Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

8.6.16

Bienkie laat 'n leemte

MARGARET LOMBARD skryf: Bienkie Wessels – sy van die fyn woordkuns, die gul glimlag en die heerlike humorsin – is Maandag, 6 Junie by haar huis in Parktown-Noord oorlede.

Ek het Bienks (soos ek haar meestal genoem het) in Mei 1971 ontmoet toe ons albei by Lindsay Smithers Skakelkonsultante gewerk het.

Ten spyte van ‘n ouderdomsgaping van 22 jaar het ons dadelik ge-“kliek”. Lees, skryf, reis en die teater was van ons vele gedeelde vreugdes.

7.6.16

Bienkie Wessels verloor stryd teen kanker

Frans Wessels skryf: My ma, BIENKIE WESSELS, is Maandag oorlede ná n lang stryd met kanker.

Reëlings ivm die roudiens sal aan julle gestuur word.

Bienkie was 'n kranige koerant- en tydskrifjoernalis; die skrywersbloed het dik deur haar are geloop.

Sy was ook 'n getroue K'rant-leser, en het graag op die hoogte gebly van al haar oudkollegas se doen en late.

Ongelukkig moes sy die laaste reünie misloop agv haar verswakte gesondheid.

Sy gaan 'n groot leemte laat, sowel in haar vriendekringe as die joernalistieke wêreld.

31.5.16

Neil Steyn oorlede

Nog `n Perslegende, NEIL STEYN, is Maandagmiddag oorlede.

Neil was sportredakteur van Hoofstad en later van Transvaler. Hy het as assistent-redakteur van albei koerante gedien. -- Piet Ebersöhn.

(Foto sowat 40 jaar gelede geneem. -- Red.)

SKRYF … siel-salf vir die treur

JASPER SCHELLINGERHOUT (voormalige hoofsub by Die Vaderland en daarna dominee van die Evangelies Gereformeerde Kerk) skryf: Flenters van die Ewigheid, die boek van KOOS BOTHA oor die verlies van sy kosbare kinders (berig HIER), het my laat teruggryp na hoe ek ook deur te skryf, doodsmart draagliker help maak het. Nie dat ek enigsins meen my verlies naby gekom het by wat kollega Koos beleef het nie. Dalk beteken die onderstaande iets vir die treuendes van oudkollegas Piet Roos, Hans Lombard en al die ander. (Hierby sluit ons in Danie Malan, Mack van der Walt en almal wat op die Vergeet-nie-lys is - Red)

24.5.16

Laaste onderhoud met veteraan-joernalis Hans Lombard

PEET SIMONIS skryf: Hans Lombard het Donderdagoggend gesterf toe hy op Bothaville, waar hy die Nampo-Oesdag bygewoon het, skielik in die nag doodsbenoud geword en die asmapompie nie meer kon help nie.

Magriet (sy vrou): “Ek het geweet dis die einde. ‘Dis reg Hans, jy kan maar gaan -- ek sal OK wees’," het ek vir hom gefluister en sag die liedjie Nader My God by U vir hom geneurie. Hy het in my arms gesterf.

Hans Lombard het in April 90 geword. Hy en Magriet (eintlik Margaret maar hy het haar Magriet genoem en sy wil so genoem word) was 41 jaar getroud. Hy het een seun (Paul) gehad uit sy eerste huwelik en hy is ook onlangs oorlede.

23.5.16

Hans Lombard se diens more


Klik HIER vir 'n padkaart. 
Speel met die muis om die kaart te beweeg en groter of kleiner te maak.

20.5.16

Hans was nuushond soos min

MARTIE MEIRING skryf: Hans Lombard se dood is ongelooflike hartseer nuus. Hy was ‘n legende en sal sekerlik ook baie lank onthou (en geëer) word vir sy nuushond-talent. Dat hy juis by Nampo sou doodgaan, klink amper of Hans dit self so wou gehad het dat hy in die tuig sou sterf.

