Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

18.9.13

Joernaliste skryf en tiksters tik

HANS LOMBAARD het verlede week vertel van sy rit in Lloyd-motor na Moskou. Dié week vertel hy van hoogtepunte wat hy in Moskou beleef het.

Hans vertel van rolprente, sy kuier by die burgemeester, 'n besoek aan Prawda waar stories met die hand geskryf was en die verskrikking in die Auschwitz-konsentrasiekamp.

Tamara Makarowa

Tamara Makarowa
Die beroemdste aktrise van die Russiese silwerdoek. Sy is in diens van die Gorki-ateljee en verdien R12000 per jaar (1958). Sy het ‘n donkerrooi gestreepte rokkie aan en ‘n netjiese hoedjie op haar kop. Haar lang swart hare hang byna op haar skouers. Slegs die punte krul effens. Haar lippe is effens met lipstiffie skrikgemaak. Aan die res van haar gesig is geen ander grimering nie. Sy laat my baie duidelik verstaan dat ‘n aktrise in die Sowjetunie nie as ‘n ster of sekspot opgelei word nie, maar as ‘n kunstenares. Wanneer die Russe ‘n rolprent beplan, vertel sy, word daar heel eerste aan die kultuur en kuns gedink. Daarom sal ‘n mens nêrens in Moskou ‘n bioskoopprent geadverteer sien met die alombekende sin: Persone onder 18 jaar nie toegelaat nie. ‘n Rolprent is vir almal bedoel. Geen Westerse rolprente word in die Sowjetunie toegelaat nie.

Die burgemeester van Moskou.

Die ministerie van buitelandse sake laat my weet dat Chroesjtsjof weens ‘n druk program my nie te woord kan staan nie maar dat ‘n onderhoud vir my gereël is met die burgemeester van Moskou, mnr Vladimar Romislof.

Die burgemeester van Moskou, mnr. Vladimar Promislof, 
doop die Lloyd terwyl hy sy naam op die kap teken.
Een van die grootste probleme waarmee sy stadsraad worstel, is behuising. Die meeste Russe woon in ‘n eenkamer-woonstel waarin ‘n hele gesin saamgehok is. Jong getroude pare bly dikwels in daardie een vertrek saam met pa en ma. Almal deel ‘n gesamentlike kombuis en badkamer. Die stadsraad beplan om in die volgende agt jaar 100 000 woonstelle geskoei op die Westerse patroon met twee of drie slaapkamers en afsonderlike bad- en kombuisgeriewe te voltooi. Op die oomblik is daar slegs 16 woonstelle vir elke 1 000 mense in Moskou (1958).

Verder roem hy daarop dat in Moskou geen jeugmisdaad is nie. “Hou die kind die heeldag besig en hy kry nie kans om kwaad te doen nie. Amerikaanse kinders lees te veel strokiesprente en sien te veel swak rolprente. Geen strokiesboeke word in Rusland toegelaat nie,” beklemtoon hy.

Is daar nog vrae, wil hy weet? “Ja ek het nog ‘n laaste spesiale versoek asseblief. Ek wil vra of u nie u naam op my motors sal teken nie?” Dit lok ‘n baie interessante reaksie uit. Hy swaai sy vulpen in die lug rond en beduie aan die tolk dat onder geen omstandighede gaan hy met sy pen op my motor skryf nie en tweedens is dit verbode dat senior amptenare van die Sowjetunie handtekeninge toestaan.

Die Lloyd geparkeer voor die ingang van Prawda.
Daar is geen ander voertuie in die straat nie.
Ek verduidelik van my weddenskap en dat ek ‘n blikkie swart verf het met ‘n kwassie waarmee hy kan skryf. Hy stem in en saam stap ons uit sy kantoor na waar die Lloyd geparkeer is. Hy teken sy naam. 'n Onbetwiste bewys ek was in Moskou. Hy groet vriendelik en wens my ‘n aangename verblyf in sy stad toe.

