Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

26.10.15

Toe John Vorster soos 'n sif gelek het

Gedurende sy SAUK-jare in Port Elizabeth (1973-1977) moes GUSTAF PIENAAR jaarliks toesig hou by die opname van premier John Vorster se nuwejaarsboodskappe. Een opname onthou hy veral vanweë 'n gemoedelike gesprek tussen Vorster en 'n joernalis wat op 'n verrassende noot geëindig het. (Dis nou nie ‘n Perskor-storie nie, maar synde uit dieselfde werksagtergrond plaas ons die interessante storie graag - red)

Dwarsdeur die wêreld gebruik staatshoofde en politieke leiers die jaarwisseling om hul volgelinge oor radio en televisie toe te spreek en hul sterkte vir die nuwejaar toe te wens. So is dit ook in Suid-Afrika.

John Vorster
Premier John Vorster het sy Kersvakansies in sy strandhuis "Nigel" by Oubos, nie te ver van Port Elizabeth af nie, deurgebring. Eers is sy nuwejaarsboodskappe sommer daar in sy strandhuis opgeneem, maar lateraan was dit net geriefliker en praktieser om dit in die ateljee in Port Elizabeth te doen. Die premier se lyfwag was altyd by tydens opnames - so ‘n korterige man met blonde hare en ‘n seunsgesig.

Die eerste jaar (1973) het die opname by die ou en taamlik primitiewe ateljee in Cotswold plaasgevind. Die dag vantevore het Vorster se lyfwag en motorbestuurder onverwags by die ateljee in die premier se ampsmotor, 'n silwerkleurige Mercedes 450SE, aangekom.

Die doel van hul besoek was om so 'n bietjie by die ateljeekompleks rond te snuffel om vas te stel of daar dalk veiligheidsrisiko's was wat hul aandag moes geniet. En, o ja, het hulle oor 'n koppie tee vertel, wou hulle ook vasstel presies hoe lank die reis van Oubos na Port Elizabeth met die Merc sou duur.

Die volgende dag – dit was 'n stil Saterdag – was die ampsmotor weer daar, dié keer met sy belangrike passasier in die linkeragtersitplek. Vorster was gemaklik geklee in ‘n geruite sportbaadjie, geel strikdas en hoed met ‘n tarentaalveer in die hoedband.

Die opnames van sy verskillende radioboodskappe het vlot en sonder voorval verloop. Die boodskappe is vooraf - so het ek lateraan verneem - deur mev Tinie Vorster op 'n meganiese tikmasjien daar in hul strandhuis getik.

Vanweë ‘n besondere voorval wat hom daar afgespeel het, onthou ek die opname van Saterdag 28 Desember 1974 – toe in die halfvoltooide nuwe ateljeekompleks te Parsonsheuwel - goed. Maar eers moet ek iets vertel van die politieke agtergrond waarteen dit plaasgevind het.

Terwyl Vorster daardie jaar,1974, op Oubos vakansie gehou het, het ‘n uitmergelende oorlog in ons buurstaat, Rhodesië, gewoed tussen die insypelaars van Nkomo en Mugabe en die rebellebewind van Ian Smith.

James Callaghan
Die destydse Britse Minister van Buitelandse Sake, James Callaghan, het die vakansietyd benut om deur Afrika te reis om met verskeie staatshoofde te beraadslaag oor maniere om die Smith-bewind te beëindig.

Die Britse Arbeidersparty was Suid-Afrika vyandig gesind en Callaghan het wyd en syd verkondig dat hy dit nie nodig geag het om Suid-Afrika ook aan te doen nie. Maar die Republiek was Rhodesië se lewensaar, en hoe langer Callaghan gereis het, hoe meer het hy dit besef.

Dit het later geblyk dat hy agter die skerms koorsagtige pogings aangewend het om wel met Vorster te praat, maar dié het ongestoord vakansie gehou en het verseg om na Pretoria te reis om die Brit te woord te staan. Gerugte wou dit destyds hê dat hy Callaghan wel genooi het om hom op Oubos te besoek.

Maar terug by die ateljee in Port Elizabeth op 28 Desember 1974. Voor die opnames begin het, het ons vir Vorster tee bedien (hy het dit altyd swart en, verbeel ek my, sonder suiker gedrink). Tussendeur het ons die volgorde van die opnames bespreek want, onthou, daar was afsonderlike boodskappe vir die Afrikaanse en Engelse radiodienste. So ook een elk vir die Kleurlinge, Indiërs en “Bantoes”, (volgens die opskrif van sy kort boodskap in Afrikaans aan die swartmense wat hy vir my geteken het).

Terwyl Vorster sy tee drink, kom sy lyfwag binne en vertel dat daar ‘n persman buite die ateljee was wat hom graag wou kom groet. Ek het sy naam vergeet, maar ek onthou dat hy van die EP Herald/Evening Post in die Baai was.

“Ja”, sê Vorster, “laat hom inkom”.