Dankie Hans vir die groot vriendskap en dankie Margaret dat jy Hans se beste was. Hy sal ook altyd onthou word vir die ewige gentleman wat hy was.

19.5.16

Perslegende oorlede

Een van die legendes van die Afrikaanse joernalistiek, Hans Lombard, is om 02:00 vanoggend by die Nampo-oesfees op Bothaville oorlede.

Hy het op 8 April sy 90ste verjaardag herdenk en het nog vol in die tuig gestaan met die bedryf van sy eie skakelonderneming.

Sy vrou, Margaret, laat weet hy het van benoudheid wakker geword, vir sy asmapompie gevra en is byna onmiddellik daarna oorlede.

11.5.16

Danie Malan oorlede

DANIE MALAN, oudkollega van Die Transvaler, is vroeër vandeesmaand in sy slaap aan ‘n hartaanval oorlede.

Hy was die eksman van Lala Wahl.

Danie was 'n saggeaarde gentleman. Hy het hard gespeel en hard gewerk en was bemind onder sy kollegas.

10.5.16

Aanwysings na Piet Roos se gedenkdiens

Kaart na NG Kerk, Florauna, Pretoria-Noord waar Piet Roos se gedenkdiens op Donderdag, 12 Mei 2016 gehou word. KLIK HIER. Klik die linkerknop op jou muis en beweeg die kaart.

6.5.16

Piet Roos dood op pad na sy huweliksherdenking

PEET SIMONIS skryf: Piet (“Pille”) Roos (68) en sy vrou Chrisna was in die Kaap om hulle elfde huweliksherdenking te vier toe hy verlede Saterdag verongeluk het.

Van Chrisna se nekwerwels en ribbe is gekraak en sy het ander beserings opgedoen, maar is reeds uit die hospitaal ontslaan en terug by hul huis in Pretoria.

Sy sê haar hele lyf is blou en seer. sy kan niks van die ongeluk onthou nie – net dat hulle van Bloubergstrand af op pad Stellenbosch was.

1.5.16

Piet Roos oorlede

PIET ROOS, oud-Vaderlander, is Saterdagmiddag in 'n padongeluk naby Stellenbosch oorlede. Sy vrou, Chrisna, is in die Mediclinic, Stellenbosch opgeneem. Volgens 'n vriend van Piet het 'n geldwa 'n ander vragmotor op 'n sperstreep verby gesteek en 'n kop-aan kop-botsing veroorsaak.

Piet was 'n lewenslustige en joviale mens. Nadat hy die joernalistiek verlaat het, het hy aptekerswese studeer.  Hy het 'n apteek in Pretoria-Noord gehad.  Dié beroep het hom die bynaam van "Piet Pille" by sy Perskorkollegas besorg.

15.4.16

Blaas nuwe lewe in K'rant!

PHILIP DEETLEFS skryf: Hier by K'rant huldig ons die mening dat hierdie publikasie nie net lekker onthou-stories van oud-werknemers van Perskor en aanverwante publikasies bevat nie, maar dat dit ook 'n nuttige naslaanbron oor die geskiedenis van die joernalistiek en die drukkersbedryf in die era voor die heengaan van Perskor is.

23.3.16

Die Vaderland se mooiste mevrou nou weer gekroon

Die mooie Candice Abrahams is in Oktober 2015 as Mev Suid-Afrika en nou die dag as Mev Wêreld gekroon.

Maar dis vergete dat die eerste Mev Suid-Afrika-wedstryd 46 jaar gelede deur Die Vaderland aangebied is. Dit was ‘n groot sukses.

18.3.16

Perskor-reunie beste in jare

PEET SIMONIS skryf: Die afgelope naweek se Perskor-reunie was een van die beste in jare.Meer as sestig oudkollegas van Perskor het by die Keg and Eagle in Johannesburg die geleentheid bygewoon.

Daar is heerlik saam gekuier en geëet. Hans Lombard, wat eersdaags 90 word en nog op en wakker is, het almal vermaak met sy lekker stories uit sy joernalistieke dae.

