FRIKKIE VAN DER WALT skryf: In die jare sestig het ‘n voornemende joernalis se loopbaan in Die Transvaler se telekskantoor as papierskeurder begin. Anders het jy handgeskrewe briewe oorgetik of in die biblioteek beland waar jy elke dag se berigte uitgeknip en op A4-blaaie vasgeplak het. Dis volgens ‘n onderwerp soos boks, stoei, politiek, misdaad, hoofartikels, ens geliasseer. Dieselfde geld vir foto’s. Onderskrifte is uitgeknip en agter op foto’s geplak waarna dit ook volgens onderwerp geliasseer is.
![]() |
| Teleksmasjien |
Die biblioteekgroentjie moes vir senior personeel gaan kos koop of as motorbestuurder optree vir die redakteur of vrouejoernaliste wat laat gewerk het. Daarbenewens het die sentrale inkomende nuuswenke na die naaste onbesette foon deurgeskakel. Die senior personeel se fone was meestal beset en ek moes gereeld wenke afneem en na die nuusredakteur, Das Herbst, of die hoofsub vat.
Só bel ‘n man een aand met ‘n bomwenk.
“A bomb will explode on Johannesurg station,” sê die kêrel.
Ewe naïef verneem ek: ”Why?”
“I am deadly serious,” waarsku hy en plak die foon neer.
Ek was in elk geval op pad om die redakteur, Jan van Rooyen, huis toe te neem, maar op pad na sy kantoor loop ek die misdaadverslaggewer raak. As ek reg onthou, was dit Andries Gouws. Ek vertel hom en hy bel die polisie. Ek en die redakteur vat die pad Linden toe. Met my terugkoms maak ek reg om huis toe te gaan en ek hoor daar het wel ‘n bom op die stasie ontplof. ‘n Vrou is dood en verskeie mense is beseer.
![]() |
| John Harris |
Een van sy makkers in die African Resistance Movement het as staatsgetuie in die hofsaak teen hom getuig en hy het die doodstraf gekry. Hy was volgens nuusberigte die eerste en enigste blanke wat tydens die vorige bewind weens ‘n politieke misdaad gehang is.

