Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

26.11.15

Chris Vermaak mis sperdatum én die oorlog

KARIN PRETORIUS skryf: Ek het geweet as K'rant bietjie karring aan ons geheue gaan dit my aan een of twee stories laat dink wat ek nie andersins sou onthou het nie:
i) die beste -- maar werklike -- verskoning vir ‘n sperdatum wat nie gehaal is nie en
ii) ‘n scoop vir jou koerant omdat die opposisie nie na jou wyse raad wou luister nie!

Op 10 Februarie 1981 -- bykans ‘n jaar ná onafhanklikheid in Zimbabwe -- is die Entumbane militêre kamp naby Bulawayo in ‘n slagveld omskep toe Zipra- en Zanla-magte van onderskeidelik mnr Joshua Nkomo en eerste minister Robert Mugabe slaags geraak het.

Joshua Nkomo 
Verskeie gevegte tussen die twee strydende faksies het oral in barakke in die buitewyke van Bulawayo plaasgevind. Die ergste egter was toe dertien pantservoertuie en Russiese troepedraers van Zipra se militêre basis aan die Gwayi-rivier in die noordweste van die land naby die huidige Hwange, na Bulawayo opgeruk het en mortiere, vuurpyle en kleingeweervuur gehoor is. Die lugmag se Hunter- en Lynx-vegvliegtuie het op die groep afgepyl en hulle het die bosse ingevlug.

Die militêre opperbevel onder leiding van Zanla-bevelvoerder Rex Nhongo het gereël dat die sowat 50 oorsese korrespondente wat op daardie oomblik in Salisbury gestasioneer was, twee dae later na die gebied gevlieg word om verslag te doen.

Robert Mugabe
My tassie met my kamerasak was al gepak om die toer mee te maak, toe Perskor my uit Johannesburg laat weet dat ek die Salisbury-kantoor moet beman, terwyl kollega Chris Vermaak na die gevaarsones in Bulawayo gestuur sou word om verslag te doen. Hy het al die vorige aand in Messina oornag en sou dan teen 12:00 op 13 Februarie gereed wees om sy eerste storie vanuit Bulawayo deur te voer.

Ek het solank die nodige agtergrond-inligting oor die gevegte na Die Transvaler geteleks. Dit was vinnig en maklik met geen tou by Charles, die teleksoperateur, om jou beurt af te wag nie, aangesien almal in Bulawayo was.

Chris Vermaak
Teen tweeuur was daar nog geen teken of nuus van Chris nie en teen vieruur het ons al angstig begin raak. Ek het oor die nuus gehoor dat telefoonverbindings af was met almal wat skakel om nuusgebeure op te volg en dat net noodnommers deur ‘n operateur toegelaat was. Verdere slegte nuus was dat padblokkades rondom die beleërde stad opgerig is, niemand is deurgelaat nie en almal moes terugdraai na waar hul vandaan kom. Die slegste nuus was dat die vulstasies langs die Beitbrug-Bulawayo-pad almal leeg geloop het soos blankes – uit vrees vir hul lewe - grens toe gevlug het, net om weer tot hul sinne te kom en dan huiswaarts te probeer keer. Chaos.

Hierdie petrolkoepons  was nog in 
gebruik ná onafhanklikheid.
En ek was seker kollega Chris was in al hierdie deurmekaarspul erens vasgevang. Ek weet hy sou genoeg petrolkoepons by die grens vir sy rit ontvang het, want alhoewel sankies ná onafhanklikheid iets van die verlede was, is petrolrantsoenering steeds gehandhaaf en kon jy nie petrol koop sonder hierdie koepons nie. Maar nou was daar geen petrol beskikbaar nie!

Teen vyfuur is daar nog geen taal of tyding van Chris en die druk en spanning op my neem toe. Die Transvaler wil ‘n voorbladberig hê en Die Vaderland verwag al ‘n opvolgstorie. Ek probeer al my kontakte in Salisbury skakel vir net ‘n bietjie nuus, maar niemand is beskikbaar nie en almal is in Bulawayo – behalwe ek en Chris! Ek probeer oproepe na die polisie en militêre bevel in Bulawayo, sonder sukses. Oproepe vlieg tussen Johannesburg en my, maar tevergeefs – geen nuus nie. Om sake te vererger bel oud-kollega Marius du Plooy, toe van die SAUK, vir my gereëlde telefoonbydrae as hulle korrespondent vanuit Salisbury – Spitstyd was toe nog in die middae met spertyd om sesuur.

Marius du Plooy
Toe ek sy vriendelike en besorgde stem hoor, toe vloei die trane en ek sit met ‘n padda in my keel. Hy hou die hele Suid-Afrika se luisteraars aan die gang deur te sê hy probeer kontak maak met hulle korrespondent in Salisbury maar telefoonverbindings is af vanweë die oorlog in Entumbane!

Ek sluk my trane asook ‘n glas water vir die skorheid in my keel, en net voor ses smaak ek die eerste bietjie sukses van die uitmergelende dag toe ek met ‘n baie beheersde stem probeer om my radio-bydrae af te handel.

Nou moet ek iets kry vir Die Transvaler. Maar wat? En van Chris is daar net doodse stilte. Kommerwekkend.

Ek ken net een persoon in Bulawayo, ‘n pastoor en wonder bo wonder werk sy telefoon. Ek bombadeer hom omtrent met vrae maar kry net inligting wat ek reeds na Die Transvaler gestuur het. Ek smeek vir iets ekstra, enigiets. Hy weet niks, hy wou gaan bid vir die vegtendes by die barakke, maar sy huishulp wat ‘n Ndebele is sê hy moet nie probeer inmeng nie, dis te gevaarlik en buitendien is dit nie die blankes se probleem nie. Hulle moet uitbly, want Zipra en Zanla sal dit onder mekaar uitbaklei.

Karin se voorbladstorie wat noodgedwonge gebruik moes word 
toe Chris êrens tussen Beitbrug en Bulawayo vasgeval het.
Daar’s my storie van die dag. Daar’s nie tyd vir uittik en teleks nie, ek formuleer die inligting in my kop en skakel Die Transvaler. Ek dink dit was nog getroue en bekwame redaksiesekretaresse Babs du Plessis wat aan diens was en sy neem die storie oor die telefoon af.

Die volgende oggend het Die Transvaler ‘n voorbladstorie met hoofopskrif: Dis ons oorlog. Bly daaruit, want
julle is nie welkom nie. Ons wil dit onder mekaar uitbaklei. Dis die boodskap aan die wittes.

Chris Vermaak daag die volgende oggend in Salisbury op en alles wat ek voorspel het, het met hom gebeur: Vasgeval sonder petrol,’n padblokkade wat geweier het om hom deur te laat en geen telefoonlyn beskikbaar vir wat die owerheid nie as ‘n noodoproep beskou het nie!

En so het Chris nie net die sperdatum gemis nie, maar ook die oorlog! Met drie baie unieke maar ware verskonings!

Die Russiese hamer-en-sekel-beret van ‘n Zipraman.
Hierdie Russiese tenk met sy ZGE1-14.5 lugafweerkanon in 
die Gwayiri-vierkamp, het na bewering na Entumbane opgeruk.
‘n Nkomo-man met sy AK47, gereed vir die faksiegeweld teen Zanla-magte.
Zipra-soldaat: ‘n Lojale ondersteuner van mnr Joshua Nkomo.

Gewere en ammunisie in die Gwayi-rivierkamp wat tydens die 
faksiegevegte teen die Zanla-magte in Entumbane gebruik is.