Hy het wonderlike materiaal vir ´n boek. Toe iemand voorgestel het dat hy die staaltjies oor sy joernalistieke ervaringe moet boekstaaf, het dit groot byval gevind. (Volgende jaar se reünie is dalk net die plek om die boek bekend te stel, Hans? - Red.)

16.3.16

Skitterende reünie

Solly van Staden
PIET ROOS skryf: Die Perskorreünie Sondag was skitterend.

Groot was my verbasing toe ek my ou pêl, Solly van Staden weer raakloop. In 1973 het ons by Komatipoort gaan verslag doen oor die Portugese wat uit Mosambiek vlug.

Dit was die lekkerste trippie uit. Ek en Solly het op Komatiepoort gebly en tunaslaai geëet en op die brug by die Krokodilrivier gaan kyk na die vis en krokodille.

Dit was 'n trippie van twee dae, maar ons het 'n week gebly. Daar was feitlik geen foto's of kopie nie, maar ons het dit geniet!!

14.3.16

Vier rugbyspioene skrum ná 40 jaar saam

Vier veterane het nou die dag vir ʼn foto langs mekaar gaan sit, van links na regs, in dieselfde volgorde as op ʼn foto wat veertig jaar tevore in Nieu-Seeland geneem is. Dit was nogal ʼn heuglike geleentheid toe John du Toit, Wessel Oosthuizen, Herman le Roux en Gerhard Burger op John se plasie by Eikenhof, suid van Johannesburg, byeengekom het.

Die vier, wat verskeie internasionale toere saam meegemaak het, het ewe besadig ʼn wyntjie gedrink en toe saam met John se vrou, Colleen, en hul dogter Elmarie ʼn middagete geniet waaroor ʼn tydskrif-artikel geskryf kan word.

11.3.16

Klein Charles loop kaalbas weg om te gaan jag

Illustrasie
Heleen Clemens van Pretoria het vir ons 'n interessante versoek gestuur.

Haar man, Charles, het haar vertel hoe hy in 1968 die voorblad van Hoofstad gehaal het toe hy as 4-jarige seuntjie van die huis in Villeria af weggeloop het met net sy rooi speedo aan en 'n jagmes om sy lyf. Hy is toe by Pretoria-stasie gekry waar hy vertel het dat hy op pad Suidwes (Namibië) toe was om te gaan bokke skiet!

Heleen wonder of daar 'n leser van K'rant is wat dalk die storie geskryf het? Sy wil baie graag ook die koerant opspoor waarin die berig verskyn het.

Kom ons kyk of ons vir Heleen kan help. Laat weet gerus vir K'rant as iemand iets hiervan kan onthou. - Red.)

10.3.16

Koos Botha onthou die flenters van die ewigheid

KOOS BOTHA het vir Die Vaderland gewerk tot Maart 1962, daarna elf jaar vir die SAUK-nuusdiens en toe weer 20 jaar vir Die Transvaler tot April 1993. Sy twee jongste kinders, Daan (25) en Ruth (20) is in Februarie 1993 in 'n padongeluk by Winburg dood. Hy het op 9 Februarie sy kinders gaan uitken op Winburg en in Bloemfontein. In die jare daarna het hy oor hul dood geskryf en sy boek daaroor, Flenters van die Ewigheid, het in Julie 2015 verskyn.

Koos skryf: Ek het in die afgelope 23 jaar sedert die sluiting van Die Transvaler my hoofsaaklik met my boek en houtwerk, ook houtbeeldhouwerk, besig gehou.  Ek het nog nie 'n bydrae vir K´rant gestuur nie. Hier is iets oor my boek.

9.3.16

Huldeblyk aan Marius Kleynhans

JOHAN PRETORIUS skryf: Om ‘n huldeblyk te lewer ná die dood van iemand anders wat jy baie goed geken het, moet jy uiteraard gaan sit en dink wat om te sê, en dit dan verwoord.

