Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

3.8.12

Nou is Joe en Amerika kiets

JOE VAN BUUREN skryf: Ná my tyd in 1979 in Perskor se kantoor in Shoe Lane in Londen het ek besluit om op pad huis toe eers ’n draai in Amerika te maak, veral omdat dit goedkoper was om via die Verenigde State van Amerika van Londen af na Suid-Afrika te vlieg as wat dit was om die trippie regstreeks af te lê.

In Washington aangekom, het ek ’n hotelkamer bespreek en sommer dadelik besienswaardighede soos die Withuis, die Washington-monument en Lincoln se standbeeld besoek.

So tussen die besigtiging deur het ek besluit om Perskor se verteenwoordiger in Washington, Piet Coetzer, hoflikheidshalwe te skakel en te vra of hy ’n bier wou gaan drink.

Piet Coetzer
Toe Piet hoor ek is in Washington, wou hy net niks weet van ’n hotelverblyf nie. Ons het terstond my goedjies met sy motor by die hotel gaan haal en ek het drie of vier heerlike dae by Piet en sy gesin in hul woonstel in Arlington deurgebring. (Een van Piet se meer onlangse gaste was wyle Fanus Rautenbach.)

Piet-hulle is voor my aankoms in Washington uitgenooi na ’n partytjie by Amerikaanse vriende van hulle wat in dieselfde gebou gewoon het. Op die betrokke aand is ek natuurlik saamgepiekel.

Onder die gaste daar was ‘n jong vlootsersant en sy verloofde. Toe hy hoor ek en Piet is van Suid-Afrika en dat ek eersdaags terugkeer huis toe, verduidelik hy dat hy die volgende naweek trou en dat hy en sy bruid in Liberië gaan wittebrood hou. Toe sê hy: “Perhaps I’ll see you there.”

Ek en Piet het mekaar maar net aangekyk. Om die man verleentheid te spaar, wou ek nie verduidelik hoe ver Liberië en Suid-Arika van mekaar af is nie. Ek het later eers daaraan gedink dat hy ons stilswye as botheid kon vertolk het. Ek hoop maar net hy het sy fout besef toe hy in Monrovia aankom.

Van Washington is ek met ’n Greyhound-bus na New York waar ek ’n hotelkamer in Manhattan bespreek het.

New York was destyds in die nuus oor die geweld wat daar plaasgevind het. Mense is blykbaar daagliks in Central Park aangerand en beroof en die moltreinstelsel was ’n nagmerrie.

Dis teen dié agtergrond dat ek dit die eerste aand op die sypaadjie gewaag het, gereed om die rieme neer te lê na my hotel sodra ’n Amerikaner my skeef aankyk. Ek het skaars vyf meter gevorder toe ’n groterige kêrel vergesel deur ’n bejaarde vrou in ’n rolstoel my voorkeer en heel beleefd vra of ek die dame veilig by haar woonstel kan besorg.

Ek was só uit die veld geslaan dat ek skoon vergeet het om te hol. Op pad na haar woonstel vertel sy my sy besoek saans graag klubs en ander kuierplekke, maar dat die rolstoel ’n groot beslommernis is wanneer sy ’n huurmotor gebruik.

Ek was daai aand toevallig die laaste skakel in ’n lang ketting vreemdelinge wat haar soos met ’n aflos aan mekaar oorgegee het en haar elk so ’n paar honderd meter ver aangehelp het.

Joe en Tanya van Buuren
Sy sê toe sy doen dit reeds baie jare lank en dat sy nog nooit enigiets oorgekom het, of selfs vir haar veiligheid gevrees het nie. Die eienaardige is dat ek nooit eintlik haar gesig te siene gekry het nie. Ek onthou net hoe die sneeuvlokkies op haar hare en die pels om haar skouers te ruste gekom het.

By haar woonstelgebou het ’n man met ‘n rooi uniform en ’n pluiskeil ons ingewag, My laaste herinnering aan haar is toe sy van voor die huisbakke deur die glasdeur van die gebou vir my gewaai het.

Baie jare later het my dogter in Amerika gaan kuier.

Op haar laaste dag daar gee sy al haar geld uit en toe word sy natuurlik sonder ’n duit by Minneapolis se lughawe vasgesneeu.

’n Bejaarde Amerikaase vrou en haar kleinseun, wat saam op reis was, het hulle oor haar ontferm en gekeer dat sy van die honger en koue omkom.

So draai die wiel.

Ek en die Verenigde State van Amerika is kiets,