Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

13.7.15

SA se beste fotograaf in sy tyd

SIPKE DE VRIES skryf: Ek is vreeslik jammer om te hoor van Gert se afsterwe. Ek het 'n rukkie gelede nog met hom en sy vrou Marie gesels. Dit het toe nog goed gegaan met hulle.

Gert Hattingh was in 1963 my eerste "baas" as hooffotograaf van Die Transvaler. Ek het pas uit Nederland hier aangekom en dit was my eerste werk in Suid-Afrika. Gert het my die fynere kunsies van die persfotograafwerk geleer.

Gert Hattingh
Hy was op sy dag, na my mening, die beste persfotograaf in Suid-Afrika en daar was baie goeies in sy tyd.

Hy het my besonder baie geleer van buitengewone donkerkamertegnieke en die gebruik van beskikbare lig sonder die gebruik van 'n stroboskopiese flits. Hy was die Leica-man by uitstek.

Ek het ook heelwat by hom in hul woonstel in die suide van Johannesburg en later in die semi langs Die Transvalergebou in Jorissenstraat gekuier.

Hy was 'n goeie mens en ek wens sy vrou Marie en hul seuns baie sterkte in hierdie moeilike tyd toe.