• Prawda

‘n Besoek aan Prawda was vir my as joernalis ‘n belewenis om met die pennelekkers van die Ystergordyn
kennis te maak. Ons het baie gemeen. Prawda beteken die waarheid. Glo dit as u wil. Dit is die amptelike lyfblad van die kommunistiese party. Drie en ‘n half duisend werknemers laat elke dag die drukkersink deur Rusland se grootse propaganda-masjien stroom.

My gashere is Victor Maewshi, buitelandse redakteur en O. Orestof, sy assistent. Hulle is albei geharde joernaliste wat wyd en syd oor die aardbol gereis het om nuus vir hul koerant in te samel. Hul Engels is vlot.

In die Prawda-redaksie saam met 
Victor Maevsky, buitelandse redakteur.
Met ‘n daaglikse sirkulasie van 6 500 000 (1958) is dit op een na die grootste dagblad ter wêreld. ‘n Dagblad in Japan met ‘n sirkulasie van 7 000 000 loop voor.

Joernaliste skryf nie hul stories op tikmasjiene nie maar met die hand en tiksters tik dit. Behalwe Prawda word nog 7 000 ander koerante in Rusland gedruk.

Geriewe wat vir die werkers aangebring word, is asemrowend. In die persgebou is daar haarkappers vir mans en vroue. Daar is ‘n klubgebou wat ‘n bioskoop, gimnasium, ‘n biblioteek en ‘n kleuterskool huisves. Langs die pers is hul eie vierverdieping-hospitaal met alle moderne mediese geriewe.


Lenin/Stalin-mausoleum 

The Lenin-Stalin Mausoleum
‘n Besoek aan Moskou sonder ‘n besoek aan die Lenin/Stalin-mausoleum – die grafkelder van dié twee
leiers – is nie die moeite werd nie. Voor die grafkelder strek die langste tou ter wêreld. Uit die vier windstreke van die Sowjetunie staan duisende mense soos pelgrims wat na Moskou opgeruk het om hul afgode te sien. Hulle kom elke dag, 365 dae van die jaar in ‘n tempo van 20 000 daagliks in snerpende sneeustorms, skroeiende hitte of donderstorms.

Dit is ongetwyfeld een van Moskou se gedenkwaardigste ondervindings. Die mense staan vier diep en kronkel om geboue twee kilometer lank. Hulle staan geduldig en geruisloos. Opmerklik is dat daar geen vullis, papiersakke of rommel vertstrooi lê nie Ons staan nie in die ry nie. My gids het twee spesiale toegangskaarte wat vir toeriste bedoel is. Wys dit vir die militia voor in die ry en ons val voor in.

Ons skuif aan tot op die drumpel van die mausoleum wat deur massiewe staaldeure beskerm word. Twee wagte met masjiengewere, bewegingloos soos twee bronsbeelde, staan weereskante.

Die atmosfeer word beklemmend toe ons stadig na die flou verligte grafkelder met sy gitswartmamermure afsak. Stadig skuifel ons om ‘n hoek en plotseling sien ons dit. Die twee glaskaste met die gebalsemde lyke van Wladimir lljitsj Lenin en Josef Wissarionowitsj Stalin. In die eerste kis is Lenin. Hy lê al hier sedert 1924. Langs hom Stalin. Lenin is bedek met die beroemde jas wat hy gedra het met die sluipmoord op hom deur Fanny Kaplan op 30 Augustus 1918. Hy was swaar gewond maar het redelik herstel. Op 21 Januarie 1924 is hy aan 'n beroerte oorlede. Stalin is geklee in sy maarskalk-uniform.

Ons moet stadig aanbeweeg. Daar mag nie stilgestaan word nie. Agter ons bars ‘n vrou in trane uit. ‘n Bejaarde man met grys baard gryp na sy kop en maak ‘n onaardse roggelgeluid. ‘n Paar oomblikke later staan ons weer in die sonskyn.

(Met Chroesjtsjof se latere veroordeling van Stalin is sy lyk een aand in die eerste week van November 1981 uit die mausoleum verwyder, veras en begrawe. Ek het die mausoleum met ‘n tweede besoek ‘n paar jaar later weer besoek. Daar was geen ry nie. Lenin het verklee in ‘n blou pak klere.)

