Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

9.10.15

Sat vir politiek


Op Jannie Kruger se dienstyd as redakteur van Die Transvaler het die ongelukkige eksperiment met twee mederedakteurs, dr GD Scholtz en Jan van Rooyen, gevolg.

Ek het die indruk gekry dat Van Rooyen moeilik by Scholtz se politieke styl aangepas het. Scholtz, ‘n mens op sy eie, was sekerlik een van die grootste karakters met wie ek saamgewerk het. Hy het onder meer ‘n fantastiese – eintlik fenomenale – geheue gehad. Dit het nie net politieke, geskiedkundige en nuusfeite gegeld nie, ook sport- en selfs perdewedrenuitslae. Hy het byvoorbeeld baie jare se wenners van die Durbanse July-perdewedren op sy vingerpunte geken.

Hy het destyds ‘n kommentaarrubriek oor buitelandse gebeure in DT geskryf. Dan het hy die kopie van die druktelegraaf af deurgelees en eenkant gesit om sy rubriek te skryf sonder om een keer weer daarna te verwys.

Gert Scholtz
Jan van Rooyen
Iemand het hom eendag gevra hoe hy sy geheue dermate ontwikkel het. Scholtz het verduidelik dat wanneerhy iewers van ‘n bus afgeklim het – ek twyfel of hy ooit ‘n motor besit het – hy bv in ‘n winkelvenster na die prys van ‘n paar skoene gekyk het. As hy ‘n ent weg gestap het, het hy die prys in herinnering geroep. As hy nie kon onthou wat dit was nie, het hy eenvoudig teruggestap en weer gaan kyk wat dit was.

Scholtz was ‘n man van min woorde, maar ‘n mens kon enige tyd by sy kantoor instap om ‘n saak te bespreek.

Hy het natuurlik ‘n hele rits boeke oor die Afrikaner en sy geskiedenis en politiek geskryf.

Die verwoesting van die Roodepoortorkaan.
Onder die groot stories van my eerste koerantjare tel die verwoestende orkaan wat Roodepoort op 26 November 1948 kort ná ses die middag getref het.

Ek en Willie Muller is daardie aand soontoe. Dit was iets ysliks om te beleef. Die hele wêreld was
onderstebo en dit was onbegaanbaar vir motors. Almal was geskok en in die nagdonkerte kon ‘n mens nie die volle omvang van die ramp besef nie.

Vier mense is dood en 500 huise beskadig. Die skade is destyds op byna £190 000 geskat.

‘n Ander storie wat my bybly is die inwyding van die Voortrekkermonument van 13 tot 16 Desember 1949.

Dit is voorafgegaan deur ‘n veldtog waar rapportryers boodskappe van plaaslike gemeenskappe te perd oor 15 roetes heen na Pretoria geneem het. Van die boodskappe het selfs uit Kenia en die destydse Rhodesiës en Suidwes-Afrika gekom. Oral langs die pad is feeste op oor die 400 plekke gevier. Ek het saam met een van die groepe rapportryers op hul roete deur die Vrystaat na die Monumentkoppie getrek.

Tussen 150 000 en 200 000 Afrikaners het dié dag by die monument saamgetrek en dit was ‘n uiters emosionele geleentheid. ‘n Mens vergeet so iets nie.

16 Desember 1949
Die eerste minister, dr DF Malan, het die inwydingsrede gelewer wat onthou word vir sy vraag “Afrikaner, Quo Vadis?” en die antwoord met die kerntrekke: terug na jou gesin; terug na jou volk; terug na jou God.
DT het natuurlik ‘n groot rol gespeel in die uitslag van 1948 se algemene verkiesing toe die NP aan bewind gestel is.

Ek onthou daardie aand van 26 Mei 1948 toe die uitslag in die kiesafdeling Standerton opdaag en aangekondig word dat Wennie du Plessis genl Jan Smuts verslaan het. ‘n Groot skare het buite DT se gebou vergader om die uitslae aan te hoor en die gejuig was oorverdowend. ‘n Groot feestelikheid het hierop gevolg.

Ek glo dit was die simboliese ossewatrek van 1938 wat uiteindelik ons mense wakkergeskud en uit hul ontreddering ontsluit het.

Carl Nöffke
Dis welbekend dat DT nie oor die Britse koningsgesin se besoek in 1947 berig het nie. Dit is as blote propaganda met die oog op die 1948-verkiesing beskou. Dr Scholtz het die saak só ernstig beskou dat hy, toe die koninklike prosessie op ‘n dag van die stasie af by DT se gebou verbybeweeg het, selfs geweier het om daarna te kyk.

In 1968 het Carl Nöffke, ná ‘n dienstyd as Europese verteenwoordiger van die SAUK, die nuwe hoofredakteur van DT geword.

