Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

10.3.16

Koos Botha onthou die flenters van die ewigheid

KOOS BOTHA het vir Die Vaderland gewerk tot Maart 1962, daarna elf jaar vir die SAUK-nuusdiens en toe weer 20 jaar vir Die Transvaler tot April 1993. Sy twee jongste kinders, Daan (25) en Ruth (20) is in Februarie 1993 in 'n padongeluk by Winburg dood. Hy het op 9 Februarie sy kinders gaan uitken op Winburg en in Bloemfontein. In die jare daarna het hy oor hul dood geskryf en sy boek daaroor, Flenters van die Ewigheid, het in Julie 2015 verskyn.

Koos skryf: Ek het in die afgelope 23 jaar sedert die sluiting van Die Transvaler my hoofsaaklik met my boek en houtwerk, ook houtbeeldhouwerk, besig gehou.  Ek het nog nie 'n bydrae vir K´rant gestuur nie. Hier is iets oor my boek.

Eerskomende Sondag, 13 Maart 2016, hou Perskor se oudkollegas weer 'n reünie in Johannesburg. Ek sal 'n paar boeke saambring. Die prys is R200 elk.

Ek het my seun op die lughawe gaan haal
hy het my in sy arms toegeskulp
op pad huis toe het hy oor sy lewe in Japan vertel
my bekoor met die sprankel in sy oë en die tjello-skor van sy stem
drie maande later sien ek hom koud op 'n hoë tafel in Bloemfontein
ek het my dogtertjie op die lughawe gaan haal en gekyk hoe sy haar bagasie uit Switserland op 'n trollie stoot
ek het haar in my arms en in my hart toegevou
ek is bly oor my liefdetjie weer naby is
en oor die laggie wat so klokkie uit haar val
drie weke later sien ek haar op Winburg koud agter glas in 'n kas
nou vryf ek maar my hond se kop
hy slaan sy oë op na my
ons brose oë bind 'n klein ewigheid in die blik van my hartseer hond.

Só is daar al op Koos Botha se boek gereageer:

Uitgewersresensie: Dit is nie net ’n beskrywing van pyn wat met kinderverlies gepaard gaan nie, maar besinning oor die lewe en oor die skrywer se godsbegrip. Oor die rou smart ná die verlies van ’n kind of kinders is daar baie geskryf, gedig ook, maar hierdie teks is wesenlik uniek. Die skrywer se unieke seggingskrag en die wyse waarop hy die leser saam laat afdaal na die dieptes van sy ellende, maak groot dele van hierdie boek werklik aangrypend.

Die skrywer se taalvaardigheid en sy vermoë om sy diepste emosies te verwoord, is sonder twyfel die sterkste positiewe eienskap van die boek. Botha beskik oor 'n besondere seggingskrag met ’n rykdom van beelde. Daar is wonderbaarlik ontroerende gedeeltes. Hy skryf vaardig oor sy eie ervaring van depressie, bestaansangs en ook oor bipolariteit. Die stuk oor sielsverlamming is dalk die treffendste wat ek nog oor hierdie stadium van rousmart gelees het. Naas die hooftema, die rou smart, vorm die ontwikkeling van sy godsbegrip tot ’n soort panteïsme en kan in hierdie dae van die oop teologiese gesprek al vir sommige lesers ’n rede wees om die boek te koop.

Dr Ansie Gous, sielkundige en pastoriemoeder wat al die dood van haar tienerdogter beleef het: Ek het dit met diep ontroering en baie trane gelees. Dit is aangrypend.

Johann Symington: Soos wat ek hier sit, loop die trane en vloei 'n duisend gedagtes deur my kop. Wat 'n wondertalent het jy nie om seer te deel, hartseer te laat leef en moed te gee nie. Dit is 'n wonderlike ontroerende stuk werk. Ek hoop baie meer stukkende mense kry die voorreg om dit te lees.

Elza Miles: Ek het my hart stukkend gehuil. Ek stem honderd persent saam met Johann Symington.

Antjie Krog: 'n Sterk roerende vertelling, met die vermoë om gebeurtenisse visueel aangrypend te beskryf.

Marinus Wiechers: Ek het die manuskrip met absolute ontroering, op een slag dwarsdeur gelees. Wat my aan die hart gegryp het, is hoe die skrywer die elegiese met die kleinste daaglikheid, die voëlgesang in die oggende, die skemeraande en al die herinneringe kon laat versmelt tot 'n loflied aan die lewe self. Die beskrywing van die ellendes van depressie is nie net uiters insiggewend nie maar terselfdertyd troostend. Uiteindelik transendeer die smart na 'n soeke na ' n kosmiese bestaan van die godheid. Ek vind dit groots. In die geheel beskou, is die skrywe 'n toonbeeld van die uiteindelike fase van die rou, 'n fase van troostende berusting ten spyte van voldrae pyn, maar wat tog 'n fase van gelouterde vreugde.

En 'n greep uit die boek. “Ons sal julle, ons kinders, onthou totdat die herinneringe in ons miskien ook eendag tot vergetelheid vervaag. Totdat niemand meer oor julle praat nie en niemand julle onthou nie. “Maar al het almal vergeet, weet ons julle sal altyd in God se glimlag oor hierdie lewe bly. God sal vir altyd glimlag oor julle pret én oor julle trane. Julle menswees, julle trane en julle lewensblyheid sal ewig in God se gedagte bly. En God sal iets van julle in die blomme en in die stem van engele bewaar, in die mossies en die dartelende frederikkies. In die koer van duiwe en in die daglumier sal ons julle altyd weer vind. Julle sal in God se glimlag bly omdat die dood nooit jul liefde en jul glimlagte, nooit julle fierheid en innemendheid van ons kan wegneem nie.”