ARBEIT MACHT FREI

Op ‘n pragtige somersoggend hou ek voor die staalhek, hoofingang van die Auschwitz-konsentrasiekamp stil. Bo-oor die hek in ‘n boog staar smee-yster letters my in die gesig: ARBEIT MACHT FREI – Arbeid maak vry. Auschwitz is ‘n klein dorpie 280 km suid-wes van Warschau. Die bevolking is ongeveer 12 000.

‘n Aantreklike Jodin in haar dertigerjare ontmoet my. Haar naam is Ruth. Sy was een van die inwoners van die konsentrasiekamp. Toe die Russe Auschwitz op 27 Januarie 1945 beset het, was sy 18 jaar oud. Die Nazis het haar in ‘n administratiewe pos gebruik en so het sy die gaskamers vrygespring. Hier is meer as vier miljoen Jode, van dag oue babas tot 90-jarige bejaardes op die wreedste, grusaamste en mees barbaarse wyse in menseheugenis in die gaskamers vermoor.

Ruth vertel dat die kinders laggend, jubelend en vol grappies met hul speelgoed opgewek die “badkamers” binnegestap het. Deure is agter hulle gesluit. Sowat 2 000 mense is op ‘n slag in ‘n kamer van 210 vierkante meter ingedruk. Uit gate in die dak is die dodelik gas vrygelaat. Ná die verassing is die hare van die lyke afgeskeer. Alle goud in tande, ringe, armbande, horlosies en oorkrabbers is verwyder.

Daar was vyf krematoriums wat 10 000 lyke in 24 uur veras het. Die krematoriums kon nie voorbly met die toestromings van Jode nie. Ses loopgrawe is toe gegrawe waar 24 000 lyke daagliks met militêre vlamwerpers verbrand is.

Ons stap verby ‘n houer met goue tande, ringe en oorkrabbers. Volgens rekords wat met die besetting van die kamp gevind is, was daar in 1942 van 2 904 lyke, 16 325 goue en platinum tande verwyder. ‘n Spesiale afdeling het daagliks sowat 12 kg goud gesmelt wat na die Reichsbank in Berlyn gestuur is.

Ons staan in een saal vol menshare: krulhare, lang hare, grys hare en blonde hare - tot dakhoogte. Eenkant op ‘n tafel lê ‘n paar rolle materiaal wat van menshare geweef is. Komberse vir die Nazi-weermag is daarvan gemaak.

Die hartroerendste toneel is die saal vol speelgoed tot dakhoogte van onskuldige kinders wat hier gesterf het. Motorkarretjies, treintjies, poppe, teddiebeerstjies. Selfs die gehardste, gestaalde joernalis se moed begewe hom hier.

Daardie lappop met die helder albasterblou oë, blonde krulkoppie en ‘n uitgestrekte armpie asof dit murmereer, sal ek nooit vergeet nie. “Help my asseblief uit dié ellende.” Watter onskuldige dogtertjie het hierdie poppie teen haar bors na die “badkamer” geneem waar die dodelike gaswalms haar lewe kort geknip het?

Meer as een miljoen kinders is in Nazi-konsentrasiekampe om die lewe gebring. Meer as ses miljoen Jode het die prys betaal.

Terwyl die son oor Auschwitz sak, draai ek die neus van die Lloyd weswaarts terug na ‘n vrye wêreld. Die Lloyd, met slegs een papband, het my 7 300 myl deur Europa, Oos-Europa en agter die Ystergordyn drie maande later veilig terug op Bremen, die Lloydfabriek, besorg.

Russiese koerante dra geen advertensies nie en is van voor tot agter vol nuus. Baie prominensie word aan lesersbriewe bestee. Een volle blad. Meer as 1 200 briewe word daagliks ontvang. Vyftig persone onder ‘n spesiale redakteur hanteer die briewe. ‘n Reuse-organisasie is verantwoordedlik vir die verspreiding. In Wladiwostok, 8 000 km van Moskou, word die matryse per straalvliegtuig vervoer en die koerant verskyn ‘n dag nadat dit in Moskou die lig gesien het. Meer as 100 joernaliste sorg vir nuus.