Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

11.9.13

'n Stel posseëls vir 'n Russiese visum

HANS LOMBARD het in April in K'rant geskryf oor die aanvang van sy rit in 1958 van Bremen, Duitsland na Moskou met 'n klein Lloyd-motor. Klik HIER om dit te lees. (‘n Reeks artikels het einde 1958 in Die Vaderland verskyn.)

Vandag vertel Hans verder, onder meer van die gesukkel om 'n visum te kry en eienaardige Russiese gewoontes..  Volgende week vertel hy van die hoogtepunte in Moskou onder meer sy besoek aan Prawda.


Ná ek in Johannesburg ‘n telegram van Moskou se Intourist-organisasie ontvang het dat ‘n visum om Moskou te besoek goedgekeur is en dat ek dit by die Russiese Ambassade in Londen sal ontvang, het my avontuur begin.

Soos vermeld het Londen niks van so ‘n visum af geweet nie. Ek is meegedeel dat ek daar vorms moet invul om aansoek te doen om ‘n visum wat 14 dae sal neem. Ná 14 dae is ek meegedeel dat daar nog geen antwoord was nie. Die Russe deel my egter mee dat hulle met hul ambassade in Amsterdam sal reël om my visum daar uit te reik.

Intussen het ek na Bremen, Duitsland, waar die Borgwardfabriek was, vertrek. Dr Borgward het persoonlik die sleutel van die piepklein Lloyd aan my oorhandig. Teen ‘n muur in die fabriek lees ek ‘n kennisgewing: “Wer den Tod nicht scheut, fährt Lloyd.” (Hy wat nie bang is vir die dood nie, bestuur ‘n Lloyd).


Die Lloyd was ‘n rooi-en-wit stasiewa met 'n sondak en ‘n kortgolfradio. Dis aangedryf met ‘n tweesilinder-vierslagenjintjie van 596cc, vier ratte, 25 perdekrag en ‘n topsnelheid van 107km/h. 

Ek vra dr Borgward of hy ‘n lys van handelaars het as die kar met my gaan staan. “Nee, hy sal nie. Maar indien wel, stuur ‘n telegram aan die adres in die motor se tegniese boekie en ons stuur een van ons vragvligtuie om jou met motor en al te gaan haal.”

In Amsterdam loop ek my teen dieselfde muur vas. Hulle het geen tyding van my visum nie. Neem besonderhede van die telegram van Moskou en verseker my dat hulle met hul ambassade in Bonn, Wes-Duitsland, sal reël. Dit is die laaste Russiese ambassade in Wes-Europa. Daarvandaan kan ek nie verder sonder ‘n visum reis nie.

Dit is 13:00 toe ek voor die Koningshoff-Hotel, op die oewer van Ryn stilhou vir middagete. Ek verneem na die Russiese ambassade. Tot my ontnugtering verneem ek dat die ambassade in Rolandsdeck 20 kilometer terug is op die pad waarlangs en so pas gery het. Ek ry terug en tref dit in ‘n groot spierwit gebou met ‘n stewige voordeur aan. Dit is 13:15. Ek druk aanhoudend op die knoppie voordat iemand die deur oopmaak. Niemand praat Engels nie. Nà verkeie beamptes hul opwagting maak, daag iemand op wat Engels magtig is. Sy naam is Leef.

Hy nooi my binne. Ek toon hom die telegram en sê Amsterdam sou reël dat ek my visum hier kry. Hy neem my paspoort en telegram van Moskou. Ná ‘n ruk kom hy terug en sê: Jammer ons het geen inligting van Moskou oor dié visum nie. Hy stel voor dat ek hul ambassade in Londen bel. Ek skop vas. Ek versoek dat hy die oproep moet maak. Nee hy mag nie van die ambassade Londen toe bel nie. Nou waarvandaan moet ek?

Hy deel my mee die ambassade om 16:00 sluit en ek moet liewer die volgende dag terugkom. Ek deel hom mee dat ek weier om my voet uit die ambassade te sit totdat hy nie iets aan die saak doen nie. Hy verdwyn en kom later terug met ‘n katalogus van seëls. “Versamel jy seëls?” Nee," antwoord ek. Hy wys my na die versameling Suid-Afrikaanse seëls in die katalogus en sê hy het al ‘n paar keer na Suid-Afrika geskryf om navraag oor ‘n stel seëls te doen maar nooit ‘n antwoord gekry nie.

“As ek terug is in Suid-Afrika sal ek vir jou ‘n stel pos.”

“Sowaar?” bevraagteken hy my.

“Beslis,” antwoord ek.

Hy staan op en verdwyn met sy katalogus.

