Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

1.10.15

Statige Kitty Vermaak, ‘n vrou met smaak

ESTELLE DE BRUYN skryf: Ek was vir 'n bitter kort tydjie deel van die Perskor-familie, skaars 18 maande. Maar die juwele in my herinneringe sal altyd by my bly. Ek onthou die uitsonderlike Kittie Vermaak: Vroueblad-redaktrise van Die Vaderland.

Kittie het haar half oor my ontferm, want ek was ‘n boere-girl van Orkney met 'n PU vir CHO-graad wat my in die ongelooflike wêreld van die Goudstad se joernalistiek begewe het.
Kittie Vermaak

My geheue is nie meer so goed nie (dit was meer as 30 jaar gelede).
Ek onthou egter hierdie mooi staaltjie van Kittie (sy was nie 'n "tannie" nie, ons was kollegas) en dus met eerbied vertel ek dié storie van Kittie.

Sy het die een of ander jong "up-and-coming" mode-ontwerper (van wie ek die naam vergeet het) raakgesien. Vir hom goeie "write-up's" geskryf en my saamgeneem na van sy modeparades.

Een dag vertel Kittie my met groot opgewondenheid dat die betrokke ontwerper vir haar die eer aangedoen het om vir haar 'n uitrusting te ontwerp, uit erkenning vir haar bydrae tot sy meteoriese reis na die eerste rang van die Suid-Afrikaanse modewêreld.

Maar dierbare Kittie het nee dankie gesê!
“Huh?”, vra ek?

"Ag, skat, ek het 'n ou Vogue-patroontjie vir 'n rokkie wat ek nog altyd wou hê, en mooi lap. Die boetietjie se klere is so mooi, maar dit pas nie by my ouderdom nie. Ek het hom net gevra om die ou rokkie vir my van die Vogue-patroontjie af te maak met my lap."

Klassieke Kittie. Sal haar nooit vergeet nie.