Soms sukkel jy om genoeg karaktertrekke, eienskappe en prestasies van ‘n sekere mens te onthou, en om dit weer te gee sonder om hier effe te oordryf en daar bietjie aan te dik. Of om sekere dinge te onderbeklemtoon. Al is dit dan net om sy naasbestaandes te laat goed voel oor sy nagedagtenis.

25.2.16

Marius Kleynhans oorlede

K’rant berig vandag vir die tweede keer in enkele dae oor die afsterwe van ‘n oud-kollega. Dié keer is dit Marius Kleynhans (links) wat vroeër vir Die Transvaler oor die politiek verslag gedoen het. Hy het ook vir SAUK-TV uit die parlement verslag gedoen.

'n Private lewensviering word aanstaande week gehou. Dit kan slegs op uitnodiging bygewoon word.

20.2.16

Johan van Wyk sterf

JOHAN VAN WYK (65), voormalige sportredakteur en deurwinterde atletiekskrywer van Rapport, het gistermiddag (19 Februarie) op kantoor in MediaPark, Johannesburg, inmekaargesak en gesterf.

Hy het einde Augustus afgetree, maar het nog Vrydae en Saterdae vryskutwerk vir die koerant gedoen.

Johan het oor talle Olimpiese Spele verslag gedoen.

18.2.16

Soektog na Swazi se bont klippe

HAZEL CUTHBERTSON writes: I came across the K'rant blog today, and I wonder if you could help me?

I am trying to contact Gert Coetzee who had an article published in Die Vaderland on 10 June 1975. It was called "Ou Swazi se bont klippe op die kyk-kassie".

5.2.16

Spring gou

Oud-kollegas moet gou spring om te bespreek vir Perskorreünie, 2016.  
Die plekke word opgeraap.  Vanoggend was nog net 31 oor.

2.2.16

Wie onthou vandag 26 jaar gelede?

GERHARD BURGER het die redaksie daaraan herinner dat dit vandag in 1990 was toe oud-president FW de Klerk sy opspraakwekkende toespraak tydens die opening van die parlement gehou het en wat die einde van apartheid beteken het.

Gerhard wil weet wie van K'rant se lesers kan onthou waar hy daardie dag was en wat sy joernalistieke betrokkenheid was, indien enige? Ons sien uit na julle herinneringe. -- Red.

1.2.16

Reünie 2016: Geborg deur Dagbreektrust

PIET EBERSÖHN en LOUISE BLAKE skryf: Vanjaar se saamtrek van oudwerknemers van Perskor en sy voorgangers (dis nou APB, Dagbreekpers, Voortrekkerpers, Republikeinse Pers, ens) vind op Sondag 13 Maart 2016 by die restaurant Keg and Eagle, h/v Nic Diederichsboulevard en Hendrik Potgieterweg, Wilgeheuwel, Johannesburg plaas. Dis by die Lifestyle The Hub Crossing, langs die restourant waar ons verlede jaar vergader het. (Wesrand Retail Crossing.)

Die ete begin stiptelik om 12:30. Kom van 11:30 af en kuier eers lekker saam. Daar is ‘n lekker kroeg. Ons gaan by dié geleentheid Hans Lombard se 90ste verjaarsdag (5 April) vier.

18.1.16

Die Vaderland voorspel sneeu vir die Laeveld

PIET ROOS skryf: Ons by Die Vaderland moes soggens die Weerburo skakel vir die voorspelling vir dag en aand.

So skakel ek mnr Van den Berg by die Buro.  Ek sê ek praat van Die Vaderland en wil graag die weervoorspelling kry.

"Hoekom vra jy my?", wil hy weet. "Gister skryf julle op die voorblad van sneeu in die Laeveld. Dis iets waarvan ons nie geweet het nie." 

