Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

5.10.15

Misdaadstories moes oorlogstories vervang



K’rant (met Hans Lombard se hulp) het uiteindelik vir HERMIE HENDRIKS, oudredakteur van Die Transvaler, omgepraat om van sy ervarings oor 40 jaar as joernalis in diens van die Voortrekkerpers, die Afrikaanse Pers, Dagbreekpers en uiteindelik Perskor, met ons lesers te deel. Die Transvaler se geskiedskrywer, Piet Meiring, het oom Hermie bestempel as “een van die bouers van ons koeranttradisie”.

Teen die einde van 1944 het die leidende geeste by Die Transvaler gemeen dat die Tweede Wêreldoorlog einde se kant toe staan en besluit om ‘n misdaadverslaggewer aan te stel om die leemte te help vul wat ‘n gebrek aan oorlogsnuus kon laat.

My broer, Hein (Die skrywer R Hendriks, wat ook die Rooi Jan-boeke onder die skuilnaam Casper H Marais geskryf het. – Red), het vroeër vir DT gewerk en was op daardie tydstip ‘n vryskutskrywer, wat onder meer speurverhale geskryf het, en hy is genooi vir ‘n onderhoud om die pos te vul.

Ek het destyds by hom in Johannesburg gekuier nadat ek pas my tweede jaar as BCom-student op Stellenbosch voltooi het. Hy sê toe ek moet saam met hom gaan “sodat ek darem iets van die stad sien tydens my besoek”. So gesê, so gedaan.

Piet Meiring, die eerste nuusredakteur van DT, het die onderhoud gevoer. Hein het nie die aanbod aanvaar nie en sê toe uit die bloute: “My broer is ook hier. Hoekom praat julle nie met hom nie?”

Meiring het met my gepraat en die uiteinde is dat hy my die pos as misdaadverslaggewer aangebied het. Ek was so oorbluf dat ek hom gevra het: “Meneer, dink jy darem ek kan die werk doen?”

Ek wou eers terug Maties toe om my graad te voltooi, maar hy wou niks weet nie. “Ons het die man nóú nodig,” het hy aangedring.

Dit was die einde van my studies. Ek het Januarie 1945 by DT ingeval en sou vir die volgende 40 jaar koerantman wees, al het ek toe niks van die joernalistiek geweet nie.

Ek het wel iemand geken wat ‘n kursus in joernalistiek aan ‘n korrespondensiekollege geloop het en het sy studiemateriaal gelees – eerder omdat ek dit interessant gevind het as dat ek ‘n loopbaan in dié rigting oorweeg het.

Piet Meiring en Gus Cluver
Gus Cluver het destyds die misdaadronde by DT behartig en hy sou my oplei. Dit het daaruit bestaan dat ek saam met hom op ‘n storie uit is en my eie aantekeninge gemaak het. Terug op kantoor het hy sy storie geskryf en ek moes myne skryf. Hy het dan myne met my bespreek en my gewys hoe ek daarop kon verbeter. Die volgende oggend het ons saam die Rand Daily Mail se berig bestudeer en met ons s’n vergelyk.

As rou plattelander – ek het op Swellendam grootgeword en Stellenbosch was ook maar platteland – was die stadslewe vir my ‘n openbaring.

Van die misdaadskrywery het nie veel tereg gekom nie. Daar was destyds maar bitter min misdaad in Johannesburg en politiek was alles by DT.

Daar moet in gedagte gehou word dat die koerant gebore is uit ‘n behoefte om die Transvaalse Nasionale Party sterk te maak en eintlik sy inslag in die Kaap gehad het, waar die Nasionaliste besef het die party kan nie vorder sonder Transvaal se bydrae nie. Adv Hans Strijdom was destyds die enigste NP-volksraadslid in die provinsie. DT is aanvanklik met Kaapse geld begin.

Diegene wat meer oor die koerant se geskiedenis wil weet, kan gerus Piet Meiring se boek “Die Transvaler 50 jaar” lees. Hulle kan sommer ook lees hoe ‘n gesukkel met joernaliste se salarisse dit was.

Die blad se aanvanklike sukses was, volgens Meiring, daaraan te danke dat hy hom dadelik vereenselwig het met die leed en strewe van sy mense toe hulle op moedverloor se vlakte gesit het.

Vandag se mense kan moeilik ‘n begrip vorm van die ekonomiese en gemoedstoestand waarin die Afrikaner van destyds, veral in die Goudstad, hom bevind het.

In die Anglo-Boere-oorlog rondom die eeuwisseling is die boereplase deur die Britte tot op die grond afgebrand en het ons mense alles verloor wat oor geslagte tot stand gebring is.

‘n Vrou het my vertel hoe sy as jong meisie net met haar Bybel en ‘n jukskei uit die huis gevlug het toe die die Kakies hul opstal kom afbrand het. Sy het die verwoestingsdaad uit ‘n skuilplek aanskou. Ná sy ‘n ruk lank in die veld rondgeswerf het, het sy haar by die konsentrasiekamp op Bethulie gaan oorgee.

Verwoerd as redakteur
Só ‘n ervaring bly nie in ‘n mens se klere sit nie. Die Afrikaner was ‘n verarmde en diep getraumatiseerde volk.

Toe het die vernietigende droogte en depressie van die vreoë jare dertig sy tol geëis. Dit was ‘n ontredderde Afrikanervolk wat ter wille van oorlewing stad toe gevlug het – ‘n genadelose en vyandige stad waar bykans al die sakeondernemings in volksvreemde hande was.

DT se eerste hoofredakteur, dr Hendrik Verwoerd, het juis die oog gevang met die prominente rol wat hy gespeel het in die uitvoering van die aanbevelings van die Carnegie-kommissie wat die toentertydse armblankekwessie ondersoek het. Hy was destyds as sielkundige en sosioloog aan die Universiteit van Stellenbosch verbonde.

Oom Hermie vertel Woensdag verder oor sy lewe as koerantman.