Amanda Botha stel voor ons ontmoet in die Mount Nelson Hotel; ’n plek vol kosbare herinneringe.
“Die assosiasie met die hotel lê vir my by drie persone. Eerstens was dit met Sheila Cussons. Sy het graag hiernatoe gekom; dit was een van die min plekke waar sy tuis gevoel het.”
Dan is daar sir Laurens van der Post. In 1990 is sy deur “mense na aan hom” gevra om hom “weer te probeer terugkry in die Afrikaanse leefwêreld waarby hy uitgestoot was”. Hy het hier in die Mount Nelson tuisgegaan.
“Ek het vir drie jaar elke jaar vir drie maande, en een jaar vir vyf maande, elke dag van tienuur die oggend tot tienuur die aand hier saam met hom deurgebring,” sê sy.
“Dit was ook my ontmoetingsplek met Karel Schoeman. Ek het elke Saterdagoggend met hom ’n afspraak gehad van tien tot elf, en partykeer in die week.”
Dit is elfuur. Amanda sit in die sitkamer op ’n rusbank. Op die beskot agter haar is geraamde gravures uit ’n vervloë era. Die weelderige vertrek is sag belig. ’n Ent van ons af brand ’n kaggel. Personeellede met skinkborde beweeg geruisloos oor die dik matte. ’n Jong Billie Holiday se lui bluesstem is net-net hoorbaar.
“Ek het die voorreg gehad om op verskillende vlakke met ’n groot aantal mense te doen te hê. Joernalistiek was die basis daarvoor. Vir my was dit ’n wonderlike, en is steeds, ’n fantastiese werk.
Sheila Cousins |
“Toe ek die dag die tikmasjien by haar aflewer, het ek besef ’n tikmasjien sal haar nie help nie; hier is veel meer. Sy was iemand wat eintlik van meet af aan ’n persoon was wat afhanklik was van ondersteuning van ander mense op ’n praktiese vlak. Daar was verskillende mense wat haar op verskillende maniere ondersteun het, maar oor die jare het dit so gekom dat ek die deurlopende persoon was wat daar was vir 25 jaar. Ek is vroeg aangestel as die kurator ad litem van haar en het ek al haar sake bedryf. Ons was ook baie goeie vriende. Sy was vir my ook ’n mentor. Veel van wat ek van haar geleer het, het my gevorm.”
Karel Schoeman |
“Hy het my altyd toegespreek oor dinge waarvan ek baie min geweet het, so ek was amper soos ’n leerling. Ek onthou byvoorbeeld een dag het ek hier gekom en toe het hy vir my gesê vandag gaan hy nou vir my vertel van Shirley Temple.”
Oor die Afrikaanse letterkunde het hulle “nooit ooit ’n woord gepraat nie”.
“Dié gesprek moenie eintlik oor mý gaan nie. Ek het myself nog altyd net beskou as ’n soort van ’n skriba van my tyd. Om die goed aan te teken wat op my pad gekom het. Ek is maar net so ’n middelmens.
Amanda Botha
“Ek het ’n geweldige gevoel dat dit belangrik is om ’n rekord te hê van die tyd waarin ons leef; veral ’n kollektiewe geskiedenis van die Afrikaner."En ek bedoel dit nie in ’n nasionale sin nie, ek bedoel dit geheel en al in ’n kultuursin en in ’n veel wyer sin as die FAK of... ek bedoel van die bydraes wat die Afrikaner gelewer het, want ons kry nie genoeg erkenning daarvoor nie. En ek het toenemend die gevoel as mense soos ek wat daarvan kennis dra en daarvan deel was, dit nie aanteken nie... ek dink nie iemand ná ons sal veel moeite doen om dit te doen nie.”
Amanda en haar suster, Tessa, het saam met haar ma in ’n huis op die perseel van die ou Volkshospitaal in die Tuine gewoon. Hul ma het in die hospitaal gewerk. Hul pa is vroeg dood.
“Sy het baie moeite gedoen om ons destyds na die wonderlike toneel... toe ek ’n kind was, het ek al Athol Fugard meegemaak en die eerste uitvoering van La Traviata in die stadsaal deur die Eoan-groep. Ek was nog in die laerskool.”
Sy was in standerd ses in die Hoërskool Jan van Riebeeck toe sy met die beeldende kunste kennis gemaak het.
Irma Stern |
“Maar miskien is Jean Welz die persoon wat destyds op my die grootste indruk gemaak het van almal. Eendag sê hy vir my: ‘Ek gaan nou vir jou leer hoe om al die kunswerke wat jy ooit aan dink, maar nie kan koop nie, te besit.’
