ANDRIES BOTHA skryf: Nou die anderdag wanneer het daar ‘n woord in K’rant deurgeglip wat wyle oom Angel Engelbrecht, eertydse Taalredakteur van Die Transvaler, teen 7 000 revolusies per minuut in sy kis sal laat rondtol.
Die woord is as ‘n vertaling van “for sure” sommer “verseker”, soos “Frik du Preez was verseker Suid-Afrika se beste rugbyspeler van die twintigste eeu.”
Daardie “verseker” is hoofsaaklik tot op die drumpel van uitsluitlik ‘n versekeringsterm – “vir seker” sou meer gewens wees, maar dit ruik aan ‘n anglisisme. Waarom dit nie liewer – oom Angel het altoos gesê korter is feitlik altyd beter - eenvoudig vervang met “gewis” nie?
Sport(s)manne
Dis deesdae vermaaklik om na die (hoofsaaklik onbedoelde) humor en sinlose geklets van sportskrywers en sportmanne te luister.
Persoonlik wil ek van ‘n krans af tuimel as voorspel word dat “die span wat die beker die graagste wil hê, gaan wen.” En iets wat – in SMS-taal - nie vir my passie, is “Die span met die meeste passie gaan wen.”
En dan daardie sportmanne met wie onderhoude gevoer word en dan uiteindelik tot ‘n “so, ja...” gevolgtrekking kom. “Ons het hard geoefen en in die seisoen bewys dat ons die passie het om te wen. So, ja, (peinsend oor die GROOT waarheid) ons is gereed vir Saterdag.”
Sportmanne en -skrywers, sowel as sommige kommentators, het ‘n kommunikasiekundige gewis bitter nodig om hulle vir onderhoude voor te berei.
Die uiterste geval was die Vrystaatse speler wat op Afrikaans(?) gepraat het van die “backs” wat moet “deliver” as die “forwards” vir hulle die bal gee. En dan het hy verwys na die “diéfens”(tog sóó byderwets Amerikaans eerder as die foneties Engelse “defens”) wat net “water tight” moet wees. ‘n Vrystater!
Oor Dinkskrums sonder Denke
In die jare sewentig het feitlik elke groot maatskappy, die kabinet en kultuurorganisasies “think tanks” gehou. Dit was absoluut ‘n modewoord.
Ek weet nie of ek werklik eersgeboortereg op die Afrikaanse vertaling daarvoor as “dinkskrums” kan aanvaar nie. Dalk eien ek myself iets toe waarop ek nie geregtig is nie.
Hoe dit ook al sy, in 1978 het ons by Die Transvaler in die nadraai van die Soweto-onluste van ’76, wat toe nog voortgewoed het, ‘n hele aantal dinkskrums tussen blanke en swart leiers gereël. “Dinkskrums was toe ons vertaling van “think tanks”.
Sal die Rand Daily Mail toe nou nie wraggies ons “dinkskrums” na “think scrums” vertaal toe hulle daaroor berig het nie!
Dinkskrums is natuurlik ook nou al oudmodies. Vandag is bosberade mos die modewoord.
En dan praat hulle van ons gewone mense as “die mense daar buite” – “the people out there”. Arme ons. Altyd uit die kollig. En die tendertoekennings. Ons kan ons darem daaraan troos dat die belastinggaarder nooit ons mense “daar buite” misken nie!
Hoop net die sogenaamde “Volksmond” vreet nie al dié knaterflaters vir soetkoek op nie. Anders beland dit op ons kinders se tafels.
Willie Buys haak hierby aan met:
Ek het ook 'n ding oor taal en veral hoe die sportkommentators deserdae daarmee omgaan. Ongelukkig hoor en lees die jong aspirant-sportmanne en joernaliste dit, "laaik dit kwaai" en aanvaar dit as goeie uitsaaitaal!
Saam met die nuwe selfoon-generasie (?) se SMS-gebrabbel is die taal stil-stil aan't evoleer tot die mengelmoes-taal Hollands wat toevallig een van die fondamentleggers is waaruit onse ou taaltjie ontspring het.
En ek wens ook dat sportskrywers en kommentators sal ophou om spelers (al skuimbekkend met happe na links en regs soos 'n hondsdoldier?) LOS TE LAAT op hul arme teenstanders. Gelukkig het terme soos "ons moet die bal aanval "a la Springbok-rugbykaptein Francois Pienaar (arme bal, hy was maar net daar om die "game" wat spelers so lekker "jôl" aan die gang te hou!) in die vergetelheid verdwyn.
Maar miskien is daar 'n plan agter alles, soos dat die duiwel al giggelend sulke onsuiwerhede sit en uitdink om taal-respekterende ouballies soos ek en jy se dae en nagte te versuur.
Maar nie alle kommentators is brabbelaars nie. Praat liewer nie van ''ou aan die einde van die dag" Naas Botha nie, hy het immers die rugbykennis om hom te red. Ander ouens soos Ashwin Willemse praat partymaal 'n taal wat heerlik sing. Moeilik soos dit is, moet ons miskien aanvaar dat rugby 'n eiesoortige kultuur is met kenmerkende terme en uitdrukkings om sekere situasies te verduidelik.
As ek egter partykeer lompe goeters lees soos "hy het 'n ete gehou" (deur 'n taal-strompelende verslaggewer) dan wonder ek of ek nie maar liewer my leesbril moet afhaal, die koerant bêre en in 'n hoekie gaan sit nie!
En nou vir ‘n laaste gril-ril. Lees nou die dag iets in die grootste Afrikaanse oggendblad ter wêreld wat my puisies van skok laat uitslaan het. ‘n Jong verslaggewer (los maar sy naam, sal hom nie dieselfde oneer aandoen as wat hy so disrespekvol aan my gedoen het nie!) skryf oor ’n skolerugbyafrigter wat vir twee jaar geskors is.
Die afrigter het ‘n anderkleurige skeidsregter met die skouer geloop (aangerand?) omdat hy (die afrigter) nie saamgestem het met van die beslissings van die skeidsregter in ‘n skolewedstryd nie. Skryf ons geleerde (?) verslaggewertjie, en ek haal aan..."die afrigter se onbesonne aksie in ‘n onbeskermde oomblik…."
‘n Lig het vir my aangegaan toe ek snap die verslaggewer moes blykbaar die idiomatiese Engels term "unguarded" direk vertaal het. Hoop die afrigter is bly dat ek hom van sy "ongepantserloosheid" verlos het!