ANDRIES BOTHA skryf: Boet en Hint Hyman, die broers wat die tydskrifempaaier, Republikeinse Pers, van feitlik niks af geskep het nie, was baanbrekers met Afrikaanse geelpers-leesstof. Hulle het met Keur en Fyn Goud begin en die twee uitgebou tot groot sirkulasiesyfers met gewaagde foto’s (vir daardie tyd) van skamelgeklede filmsterre, soos die aamborstige (so genoem, omdat die die gleuf tussen die twee borste blykbaar ’n aam of wat diep was) Jayne Mansfield en Marilyn Monroe, en vervolgverhale wat
verbeeldingsvelde verken het wat tot dan toe nog in Afrikaans ongekaarteerde gebied was.
Ek het twee stories oor hulle gehoor wat moontlik apokrief is, maar ek meen tog dis die moeite werd dit oor te vertel.
Die een storie gaan oor ’n tassie met geheime dokumente daarin. Iemand het die tassie uit ’n kluis gaan haal en aan die einde van die eerste hoofstuk is hy toe vermoor en ’n tweede geheimsinnige karakter het dan die tassie in sy besit gehad.
In die tweede hoofstuk is die man dan agtervolg en na verskeie avonture is hy vermoor en die tassie was in nuwe hande.
En so het dit hoofstuk ná hoofstuk voortgegaan. Die eienaar van die tassie word vermoor en ’n nuwe man het dan die tassie. Maar niemand weet wat die inhoud van die tassie is nie.
In die laaste hoofstuk het hulle toe die man met die tassie ná vele avonture laat vervolg en uiteindelik is hy gejaag tot by hoë kranse met ’n golwende see honderde meter daaronder. Daar is hy vasgekeer en daar was geen wegkomkans nie.
Spring hy toe tassie en al in die see. Einde van die storie.
Lesers was glo smoorkwaad. Talle het briewe geskryf. Hulle wou weet wat was in die tassie.
Dan was Boet en Hint glo op ‘n kol om die beurt aan die skryf aan ’n vervolgverhaal. Volgens oorlewering was hulle twee toe kwaad vir mekaar oor iets en het hulle mekaar probeer vas skryf.
Aan die einde van elke hoofstuk het hulle die held dan om die beurt in die benardste situasie laat beland en die ander broer moes hom dan op wonderbaarlike wyse uit die penarie kry.
Boet het die held toe aan die einde van een hoofstuk laat vang, sy hande en sy voete laat boei, hom in ’n put laat afgooi en die boewe het hom daar met beton toegemessel. Die hoofstuk eindig toe waar hy hyg na asem in die donker gat…
Hint het nie eens probeer om die held daar uit te kry nie. Toe laat hy hom sommer sonder verduideliking in die volgende hoofstuk se eerste paragraaf so ewe fluit-fluit in die straat afstap!
Uitgewer Gert Basson (eens van Voortrekkerpers) het ‘n klompie jare gelede dieselfde storie ietwat anders aan Die Burger vertel, en dat dit eintlik oor Sep Smidt gaan. “Tot groot konsternasie van die redakteur van 'n tydskrif waarin een van Sep se vervolgverhale verskyn het, moes hulle op 'n dag teen saktyd ontdek daar is geen storie nie en Sep het soos 'n groot speld verdwyn.
'n Noodmaatreël dat iemand van die redaksie die hoofstuk moes "oorneem", wou eenvoudig nie werk nie, want niemand had raad nie met die held wat aan die einde van die vorige hoofstuk in 'n baie diep gat vol krioelende giftige slange gelaat is. Eindelik spoor hulle Sep op, plak hom voor die tikmasjien neer en vra hoe kan hy hulle in so 'n penarie los met 'n held in 'n plofbare situasie. Skouerophalend kom die antwoord toe dat hy nie kan help as hulle so verbeeldingloos is nie. Sit daarna sy hande op die toetse en tik: "Met 'n magtige sprong...”