13.1.16

Niks (nie eens die feite) klop `n goeie kop

PIET EBERSöHN skryf: Destyds by die koerant het hulle mos graag geskerts dat `n mens nie die feite met `n goeie storie mag laat inmeng nie.

Dit lyk my dit het ook `n goeie opskrif gegeld.

Met `n gesnuffel in eksemplare van Die Transvaler van 1951 het ek nou die dag op `n beriggie van twee paragrawe onder die opskrif  “Transvaler wen” afgekom.

10.12.15

Al weer komkommertyd


Die afgelope jaar het toe vervlaks vinnig afgeloop.

Op K'rant se terrein is die jaar gekenmerk deur uitgawes wat nie meer so volop was soos vorige jare nie, maar as 'n mens die gemiddelde ouderdom van gewese Perskor-werknemers in ag neem, is dit seker te verstane.

Hierdie is die laaste bydrae vir 2015 want daar is al 'n vrag komkommers wat al weer hard roep om geskil te word en dis immers die redaksie se taak. Indien die rusdae enige herinneringe uit die Perskor-dae wakker skud, pen dit asb neer en stuur aan vir die nuwe jaar.

Ons wens al ons lesers alles wat goed en mooi, vredevol en vreugdevol is, toe vir die feesdae. Ry voorspoedig en kom ongedeerd tuis.

26.11.15

Chris Vermaak mis sperdatum én die oorlog

KARIN PRETORIUS skryf: Ek het geweet as K'rant bietjie karring aan ons geheue gaan dit my aan een of twee stories laat dink wat ek nie andersins sou onthou het nie:
i) die beste -- maar werklike -- verskoning vir ‘n sperdatum wat nie gehaal is nie en
ii) ‘n scoop vir jou koerant omdat die opposisie nie na jou wyse raad wou luister nie!

Op 10 Februarie 1981 -- bykans ‘n jaar ná onafhanklikheid in Zimbabwe -- is die Entumbane militêre kamp naby Bulawayo in ‘n slagveld omskep toe Zipra- en Zanla-magte van onderskeidelik mnr Joshua Nkomo en eerste minister Robert Mugabe slaags geraak het.

30.10.15

Nuuskierige toeriste by staatsleiers se nuuskonferensie

NIC VAN OUDTSHOORN skryf: Ek het Gustaf Pienaar se berig oor die nuuskonferensie van John Vorster en James Callaghan met belangstelling gelees want ek was ook daar.

Ek was destyds ('n ruk nadat ek by Landstem gewerk het) skakelbeampte vir Rhodes-universiteit en ook 'n korrespondent vir 'n paar Britse koerante.

Een van hulle het my laat weet van Callaghan se besoek en ek is toe vinnig van Grahamstad na Port Elizabeth.

Amelia verloor stryd teen kanker

DRIES SONNEKUS het laat weet: My dogter, Amelia, is gisteraand oorlede (54 geword in September) ná ‘n stryd van baie jare teen kanker. Daar is drie dogters; die jongste een word maar 11, die oudste doen haar laaste jaar internskap by 3 Militêre Hospitaal in Bloemfontein. Die begrafnis sal in Bloemfontein wees maar ek weet nog nie wanneer nie. (Dries kan by sontaal@mweb.co.za gekontak word - Red.)

26.10.15

Toe John Vorster soos 'n sif gelek het

Gedurende sy SAUK-jare in Port Elizabeth (1973-1977) moes GUSTAF PIENAAR jaarliks toesig hou by die opname van premier John Vorster se nuwejaarsboodskappe. Een opname onthou hy veral vanweë 'n gemoedelike gesprek tussen Vorster en 'n joernalis wat op 'n verrassende noot geëindig het. (Dis nou nie ‘n Perskor-storie nie, maar synde uit dieselfde werksagtergrond plaas ons die interessante storie graag - red)

Dwarsdeur die wêreld gebruik staatshoofde en politieke leiers die jaarwisseling om hul volgelinge oor radio en televisie toe te spreek en hul sterkte vir die nuwejaar toe te wens. So is dit ook in Suid-Afrika.

