Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

10.7.15

Talentvolle Gert Hattingh Woensdag ter ruste

GERT HATTINGH se vrou Marie het laat weet dat Gert se roudiens Woensdag 15 Julie in die NG Kerk Hartenbos gehou sal word. Sy het gesê Gert het onlangs maagprobleme ontwikkel wat veroorsaak het dat hy die afgelope twee weke nie meer kon eet nie. Gert is eergisteroggend (8 Julie 2015) oorlede.

As 'n huldeblyk aan Gert publiseer K'rant 'n storie oor Gert wat in April 1991 in Perskorhaan gepubliseer was.

Boer Gert dink seker baie terug

Uit: Perskorhaan, April 1991
Terwyl Gert Hattingh deesdae so tussen die sitrusbome en skape op sy plasie naby Mooinooi rondloop, dink hy seker dikwels terug aan die soet en suur wat hy tydens sy lang en gebeurtenisvolle koerantloopbaan beleef het.

Gert het verlede jaar as hooffotograaf van Transvaler in Pretoria afgetree.

Gert Hattingh op sy plasie naby Mooinooi.
Sy loopbaan in die perswese het hy as bode in 1946 by die tydskryf Ruiter in Johannesburg begin!

Gert het van jongs af in fotografie belanggestel en die basiese tegnieke vir homself aangeleer. Gesprekke met die koerant se fotograwe het hom sy eie vergroter met 'n paraffienblik laat bou. Sopborde moes aanvanklik diens doen as bakke waarin die chemikalië gemeng is!

Nadat Gert besluit het om eerder te gaan huise bou en dié onderneming nie te suksesvol was nie, het hy in 1949 op 19-jarige leeftyd as fotograaf vir Die Transvaler in Johannesburg begin werk. Vyftien jaar later is hy as die jongste hooffotograaf nóg in dié posisie aangestel.

Nóg 'n aantal jare later het Gert die stoute skoene aangetrek en 'n tyd lank fotoverhale soos Suster Teresa en Tana uitgegee.

Toe die hunkering na die koerantwese te erg word, het hy eers 'n draai by Beeld gemaak voordat daar weer vir hom 'n fotograafpos by sy geliefde Die Transvaler was.

In 1976 is hy as fotoredakteur by Die Transvaler in die Pretoriakantoor aangestel.

JG Strijdom
DF Malan
Gert vertel dat alle staatshoofde, van genl Smuts tot die huidige staatspresident, al voor die lens van sy kamera was. "Vroeër jare sou 'n fotograaf dit nie gewaag het om 'n staatshoof rond te skuif en hom te vertel hoe hy moes staan nie."

Van die moeilikste mense wat hy al moes afneem, was dr DF Malan. Hy wou altyd 'n foto hê waarop hy lag,” sê Gert. Adv JG Strijdom was ook 'n moeilike man en het op 'n dag vir hom gesê: "Boetie, ek is nie 'n akteur nie."

Gert het in sy jare by die koerant belewe dat:
  • Dana Niehaus 'n sportredakteur was; 
  • oud-staatspresident Marais Viljoen 'n verslaggewer was; 
  • die bekende sanger, Gert Potgieter, 'n handsetter was en gesing het dat dit deur die gebou dawer.
Marais Viljoen
Gert Potgieter
Gert was 'n paar keer saam met Die Transvaler oorsee, veral vir rugbytoere en hy onthou nog hoe hulle films skelmpies saam met passasiers na Suid-Afrika moes terugsmokkel.

In sy skooljare by die Hoërskool Fakkel in Johannesburg was Gert op sy dag 'n atletiekkampioen in die een en drie myl. Met boks het hy ook so goed gevaar dat hy seker ‘n Springbok kon geword het "as ek nie so slap was nie," sê hy.


Dana Niehaus
Maar dit is veral met hengel dat hy met die jare die land deurkruis het en tussen hom en sy vrou, Marie, meer as 300 trofeë gewen het. ( Uit: Perskorhaan, April 1991)

(Ek onthou Gert as die saggeaarde kollega en ware heer en leermeester wat menige jong verslaggewer gehelp het om die regte vrae te vra om die volledige storie te kry. - Red.)