'n Jong Pik Botha
Die joernalis kom binne en die twee groet vriendelik. Ek merk dat hul mekaar klaarblyklik goed ken. Vorster het na die welstand van sy gesin verneem en ek wil my herinner dat hy selfs die persman se vrou se naam geken het. Nadat hul nog ‘n paar gemeenplasighede gewissel het, vra die besoeker vir Vorster: ”Prime Minister, is there any truth in the rumours that you will shortly be meeting with Mr Callaghan?”

Vorster het sy ruie wenkbroue bymekaar getrek, soos net hy dit kon doen, en die gerug met mening die nek ingeslaan.

Ek kon die teleurstelling op joernalis se gesig sien. Hy het Vorster gegroet, hom ‘n voorspoedige nuwe jaar toegewens en omgedraai om uit te loop.

Net toe hy by die deur kom, verander Vorster van plan. Ek sien nou nog die vonkeling in sy oog toe hy die joernalis op sy voornaam terugroep: ”You may speculate”, gee hy hom voorwaardelik toestemming (met klem op die "speculate"), “that if the meeting were to take place, the venue will be Port Elizabeth”.

James Callaghan kom in Port Elizabeth aan.
My mond hang oop. Die joernalis s’n ook. Sy gesig verhelder soos ‘n seuntjie s’n wat onverwags ‘n roomys present kry. “Thank you, Prime Minister, thank you!” jubel hy oor sy scoop. En hy groet weer – dié keer baie hartliker.

Toe hy weer amper by die deur uit is, word hy ‘n tweede maal teruggeroep. “And you may speculate that Pik Botha will be present”, lek Vorster sy storie verder uit - weer met die nodige beklemtoning. (Pik was toe Suid-Afrika se ambassadeur by sowel die VN as in die VSA.) Ek sal die genoegdoening op Vorster se gesig nooit vergeet nie.

Die Maandag was daar ‘n banieropskrif op die voorblad van die Evening Post (of was dit die EP Herald?) – iets soos “PE VENUE FOR CRUCIAL MEETINGS”. (Ongelukkig het ek nie die koerant gebêre nie, en onlangse navrae by die betrokke koerantgroep se argief het in die sand geloop: ek dink die argivaris was gewoon te lui of te onkundig om te help.)

Dis geskiedenis dat op Saterdag 4 Januarie 1975, so om en by drie-uur die middag, James Callaghan se Royal Air Force VC10 laag oor die Hotel Elizabeth geswiep en op die nabygeleë HF Verwoerd-lughawe, soos dit toe nog bekend was, neergestryk het. (Video HIER.)

Carel de Wet
Hilgard Muller
‘n Rukkie later het hy by dieselfde hotel aangekom vir sy samesprekings met die Suid-Afrikaanse afvaardiging: Vorster, dr Hilgard Muller (minister van buitelandse sake), dr Carel de Wet (ambassadeur in Londen), dr Brand Fourie (sekretaris van buitelandse sake) en, ja, ‘n toe nog jeugdige Pik Botha - heelpad uit New York .

Die vergadering het in 'n luukse suite op die boonste verdieping van die vyfster-hotel plaasgevind. Ongeveer 15 minute ná Callaghan se aankoms, is die groot pers-kontingent toegelaat om vir 'n paar minute foto's te gaan neem. Ek was daar met my mikrofoon om vir die Maandag se uitsending van "Monitor" verslag te doen. Daar was sulke konsertinadeure tussen die hotelsuite en die hotelgang, en dié was oopgevou sodat daar genoeg plek vir die persmanne sou wees.

James Callaghan en John Vorster
Die twee afvaardigings het ons ongemaklik aangestaar uit hul bonkige stoele wat in 'n halfmaan gerangskikwas. Agter hulle het 'n paar trollies met fyn teekoppies en oordadig versierde koeke gestaan. Ek onthou dr Carel de Wet het heel links gesit en Vorster en Callaghan langs mekaar in die middel. In 'n klaarblyklike poging om die gespanne atmosfeer te ontlont het Callaghan, met verwysing na die klomp persmanne, vir Vorster gevra: "Are all these men yours?" "No," was die Suid-Afrikaner se vinnige antwoord, "I believe half of them is yours!"

Agterna het 'n vriend van my wat 'n lid was van die SAUK se parlementêre span vertel dat hy gehoor het hoe 'n Britse joernalis op 'n ietwat sarkastiese toon teenoor Vorster opgemerk het dat dit seker vir hom 'n groot opoffering was om sy vakansie vir die samesprekings "so far from home" te onderbreek. "Not really", het Vorster droogweg opgemerk "I had to come in for a haircut".

Die samesprekings het nie veel opgelewer nie. Ian Smith het nog tot 1979 aan sy bewind vasgeklou terwyl die lewe vir die meeste van die deelnemers aan die PE-beraad ingrypend verander het: Callaghan het Harold Wilson in 1976 as Britse premier vervang; Pik Botha het dr Hilgard Muller vroeg in 1977 as minister van buitelandse sake opgevolg, terwyl Vorster self in 1978 die leisels aan PW Botha oorhandig het.