22.10.15

Piet skrik hom boeglam - eers vir luiperd, toe vir brak

PIET ROOS skryf: Twee keer het ek geskrik. Groot geskrik.

Die eerste keer was daar by Loskopdam waar 'n "mak" jagluiperd my gebyt het. Ek het 'n storie gaan doen oor Des Varaday se jagluiperdplaas en hy vat my die kamp in. Ons stap stadig deur die bosveld en daar lê 'n jagluiperdwyfie so neffens 'n doringboompie.

Ek buk om 'n vloer-foto van die dier te neem en alles is nog reg.

20.10.15

Aas vir storie-vangs

PHILIP DEETLEFS skryf: Ná Piet Ebersöhn se reeks skitter-onderhoude met oom Hermie Hendriks en ander bydraes van die jongste tyd het ons heelwat terugvoering gehad van gereelde lesers wat vir ons vertel het hoe lekker dit is om weer iets nuuts op K'rant se voorblad te sien, en die redaksie stem saam!

Martie Retief Meiring se boodskap is sprekend van die terugvoering wat ons gekry het:

16.10.15

Skaterlag oor panty op 'n paal

JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: Evert van Niekerk, oudmotorredakteur van Die Vaderland, was altyd half deurmekaar en stillerig as hy by sy klein glaskantoortjie in Aucklandpark aangekom het.

Hy was vroeg-oggend nie juis spraaksaam nie. Seker maar nie ‘n oggend-mens nie. Maar een oggend ná sy aankoms bars hy kort-kort van die lag uit. Het julle ouens dan nie gisteraand radio geluister nie? En hy mompel iets van “die baas”.

Nou wat het aangegaan, Evert? vra een van die ouens (dalk nog Tom Buys), geamuseerd.

13.10.15

Die Kunstige Perskorhane

PIET ROOS skryf: Daar is hele swetterjoel kunstenaars, spotprenttekenaars en illustreerders wat bydraes gelewer het aan die Perskor-publikasies.

Ons dink altyd eerste aan Len, maar daar was manne soos Lou Henning, Jurko Jankovic, Dov Fedler, Andre de Beer.

Murray en Elzabe Schoonraad het 19 jaar lank navorsing gedoen en 'n ensiklopedie saamgestel van al die kunstenaars van 1900 tot so 1989. Murray is professor in Skone Kunste aan Tukkies en Elzabe het 'n DSc in Plantkunde en ek deel graag die inhoud met K´rant.

9.10.15

Sat vir politiek


Op Jannie Kruger se dienstyd as redakteur van Die Transvaler het die ongelukkige eksperiment met twee mederedakteurs, dr GD Scholtz en Jan van Rooyen, gevolg.

Ek het die indruk gekry dat Van Rooyen moeilik by Scholtz se politieke styl aangepas het. Scholtz, ‘n mens op sy eie, was sekerlik een van die grootste karakters met wie ek saamgewerk het. Hy het onder meer ‘n fantastiese – eintlik fenomenale – geheue gehad. Dit het nie net politieke, geskiedkundige en nuusfeite gegeld nie, ook sport- en selfs perdewedrenuitslae. Hy het byvoorbeeld baie jare se wenners van die Durbanse July-perdewedren op sy vingerpunte geken.

7.10.15

Hendrik Verwoerd was hardkoppig, maar ware heer


Met Hendrik Verwoerd se aanstelling by DT het hy eers ‘n tyd lank by Die Burger gewerk om die ABC van die koerantwese te leer. Daar is vertel dat hy so ‘n goeie leerling was dat hy selfs die tee gemaak het.

Ek onthou hom as ‘n ware heer, maar iemand wat baie sterk standpunt kon inneem. As hy ‘n besluit geneem het, is hy nie maklik oortuig om dit te verander nie, soos sy teenstanders in die politiek later maar alte deeglik ervaar het.

