dag se Rapport.

Dis nie ek nie.
Toe ek in die begin 90’s Puk toe is, moes die destydse departementshoof, Arrie de Beer, my noodgedwonge aan die studente voorstel as meneer Gert van Rooyen van Pretoria. Die studente was blou-pers in die gesig soos hulle hul lag inhou. Toe moes ek maar die situasie ontlont deur te sê: “ek is darem nie dáái Gert van Rooyen nie.” Nodeloos om te sê, die res van die periode is afgeskryf.

Ek was ook betrokke by die Puk se oudstudenteblad, PU-Kaner, en saam met my het ʼn fotograaf, Leith Haarhoff, gewerk. Nou kan jy jou voorstel as ons by die rektor ʼn storie moes gaan doen en sy sekretaresse sê vir hom: “Professor, Van Rooyen en Haarhoff wag vir jou hier buite.”

Op Potch was daar ook ʼn studentehuis waarin mans gewoon het met die naam Oom Gert-hulle. Soos ʼn student maar is, het hulle een van die (toe nog) Mobil-advertensieborde wat in die rondte draai, voor die huis neergesit met die woorde: “suigstokkies vir alle kinders”. Ek het my verstout om soontoe te gaan met ʼn pak suiglekkers en my ID-boekie vir die studente te wys!

Genadiglik weet vandag se studente darem nie meer wie is die berugte Gert van Rooyen nie, maar as ek my vandag nog voorstel aan mense van my ouderdom, of bietjie jonger of ouer, dan kan ek sien hoe sukkel hulle om die geproes te onderdruk. Wat het Shakespeare nou weer gesê: “Wat is in ʼn naam?”

Groetnis aan al die Perskorhane en –henne.

(Die regte) Gert van Rooyen

ʼn Kort waar ek was en nou is:

Nadat ek in 1980 weg is by Die Vaderland (Willie was woedend toe ek sommer wegloop by Die Transvaler!) was ek twee jaar lank redakteur van die Caxton-koerant, Kempton Express. Ek het vir Philip Deetlefs opgevolg en ná my het André Meyer (oud-Vaderlander) redakteur geword. In ʼn stadium het Christie le Cordeur (wat destyds ook by Die Vaderland gewerk het) hom by die Express aangesluit en een van die medewerkers van die koerant was Rynier Abrahamse, onder die naam Braam Rennie! Ek is in 1982 met my vrou, Susan, getroud en het in dieselfde jaar by die destydse Pretoria Technikon dosent in joernalistiek geword , tot en met 1992 toe ek Puk toe is. Daar het ek ook joernalistiek en later webontwerp gedoseer.

Ek het in 2007 met vroeë pensioen gegaan en begin om webwerwe te ontwerp vir maatskappye. Susan het in 2008 ʼn pos by die Mafikeng-kampus van die Noordwes-Universiteit aanvaar en ek het in 2010 daar ʼn kontrakaanstelling gekry om praktiese joernalistiek te doseer. Ek is steeds daar. Een van my kollegas is oud-Hoofstadder en Absa-man, Johann de Jager.

Ek het twee dogters, Leandra, wat met Francis Drake (nie familie van die seerower nie!) getroud is en die ander dogter is Sanja-Rika, ʼn onderwyseres. Ek is ook oupa van die mooiste kleindogtertjie in die wêreld.Op die foto is van links af: Susan, Leandra, Francis, die uwe en Sanja-Rika.