Die tyd stap aan. Hy kom terug en sê: “Gee my weer jou paspoort en daardie telegram.” Hy verdwyn in die
gang af. Ná ‘n ruk kom hy terug met ‘n glimlag. “Die ambassadeur het goedgunstig besluit om jou visum toe te staan,” en gee my my paspoort terug. Dit is 16:00. Was dit nou ‘n stel posseëls in ruil om die moeilikste visum ter wêreld te bekom? (Terug in Suid-Afrika het ek my belofte gestand gedoen.) Nou kan ek aansoek doen om my Oos-Duitse, Poolse en Tsjeggiese visums..

Die Lloyd waarmeer Hans Moskou toe gery het.
In Bonn koop ek vir my ‘n blikke swart verf en ‘n kwassie waarmee met die verf geskryf kan word. Johan van Heerden, een van die subs by Die Vaderland, het my vir ‘n bottel Oudemeester-brandewyn gewed ek sal nie Moskou haal nie. Watter beter bewys as om Chroesjtsjof te kry om sy naam op die kap van my motor te teken. Ek neem die autobahnen na Berlyn teen 107 km/h, die maksimum snelheid van die Lloyd.

Elke paar km ry ek verby ‘n Raststatte, ‘n restaurant met vulstasie en toiletgeriewe. Elke km is daar ‘n telefoon langs die pad waarvandaan motoriste wat gestrand raak hulp kan ontbied. Dis geriewe wat destyds nêrens elders op die wêreld se paaie te vinde was nie.

Om 01:00 hou ek by Helmstadt, die grenspos tussen Oos- en Wes-Berlyn, stil. Die deur in die Ystergordyn. Hier moet ek geld omruil in Oos-Duitse mark en my Oos-Duitse visum kry wat R2 kos. Dis net ‘n formaliteit. Nou is ek vir die eerste keer agter die Ystergordyn in die Russies besette Oos-Duitland op pad na Berlyn. Dis 160 km en ek word gewaarsku om nêrens stil te hou nie.

Dis dagbreek toe ek die verdeelde stad Berlyn binnegaan, 13 jaar ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Op Berlyn het die geallieerde magte 500 000 ton bomme afgegooi. Meer as 400 000 mense is dood. Dit was voor die muur gebou is en ek kon met gemak van Wes- na Oos-Berlyn ry.

Brandenburgpoort.
Ek ry onder deur die Brandenburgpoort. Die grens tussen Wes en Oos. Bo-op troon die Quadriga van
Schadow. Ek draai regs af in Wilhelmstrasse waar die verkeersligte sedert dit in 1945 deur bomskerwe beskadig is, 13 jaar later nog nie in werking is nie. Hier was Hitler se kanselary, die propaganda-ministerie van Goëbbels en die minsterie van Rudolf Hess.

Ek ry oor die Potsdammerplatz waar die grense van die verskillende sektore van die vier moondhede bymekaarkom. Hier wapper die Hamer en Sekel van die Sowjet-Unie, in die hart van Europa ooswaarts, tot aan die see van China.

In 50 jaar het die opmars van kommunisme angswekkend deur die poorte van die Westerse wêreld gebars. Die hamer en die sekel is in dié tyd gehys oor die koppe van vier maal die Sowjetunie se bevolking. Lenin het gesê die rooi vlag sal eendag oor die ganse wêreld wapper. Dit het nie gebeur nie.

Die autobahnen op pad na Slubice, die grenspos tussen Oos-Duitsland en Pole is uiters swak. By die grenspos word ek meegedeel ek is op die verkeerde pad. Ek moes uit Berlyn ‘n ander pad gevolg het volgens wat my visum aandui en waarop niemand my attent gemaak het nie. Ek moet al die pad terugry na Berlyn om die ander pad te neem. Die twee paaie loop parallel langs mekaar ongeveer agt km uitmekaar en kom presies op dieselfde plek uit by Slubice waar ek nou moet omdraai.

In Warschau oornag ek in die Hotel-Bristol. Die hotel wemel van Amerikaanse toeriste. In die hysbak loop ek ‘n Amerikaner raak wat ‘n helse lawaai met ‘n kelner opskop oor die swak diens. Toe hy verneem ek is pad Moskou toe, bejammer hy my. “Daar is dit nog erger maar hier is iets wat jy beslis gaan nodig kry.” Hy is pas terug van Moskou en vroetel in sy baadjiesak en kom met twee wasbakproppe te voorskyn. In Rusland, beduie hy, het baddens en wasbakke geen proppe nie. Die Russe glo as jy in stilstaande water bad of was doen jy dit in vuil water. Die water moet al die tyd loop. Hoe reguleer ‘n mens nou die temperatuur van ‘n bad se water? Nietemin, die proppe het nuttig te pas gekom.

