Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

14.8.15

Juhan Kuus is oorlede

SUZELLE FOURIE skryf: Met ‘n geskeurde skouerspier wat my uit die slaap hou, bring ek my nagte meestal deur met swerftogte op die internet. Tydens so ‘n laatnag geswerf die afgelope week kom ek toevallig af op ‘n berig oor die onlangse dood van fotograaf Juhan Kuus in Kaapstad.

Ek het Juhan nie goed geken nie, maar onthou hom wel. Hy het in die vroeë jare sewentig saam met oorle’ Gerrie (fotograaf Gerrie Fourie, Suzelle se man -- Red.) vir Rapport gewerk en ek onthou dat Gerrie destyds groot agting vir Juhan se werk gehad het. Hy het hom as een van die beste persfotograwe in Suid-Afrika beskou, ‘n mening wat deur vele ander in die beroep gehandhaaf is.

Juhan Kuus
Juhan was ‘n rare karakter, een van die oorspronklike “Bang-Bang”-fotograwe. ‘n Renegaat wat homself vreesloos in lewensgevaarlike situasies begewe het om sy foto’s te neem. Hy het self ‘n vuurwapen gedra en blykbaar nie geskroom om dit te gebruik nie.

Sy onverskrokke en kompromislose benadering tot sy roeping as ‘n “visuele dokumenteerder van die menslike kondisie” het hom groot lof besorg, maar ook dikwels in erge moeilikheid laat beland.

‘n Google-soektog gee talle webwerwe met artikels en verwysings na Juhan se werk, sy vele toekennings, uitstallings en sy boek, “South Africa in Black and White”.

Dit blyk egter ook dat sy lewe mettertyd begin uitrafel het, met ‘n drankprobleem wat hom uiteindelik sonder ‘n heenkome op straat laat beland het. Hy het steeds foto’s geneem, maar het gesukkel om ‘n bestaan te maak.

Uiteindelik het Juhan ‘n soort rusplek vir sy immer rustelose siel in die St Monica- skuiling vir hawelose bejaardes in die Bo-Kaap gevind. Volgens ‘n artikel in die jongste uitgawe van “The Big Issue” (klik HIER), ‘n tydskrif wat sonder wins deur ‘n werkskeppingsinisiatief uitgegee word en vir wie Juhan foto’s geneem het, het hy onlangs burgerskap van Estonia ontvang (sy pa was ‘n Estonian). Hy was van plan om die res van sy lewe daar deur te bring.

Die lewe het egter anders besluit. Op die oggend van 12 Julie 2015 is hy oorlede nadat hy blykbaar van trappe afgeval het. Hy was 62 jaar oud.