Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

23.8.12

Die geval van die ontwykende boksskeidsregter


ILZE WELGEMOED, vroeër van Die Vaderland, skryf: As jy joernalis wil wees en nie weet hoe om ’n wêreldbekende boksskeidsregter se van te sê nie, gaan jy vir lank nie toegelaat word om daarvan te vergeet nie. Vra my!

Die bekende Stanley Christodoulou was skeidsregter in ’n geveg waartydens
die bloed gespat het. Sy spierwit hemp het tydens die geveg ronde vir ronde rooier en rooier geword. Daardie tyd het Die Vaderland net-net begin kleur gebruik. ’n Foto van hom met die hemp sou ’n gewisse voorblad-treffer wees.

Iemand het die opdrag gekry om ’n storie daaroor te doen. Vanweë die min tyd voor saktyd moes iemand anders kwansuis die takie kry om te reël vir ’n foto.

Ek was nog jonk, onervare en nie juis baie doening daardie Maandagoggend nie. Ek kry toe die opdrag: “Bel "Christodoulou", kry sy adres en reël ’n foto van hom en die bloedbesmeerde hemp”.

"Wie?"

"Christo-doulou,"het nuusredakteur Japie Bosch dit afgemeet gesê en die agtergrond geskets.

Ek het sy telefoonnommer by die sportkantoor gaan gekry en gebel. Nie lank nie of ek het by Japie gaan kla dat ek nie mnr Doulou in die hande kry nie.

Stan Christodoulou
Teen daardie tyd het almal natuurlik geweet wat aangaan. Japie het druk op my geplaas en my aangemoedig om weer te probeer. Ek het maar aanvaar dat ek die nommer verkeerd geskakel het, en weer probeer. Tog het ek weer by dieselfde man uitgekom wat net gesê het: “Jammer ek is nie mnr Doulou nie.” Ek was raadop en byna in trane.

Toe dag ek ek gaan nog een keer -- die vierde keer -- probeer om met mnr Doulou te praat. Nog steeds baie beskaafd het die man vir my gesê dis nie hy nie.

Baie ongelukkig is ek na Japie en het die storie herhaal. Hy het nog ‘n “straight face” probeer hou, maar toe bars almal wat in sy kantoor vergader het uit van die lag.

Ek dink dit was die sportredakteur Gerhard Burger wat my ’n les in die van, Christodoulou, gegee en verduidelik het dat mnr Doulou as Stanley gedoop is en dat Christo deel van sy van is.

Tot vandag toe is ek oortuig daarvan dat Gerhard of een van sportverslaggewers vir mnr Doulou vooraf gewaarsku het om die oproep(e) te verwag!

Lank daarna het dié storie my agtervolg, selfs verlede week nog, sowat 35 jaar later, toe ek gevra is om dit vir K’rant te skryf.