5.10.15

Misdaadstories moes oorlogstories vervang



K’rant (met Hans Lombard se hulp) het uiteindelik vir HERMIE HENDRIKS, oudredakteur van Die Transvaler, omgepraat om van sy ervarings oor 40 jaar as joernalis in diens van die Voortrekkerpers, die Afrikaanse Pers, Dagbreekpers en uiteindelik Perskor, met ons lesers te deel. Die Transvaler se geskiedskrywer, Piet Meiring, het oom Hermie bestempel as “een van die bouers van ons koeranttradisie”.

Teen die einde van 1944 het die leidende geeste by Die Transvaler gemeen dat die Tweede Wêreldoorlog einde se kant toe staan en besluit om ‘n misdaadverslaggewer aan te stel om die leemte te help vul wat ‘n gebrek aan oorlogsnuus kon laat.

My broer, Hein (Die skrywer R Hendriks, wat ook die Rooi Jan-boeke onder die skuilnaam Casper H Marais geskryf het. – Red), het vroeër vir DT gewerk en was op daardie tydstip ‘n vryskutskrywer, wat onder meer speurverhale geskryf het, en hy is genooi vir ‘n onderhoud om die pos te vul.

2.10.15

EKSKLUSIEF: Oom Hermie lig die sluier!

Hermie Hendriks
40 jaar gelede
Hermie Hendriks
onlangs
Ná vier dekades in die joernalistiek en by publikasies wat in K'rant se stal pas, het Piet Ebersöhn die voorreg gehad om die merk- waardige Hermie Hendriks se geheue te tap. Hy lig die sluier oor groot name uit die verlede.

Maandag, Woensdag en Vrydag word hierdie baie interessante en heerlike lekkerlees-verhaal in K'rant gepubliseer.

Maak seker jou K'rant beland saam met jou koffie op die ontbyttafel!

1.10.15

Statige Kitty Vermaak, ‘n vrou met smaak

ESTELLE DE BRUYN skryf: Ek was vir 'n bitter kort tydjie deel van die Perskor-familie, skaars 18 maande. Maar die juwele in my herinneringe sal altyd by my bly. Ek onthou die uitsonderlike Kittie Vermaak: Vroueblad-redaktrise van Die Vaderland.

Kittie het haar half oor my ontferm, want ek was ‘n boere-girl van Orkney met 'n PU vir CHO-graad wat my in die ongelooflike wêreld van die Goudstad se joernalistiek begewe het.

29.9.15

Kom ons leer Russies praat


André du Toit
ESTELLE DE BRUYN skryf: Die assistent-redakteur van Die Vaderland toe ek in1981-1982 daar gewerk het, was André du Toit. Hy het eendag vertel dat hy Russies leer.

Hoekom? wou ons weet. Ai ai ai, verduidelik hy aan ons groot-oog jong joernalissies: "As die kommuniste hier oorneem, en die Russe kom, gaan ek die ou wees wat hulle wys waar die kafeteria en die toilette is!"

14.8.15

Juhan Kuus is oorlede

SUZELLE FOURIE skryf: Met ‘n geskeurde skouerspier wat my uit die slaap hou, bring ek my nagte meestal deur met swerftogte op die internet. Tydens so ‘n laatnag geswerf die afgelope week kom ek toevallig af op ‘n berig oor die onlangse dood van fotograaf Juhan Kuus in Kaapstad.

Ek het Juhan nie goed geken nie, maar onthou hom wel. Hy het in die vroeë jare sewentig saam met oorle’ Gerrie (fotograaf Gerrie Fourie, Suzelle se man -- Red.) vir Rapport gewerk en ek onthou dat Gerrie destyds groot agting vir Juhan se werk gehad het. Hy het hom as een van die beste persfotograwe in Suid-Afrika beskou, ‘n mening wat deur vele ander in die beroep gehandhaaf is.

