Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

27.8.12

Toe sluit vrou se hande om Joe se keel

JOE VAN BUUREN skryf: Ek kan minstens twee voorvalle in my loopbaan as koerantman onthou waartydens die skoner geslag my erg in die verleentheid gestel het, of selfs die skrik op die lyf gejaag het.

Die eerste was toe ek in die vroeë jare sewentig betrokke was by ’n storie oor ’n selfmoordbende in Johannesburg.


Die lede van die bende was jong vroue wat hulle as motorwerktuigkundiges bekwaam het.

Na die tweede of derde selfmoord het die pers daarvan te hore gekom en die storie het groot opslae gemaak.

’n Selfmoordbende het per definisie nie ’n lang raklewe nie en ons moes maar skarrel om die storie te kry onderwyl daar nog lede lewend was.

Twee of drie van die meisies is op ‘n kol in die Weskoppies-inrigting vir geestesversteurde misdadigers (links) vir waarneming opgeneem.

Ek het my pad verby die voordeur gelieg en het in ’n groot donker vertrek in ’n swaar, lae ou stoel gesit en wag op die mense met wie ek die onderhoude wou voer.

Net toe kom Desmond Blow van die Sunday Express met ’n groot bos blomme in die hand ook daar aan.

Hy het die blomme natuurlik gebruik om ook sy pad in te lieg en ek het myself nogal verwyt dat ek nie self daaraan gedink het nie.

Onderwyl ons so sit en wag, sien ek uit die hoek van my oog ’n jong vrou wat in die donkerte agter my verbystap.

Toe ek my weer kom kry, het sy haar vingers van agter af om my keel gesluit en met haar volle gewig op my skouers geleun.

Des Blow het oorkant my gesit en ek het gesien hoe rek sy oë onderwyl hy die petalje aanskou.

Ek het net ernstig begin wonder oor hoe die toneel hom verder gaan afspeel toe sy net so onverwags haar hande verwyder en sonder ’n woord by die vertrek uitstap onderwyl ek en Des haar agterna staar.

Of sy ’n pasiënt was of ’n personeellid met ’n verwronge sin van humor, weet ek nie, maar sy het gewis die res van my dag bederf.

Die tweede voorval het gebeur toe ek as hofverslaggewer aan die gesels geraak het met ’n verkeersman wat in een of ander saak kom getuig het.

Hy blyk toe ’n heel interessante ou te wees.

Hy was ‘n bekende amateur-bokser en het nog ’n klomp ander dinge ook gedoen wat ek nie nou meer kan onthou nie.

Op kantoor vertel ek die nuusredakteur van Die Transvaler, Willie Buys, van die ou.

Willie was op sy dag self ’n bedrewe amateur-bokser en hy het toevallig van die ou geweet.

Hy stel toe voor dat ek ’n storie vir die tydskrifbylae by DT doen.

Ek en die verkeersman het net lekker by sy huis in Kensington in die ooste van Johannesburg begin gesels toe ’n pragtige vrou met ’n helse blou oog die sitkamer binnestorm.

Sonder omhaal vertel sy my:

(a) die ou met wie ek die onderhoud voer, is haar man,
(b) dat hy haar die vorige aand so geslaan het, en
(c) dat ek dit asseblief in my storie moet meld.

Gedurende hierdie hele relaas het die ou doodstil daar gesit en grinnik. Hy was vertroud met die media en hy het goed geweet ek was nie daar om oor sy vrou te skryf nie.

Ek voer toe ’n uur lank heel beleefd ’n onderhoud met die ou onderwyl sy vrou hom vanuit haar stoel met haar ongeskonde oog aangluur. En ek is baie dankbaar die dinge het 40 jaar gelede gebeur, want ek glo nie my senuwees is nou nog teen sulke gebeure bestand nie.