Die Poolse regering het goedgunstig ‘n amptelike gids tot my beskkiking gestel. Sy naam is Leon Babrovski. Hy is verbonde aan die departement van buitelandse sake. Hy is baie vriendelik en maak gou te kenne dat hy ‘n hekel aan die kommunisme het. Hy is getroud en het twee seuns wat tans op ‘n staatsvakansieplaas met skolevakansie is.

Ek nooi hom en sy vrou om die aand saam met my te gaan eet. Haar naam is Barbara. Daar is min restaurante van gehalte in Warschau, maar hulle stel voor die Kelder-restaurant op die Stare Miasto. Dit is ‘n baie duur plek. In Brussel het ek by ‘n geldwisselwinkel geld omgeruil. Ek vra die beampte of hy roebels, Russiese geld, en sloties, Poolse geld, het. Ja, dis op die swartmark beskikbaar maar, hy waarsku dis onwettig vir ‘n persoon om Russiese of Poolse geld na die betrokke lande te neem. Persone wat betrap word, word tronkstraf opgelê. Ek sal die kans waag. Vir een pond sterling kry ek £20 se waarde in roebels en ‘n bietjie meer vir sloties. Ek skroef die battery van die motor los en pak die note onder die battery vas.

Barbara Babrovski met die syfers 
32115 op haar arm getatoeëer, 
die Auschwitz-brandmerk.
Tydens die ete sien ek op Barbara se linkerarm die syfers 32115 getatoeëer. Dit, vertel sy, is die stempel van die Nazi konsentrasiekamp van Eichmann by Auschwitz, naby Krakow, nie baie ver van Warschau af nie. Sy was 14 jaar oud toe sy saam met haar ouers daarheen geneem is. Sy het gelukkig die gaskamers vrygespring omdat hulle haar in die kombuis laat werk het. Sy het egter op ‘n dag gesien hoe ‘n klomp mense poedelnakend voor die kombuisvenster verby stap. Om te gaan “stort,” is haar meegedeel. Dit was egter die gaskamers en haar ouers het sy nooit weer gesien nie. Ek besluit om by Auschwitz aan te doen op pad terug van Moskou.

Stadig ry ek oor die betonbrug van die Bugrivier, die grens tussen Pole en die Sowjetunie. Links lê stukke van die houtbrug waaroor Hitler se pantsers die nag van 21 Junie 1941 teen die Sowjetunie opgeruk het. Die grens is met ‘n gewone plaasysterhek versper. ‘n Enkele Russiese soldaat met ‘n masjiengeweer bewaak dit. Hy maak die hek oop en beduie ek moet regs by ‘n kantoortjie stilhou. Hier moet ek onder eed verklaar dat ek geen Bybels, Westerse literatuur, jazzplate, vuurwapens of Russiese geld besit nie. Ek moet ook hier my petrolkoepons koop. Brandstof kan alleen met koepons verkry word. Ek moet ook my eetkoepons hier kry vir my maaltye by die hotel waar ek tuisgaan.

My bagasie of die motor word nie deurgesoek nie. Die motor word net nagegaan dat dit nie vuil is nie en skoon gewas is. Geen vuil motors word toegelaat nie. Hier ontmoet ek ook my gids, Boris, die amptelike Intourist-gids. Niemand mog destyds sonder ‘n gids in Rusland wees nie. Die afstand na Moskou is 1 150 km. Verkeersreëls in Rusland is verstommend. As jy links wil draai, moet jy die linkerdeur oopmaak en regs die regterdeur. Saans moet aankomende verkeer ligte afskakel en slegs op parkeerligte ry.

Die Lloyd en Hans by die poorte van Moskou in 1958.

Ons oornag in Minsk. Presies om 21:15 die volgende aand ry ons verby die naambord, Mocba, soos die Russe Moskou spel. Ons hou voor die National-Hotel op die Manesjniplein regoor die Kremlin stil. Dis my tuiste in Moskou.
My eerste besoek is aan die ministerie van buitelandse sake met ‘n versoek om ‘n onderhoud met Chroesjtsjof. Ek moet ‘n vorm invul met die besonderhede van my koerant en ek skryf: “Verteenwoordiger van Die Vaderland, Johannesburg die grootste Afrikaanse dagblad ter wêreld.” Hulle was baie beïndruk daarmee.

Die volgende besoek was aan die staatskantoor vir kulturele betrekkinge met die buiteland om ander afsprake te reël. Swetlana Kolmakafa, die sekretaresse, is baie ingenome dat ek van Suid-Afrika kom en bevestig ek is die eerste Suid-Afrikaanse joernalis om Moskou ná die Tweede Wêreld Oorlog te besoek. Die eerste wat sy wou weet, was of ek mnr Sam Khan, ‘n voormalige kommunistiese LV van ons parlement, ken. Hy was die vorige week daar om hulp te soek om die Suid-Afrikaanse regering omver te werp.

Die tweede aflewering volg aanstaande Woensdag.