31.7.15

Piet spring loesing vry

PIET ROOS skryf: Kemptonpark was destyds 'n sentrum vir die aanspreek van sake vir dwelm- en porno-oortredings omdat die lughawe daar was. Die ouens wat op die lughawe gevang is, is na die plaaslike landdroshof gebring.

In daardie dae was onsedelikheid 'n baie ernstige misdaad. Die manne het oorsee sulke opvoedkundige tydskrifte soos Playboy en ander stoutighede gekoop en huis toe gebring.

So was daar 'n welbekende man en sy maters van Vrede in die Vrystaat wat bietjie oorsee gaan pret maak het.

29.7.15

Reisgogga byt vir Ona by Die Transvaler

ONA VILJOEN skryf: Dis moeilik om te onthou presies wanneer die reisgogga my gebyt het. Dalk was dit toentertyd toe Club Med my na Reunion-eiland uitgenooi het om ’n artikel oor hulle vir Die Transvaler se naweekbylae te skryf.

Ai, hoe lekker was dit nie!! Behalwe dat ek en ’n ander meisie wat ook hulle gas was, een oggend besluit het om "topless" op ’n afgeleë stuk strand te gaan "tan" (dit was nog voordat swaartekrag sy tol geëis het). Sjoe, daardie aand het ons die gevolge gedra: bloedrooi was daardie sensitiewe gedeeltes. In so 'n mate dat die bestuurder se vrou vir ons jogurt gebring het om aan te smeer. Dit trek glo die angel van sonbrand uit!

13.7.15

SA se beste fotograaf in sy tyd

SIPKE DE VRIES skryf: Ek is vreeslik jammer om te hoor van Gert se afsterwe. Ek het 'n rukkie gelede nog met hom en sy vrou Marie gesels. Dit het toe nog goed gegaan met hulle.

Gert Hattingh was in 1963 my eerste "baas" as hooffotograaf van Die Transvaler. Ek het pas uit Nederland hier aangekom en dit was my eerste werk in Suid-Afrika. Gert het my die fynere kunsies van die persfotograafwerk geleer.

10.7.15

Talentvolle Gert Hattingh Woensdag ter ruste

GERT HATTINGH se vrou Marie het laat weet dat Gert se roudiens Woensdag 15 Julie in die NG Kerk Hartenbos gehou sal word. Sy het gesê Gert het onlangs maagprobleme ontwikkel wat veroorsaak het dat hy die afgelope twee weke nie meer kon eet nie. Gert is eergisteroggend (8 Julie 2015) oorlede.

As 'n huldeblyk aan Gert publiseer K'rant 'n storie oor Gert wat in April 1991 in Perskorhaan gepubliseer was.

8.7.15

Gert Hattingh oorlede

Gert Hattingh, voormalige fotograaf van onder meer Die Vaderland en Die Transvaler, is vanoggend oorlede. K'rant sal hopelik binnekort meer inligting hê.


23.6.15

Van treindrywer tot spotprenttekenaar

WEYNI DEYSEL was nie net een van Suid-Afrika se befaamde spotprenttekenaars nie. Hy was 'n leergierige mens. Voor hy by Die Vaderland spotprentkunde by Len Lindeque geleer het, het hy geleer om 'n treinmasjinis te word en toe dit hom nie meer aangestaan het nie, het Weyni teologie gestudeer.

Weyni is in 1951 in Port Elizabeth gebore en het in 1970 aan die Pretoriase Kunsskool gematrikuleer.

1.6.15

In die greep van die nul-uur vasgevang

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Ek moes tien jaar lank
tweeweekliks vir Rose Rose die rubriek "Doodluiters" skryf.

Die eerste helfte van die tyd was ek heeltyds in die redaksie van die tydskrif en was dit maklik om ´n onderwerp te vind. Ek kon my van die redaktrise, Martie Snyman, en van my kollegas laat inspireer.

Die tweede helfte was ek egter reeds in die buiteland. Ek was jonk getroud en die ma van twee klein kinders. Die rubriek moes daardie jare nog vroegtydig per lugpos gestuur word.