Die “samevoeging” van Voortrekker en Dagbreekpers in 1971 om Perskor te stig is ‘n storie op sy eie. Ons mag nooit van ‘n “samesmelting” gepraat het nie. DT het wel sy eie direksie behou, maar die koerant moes oortrek Aucklandpark toe. Sake het vinnig geskied. Die ooreenkoms is in die Kaap tussen die direksies beklink.

‘n Groot probleem wat ons aldeur die koerantstryd met nuusinsameling ervaar het, was dat ons met volledige redaksies in Kaapstad, Bloemfontein en Port Elizabeth moes meeding met enkele verteenwoordigers van ons kant af; soms dalk ‘n fotograaf ook, maar dikwels vryskutfotograwe moes inspan om ‘n taak gedoen te kry. Ons kon eenvoudig nie dié agterstand se knellende uitwerking by die bestuur tuisbring nie.

Ek is ná baie jare by DT weg na DV toe nadat ek met die hoofsub vasgesit het.

DT het destyds ‘n ekstra vroeë uitgawe gehad wat in die middag gedruk is en met die trein na die verre platteland gestuur is. Daarna het die aandskof ingeval, waarvan ek deel was.

My voorkeur het by nuus gelê en ek het nie die minste in die politiek belang gestel nie. Ek het selfs ‘n versoek om politieke korrespondent te word van die hand gewys. By ‘n blad wat as ‘t ware in die politiek ontvang en gebore is, het dit nie juis inslag gevind nie. Ek het egter voet by stuk gehou dat ek in die eerste en die laaste plek ‘n nuusman is.

Ek het sat vir die politiek geraak. Vir ‘n koerant wat eenvoudig politiek, politiek, politiek geskryf het, was ek regtig moeg.

Dis oor dié onderwerp dat ek en die hoofsub woorde gekry het. Hy het vir my gesê dit lyk of ek nie gelukkig by DT is nie en gevra waarom ek nie ‘n ander werk kry nie.

Dit was vir my soos ‘n hou in die pens en ek het daar uitgestap, reguit na DV toe om te hoor of hulle vir my werk het. Ek is dieselfde dag aangestel en is terug DT toe om te vra dat hulle my bedanking met onmiddellike effek aanvaar. Dis gedoen en ek het die volgende dag my loopbaan by DV voortgesit.

Die Coalbrooke-mynramp was ‘n groot storie vroeg in 1960. DV se manne moes soggens voor dag en
dou spring om die nuus teen saktyd in Aucklandpark te hê.

‘n Staaltjie wat my vertel is, lui dat Koos Liebenberg en die fotograaf Fred Buys op ‘n keer vroegdag in aller yl op pad Vrystaat toe was om oor die jongste verwikkelinge te rapporteer. Buys (wat in die weermag as fotograaf opgelei is) was ‘n knap bestuurder en het soos gewoonlik die stuuurwiel gevat. Iewers tussen die kleinhoewes suid van Johannesburg was daar skielik ‘n trop beeste in die pad.

Koos Liebenberg
Met die wilde geswenkery om die beeste mis te ry, het Koos half op Fred se skoot beland, waarop laasgenoemde, sonder om sy oë van die pad af te haal, vir Koos met die arm eenkant toe druk met die woorde: “Sit soontoe. Ek is nie daai soort nie.”

Fred was enig in sy soort. Onnutsig en altyd in die pekel, met so ‘n skelm laggie, maar jy kon hom in die middel van die nag opklop en die verre platteland instuur op ‘n storie. Hy het dadelik gegaan, g’n tien, twaalf verskonings nie. Dit was ‘n plesier om saam met hom te werk. Hy was ‘n jongeling – ek wil amper sê kind – met sulke groot blou oë wat verwonderd na die lewe gestaar het, en vir wie ‘n mens eenvoudig nie kon kwaad word nie.

(‘n Saak waaroor K’rant Oom Hermie nie sover kon kry om te praat nie, is die Jooste-De Klerk-sage. Die mense is dood, laat hulle rus, is sy standpunt. Hy het darem in K’rant se eerste lewe die volgende oor Marius Jooste in ‘n onderhoud met Peet Simonis laat val: 

Marius Jooste
Koos Buitendag
“Die man het ‘guts’ gehad – dit moet ek toegee. Net jammer hy het nie op sestig afgetree nie, dan was daar ‘n standbeeld vir hom opgerig. Maar hy het te lank aangehou en aan die einde het Koos Buitendag die onaangename en ondankbare taak gehad om te red wat te redde was.” 

Volgens Dirk Richard in sy boek “Tussen bid en droom; ‘n koerantman het albei nodig” het Perskor se oortrokke bankrekening op R22 miljoen gestaan toe Wollie van Heerden en Buitendag oorgeneem het. – Piet Ebersöhn)