Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

13.9.13

Sy rook die pyp – met ‘n pyp

JUTTA KRÖGER, 'n aanvallige advertensiewerwer van Aucklandpark, het eers dertig sigarette per dag gerook. Sy het toe 'n stryd teen die gifpyle aangeknoop wat sy móés wen. Nou het sy die pyp gerook -- met ‘n pyp!

Mej. Kröger het al baie metodes aangewend om minder te rook, maar almal het misluk. Sy het besef dat 30 sigarette per dag 'n bietjie kwaai is en het toe besluit om niks meer as vier per dag aan te steek nie.

Jutta Kröger en haar pyp in 1970.
Maar as die lus nie wil weggaan nie, dan rook 'n mens maar weer 30 sigarette per dag.

Pilletjies met 'n gemmergeur wou ook nie hul werk behoorlik doen nie. Dit is veronderstel om die rooklus te demp, maar 'n mens rook maar net soveel en gebruik ook net soveel pilletjies, sê sy.

'n Vriendin het toe hier teen die einde van Mei met die gedagte gekom dat sy 'n pyp moet aanskaf. En dit het soos 'n bom gewerk.

Aanvanklik het mej. Kröger toe vyf sigarette per dag gerook en die pyp het verder in die behoefte voorsien. Maar nou is dit al langer as 'n maand dat sy slegs pyp rook en ook net in die aande by die huis.

By die werk en as sy miskien uitgaan, word die vierduim-pyp gebêre, want die mense lag vir haar. Maar dit maak nie saak nie, want een ding is seker: die rookgewoonte verloor veld by dié Duitse vrou.

En wat die geldjies betref, is dit ook sommer baie voordeliger om pyp te rook. Pleks van R2,50 is haar uitgawe nou 60c per week. – Perskorhaan, Augustus 1970.