Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

31.7.15

Piet spring loesing vry

PIET ROOS skryf: Kemptonpark was destyds 'n sentrum vir die aanspreek van sake vir dwelm- en porno-oortredings omdat die lughawe daar was. Die ouens wat op die lughawe gevang is, is na die plaaslike landdroshof gebring.

In daardie dae was onsedelikheid 'n baie ernstige misdaad. Die manne het oorsee sulke opvoedkundige tydskrifte soos Playboy en ander stoutighede gekoop en huis toe gebring.

So was daar 'n welbekende man en sy maters van Vrede in die Vrystaat wat bietjie oorsee gaan pret maak het.

Daar het hulle onder meer 'n pak speelkaarte gekoop met welbedeelde kaal meisies se foto´s op die agterkante. As mens nou kaart speel met daardie pak kon jy maklik jou opponent se kaarte "lees".

Ongelukkig word hulle op die ou Lughawe Jan Smuts betrap en na die plaaslike landdroshof gesleep.

In die hof sê hulle toe: "Edelagbare, ons het dit net saamgebring om vir ons mense te wys hoe sleg hulle oorsee is!"

En daar was 'n daggasaak. Die beskuldige was 'n groot vetterige blonde meisie so in haar twintigs. Toe ek haar foto neem, sê haar maters vir my buite die hof:

"Skryf net iets hieroor, dan sal ons jou 'n pak slae gee wat jy nooit in jou lewe sal vergeet nie."

Hulle het eintlik sterker paraffienwoorde gebruik wat ek nie hier in dié ordentlike joernaal wil skryf nie.

Ek ry in kantoor toe en vra die nuusredakteur om dit asseblief op die voorblad te sit. Hy het, want dit was 'n treffende foto van ´n robuuste meisie met wilde blonde hare wat na my aankom met haar regterhand oorgehaal vir taai klap.

Ha ha hie hie, lag ek.

Boksburg-meer
'n Paar aande later, so halftien, bel iemand my en sê hulle het 'n lyk uit die Boksburg-meer gehaal. Die lyk is nog daar en die kop is afgekap en lê ook op die gras.

Ek vlieg weg en jaag met my kamera oorgehaal. Toe ek by Jan Smuts verbykom, kry ek hond se gedagte en ek draai om.

Daar was nooit 'n lyk nie en ek het my loesing vrygespring.