Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

23.6.15

Van treindrywer tot spotprenttekenaar

WEYNI DEYSEL was nie net een van Suid-Afrika se befaamde spotprenttekenaars nie. Hy was 'n leergierige mens. Voor hy by Die Vaderland spotprentkunde by Len Lindeque geleer het, het hy geleer om 'n treinmasjinis te word en toe dit hom nie meer aangestaan het nie, het Weyni teologie gestudeer.

Weyni is in 1951 in Port Elizabeth gebore en het in 1970 aan die Pretoriase Kunsskool gematrikuleer.

Volgens AFRICARTOON (klik HIER) het Weyni uit erkenning aan sy leermeester, Len Lindeque, se wurm-kenteken in sy spotprente geïnkorporeer. Die wurm het dekades lank politieke kommentaar in die voetnotas van Weyni se spotprente gelewer.

In die jare ná Die Vaderland het Weyni homself gevestig as 'n gesiene spotprenttekenaar uit sy eie reg, waar hy naam gemaak het by publikasies soos Rapport, Sunday Times en The Citizen.

Weyni se humorsin is in sy spotprente weerspieel. Prettige humor sonder venyn was ook sprekend van sy persoonlikheid. Hy het met 'oudmodiese' gereedskap soos verfkwasse sy skeppings op papier gebring.
Weyni het hom ook graag op die hoogte van sake gehou met die jongste nuus en politieke gebeure en het sinvolle bydraes by redaksionele konferensies kon maak.

Weyni se werk het verskillende dissiplines omvat – van spotprente vir die media, kommersiële werk en later het sy omslae vir Leon Schuster se CD-omslae sinoniem met Schuster se komedie-handelsmerk geword.

In 2009 het Weyni die Vodacom Joernalis van die Jaar-toekenning in die spotprent-kategorie gewen vir die Gauteng-gebied vir sy "humoristiese retoriek en verbeelding van die val van Carl Niehaus".

Voor dit was hy Standard Bank se Spotprenttekenaar van die Jaar in 1983, 1984 en 1985. In 1989 het hy die FAK-prys gewen en in 2001 die Absa Dolfyn-prys.

Weyni is 'n dag ná sy 59e verjaardag op 15 Mei 2010 dood nadat hy selfddood gepleeg het. Hy het twee seuns nagelaat. Weyni het aan depressie gely en ironies, ook soos hy self erken het, soos baie ander mense wat graag ander mense laat lag het.

•  Weyni het ook respek by politici afgedwing.  Drie dae ná sy dood het die Nasionale Raad van Provinsies 'n mosie van roubeklag oor hom aanvaar.  Berig HIER.

• Ter herinnering aan Weyni het sy familie 'n Facebookblad geskep waarop heelwat van sy spotprente en ander werk verskyn.  Klik HIER.

(Dit sal baie gaaf wees van oud-kollegas wat staaltjies oor Weyni kan onthou om dit met ons te deel. - Red.) 

Weyni was 'n goeie kitaarspeler.  Hier is hy saam met Leon Schuster.  Hulle was goeie vriende.


'n Skildery van Weyni Deysel.
Foto's:  erkenning aan Weyni Deysel Facebookblad.