“Hy het my gewys hoe ek voor ’n skildery moet staan en daarna kyk sodat my ínnerlike oog dit kan sien, en as die prentjie daarvan behoorlik in my kop is, dan neem my hart daarvan ’n foto. So ek is in daai opsig ontsettend ryk, want ek dra in my hart die grootste kunsgalery in die wêreld.”
Maar sy het ook ’n taamlik groot tasbare kunsversameling wat insluit werke van Stern, Maggie Laubser, Cussons, Paul du Toit, Judith Mason en Marjorie Wallace.
“Ek het heelwat daarvan by die kunstenaars self gekry; ek het bitter min aangekoop.”
Sy was ’n paar jaar lank sekretaresse van die Afrikaanse Skrywersgilde.
Etienne Leroux |
Hulle het by die kroegtoonbank gesit en die kerrie-en-rys geëet. Leroux het bier gedrink.
“Ons geselse daar was altyd oor die plaas en dikwels het ons nogal oor krieket gepraat; nie dat ek tóé iets daarvan geweet het nie, maar hy was ’n mens wat ingestel was op die krieket; hy het ook self gespeel, het hy my vertel. Hy was ’n skaam man gewees. Hy was vir my besonders.”
Sy het onlangs na sy briewe gekyk.
Adriaan van Zyl |
Benewens haar kuratorskap van die Woordfees se kunsuitstalling, het sy onder meer by die KKNK ’n uitstalling van wyle Adriaan van Zyl se werk aangebied.
“Adriaan van Zyl . . . ja, dit is so ’n besondere en buitengewone vriendskap en mens in my lewe. Hy is permanent deel van my, want wat ek met dié man deurgemaak het en van hom geleer het, en daar op sy sterfbed... die beloftes wat ek daar aan hom gemaak het. Hy is nou ingeënt op my.”
Dalene Mathee |
Marjorie Wallace |
“Al die mense het my lewe ontsaglik verryk. Ek het miskien nou nie die geld om te wys nie, maar ek het die rykdom aan herinneringe.
“Ek het nou die dag daaraan gedink: Wat kan ek nou neerskryf wat ék bedink het, beplan het, georkestreer het? Absoluut niks. Ek het die joernalistiek betree op ’n uitnodiging; ek het in die teater gekom op ’n uitnodiging; ek het in opera gekom op ’n uitnodiging; ek het ballet betree op ’n uitnodiging; ek het in televisie gewerk op ’n uitnodiging; ek het in die kunste betrokke geraak op ’n uitnodiging... ”
Hoe verklaar sy dit? Sy beantwoord nie dadelik die vraag nie, want iets het haar bygeval.
Marlene Dietrich |
Ons hoor Frank Sinatra se stem van ver af: “Start spreading the news... ”
“Maar sy het net gesê: ‘You sit here, kid, I’ll talk to you.’ En ek het hier twee dae met haar gesit in vervoering.
“As ek ’n kans mag vat, sal ek sê dit het te doen eerstens met ’n nuuskierigheid... Die ander ding is dat ek kan luister en meeleef. Ons het almal ’n behoefte aan meelewing. Miskien is dit ook iets in my . . . ek het nog altyd meer belang gestel in ander mense as in myself... Ek is die houer van ’n ongelooflike hoeveelheid geheime en vertroulike inligting... ”
Deesdae geniet sy die omgang met jong mense.
“Ek is nou in ’n stadium van my lewe waar ék kan deurgee, en ek hoop ek kan so ruim deurgee as wat ek ontvang het.”
Kultuurvrou Amanda Botha se loopbaan in die joernalistiek het begin toe sy as HOD-student op Stellenbosch onder Piet Cillié se aandag gekom het en hy haar ’n pos by Die Burger aangebied het.
Daarna was sy agt jaar lank Kaapse verteenwoordiger van Die Transvaler, beginnende by Carl Nöfke as redakteur en later onder Wimpie de Klerk. Haar nuusredakteurs was Hermie Hendriks en Willie Buys.
Sy het by Kruik in die drama-, die opera- en die balletafdeling gewerk. Sy was onder meer publisiteitsbeampte, maar het ook navorsing gedoen en geboekstaaf. Een van haar pennevrugte uit dié tyd is ’n biografie oor Phyllis Spira.
Sy was later ook by die Ruimte- en die Glasteater betrokke.
Botha het ook verskeie werke oor skrywers en kunstenaars geskryf en dokumentêre programme oor hulle vervaardig. Sy het saam met Sheila Cussons twee bloemlesings van dié digter se skeppings die lig laat sien.
Oor die beeldende kunste het Botha heelwat gepubliseer en as kurator opgetree. Deesdae bied sy op die Kaapse radiostasie, FMR, ’n program oor kinderboeke aan en gaan sy voort met navorsing vir biografieë. .