Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

6.5.16

Piet Roos dood op pad na sy huweliksherdenking

PEET SIMONIS skryf: Piet (“Pille”) Roos (68) en sy vrou Chrisna was in die Kaap om hulle elfde huweliksherdenking te vier toe hy verlede Saterdag verongeluk het.

Van Chrisna se nekwerwels en ribbe is gekraak en sy het ander beserings opgedoen, maar is reeds uit die hospitaal ontslaan en terug by hul huis in Pretoria.

Sy sê haar hele lyf is blou en seer. sy kan niks van die ongeluk onthou nie – net dat hulle van Bloubergstrand af op pad Stellenbosch was.

Piet en Chrisna Roos.
Peet Simonis het dié foto by verlede jaar 
se Persskorreünie geneem.
“Ek het Saterdagaand in die hospitaal wakker geword.”

Familie het vertel dat ‘n geldwa ‘n ander swaar voertuig op ‘n sperstreep wou verbysteek toe die kop-aan-kop-botsing plaasgevind het.

“Dit was ‘n baie groot skok om te hoor Piet is weg.

“Ek het ‘n foto van die wrak van sy lieflingkar gesien – ‘n ou Porsche wat altyd by ons vakansiewoonstel by Gordonsbaai gestaan het vir die kere dat ons ‘n nawekie of ‘n paar dae uit Pretoria kon wegkom.

“Die kar is plat en dis moeilik om te glo dat ek nie ook dood is nie. Die ergste skade is egter aan Piet se kant. Hy het vermoedelik effens kon uitswaai om my lewe te red.”

Piet was 'n Vaderland-joernalis voor hy gaan studeer en apteker geword het. Hy was die eienaar van die Florauna-apteek in Pretoria Noord.

Sowel hy as Chrisna is baie geliefd in die omgewing. Sy doen sielkundige en geestelike berading vanuit haar kantoor langs die apteek. Piet was ‘n vriend van almal.

Ek was ‘n paar keer in die apteek waar jy maar geduldig jou beurt moes afwag terwyl hy ander se klagtes en kwale simpatiek aangehoor het.

‘n Paar maande gelede was ek die laaste keer daar. Hy het daarop aangedring om my bloeddruk te neem. “Veels te hoog – ek is bekommerd oor jou, ou Peet. Jy sal ietsie moet neem daarvoor – 'n mens speel nie hiermee nie!”

Ek het sy raad ter harte geneem en die bloeddruk is onder beheer. Maar Piet is nie meer daar om te hoor dat ek ag geslaan het op sy vriendelike vermaning nie.

Agter in sy apteek is 'n pakkamer waar daar dikwels bokse en bokse met Bybels geberg was. Piet was 'n ywerige Gideon wat Nuwe Testamentjies by skole help uitdeel het.

Sy eerste vrou, Marieta (ook 'n oud-Vaderlander), is dood aan kanker en omtrent dieselfde tyd is Chrisna se man ook oorlede aan dieselfde siekte. Hulle het nie kinders gehad nie maar Piet het drie uit sy eerste huwelik.

Hy word in die Kaap veras en 'n gedenkdiensdiens word aanstaande Donderdag 12 Mei om 13:00 in die NG Kerk Florauna, Pretoria Noord gehou. Navrae en medelyekan gestuur word aan roosfamilie2016@gmail.com.