Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

5.9.13

Oor harde man Hennie en sosiale ou Otto

WILLIE BUYS skryf: Frikkie van der Walt, deurwinterde en veelsydige joernalis, se skrywe anderdag waarin Otto Krause en Hennie Kotze albei gefigureer het, het allerlei herinneringe by my wakker gemaak. In wyle Hennie se geval het dit my teruggeruk na my vormingsjare as joernalis by ook wyle Die Transvaler.

Henniem Kotze
Toe ek daar aangestel is, was Hennie die nuusredakteur. Skerp soos lemmetjies, maargeneig om oordonderend te wees in sy opdraggewing en hantering van sy personeel. Hardwerkend ook en ek het nooit ervaar dat hy terugdeins wanneer werk ter sprake was nie. Maar hy was ‘n harde man wat die joernalistiek van binne en buite geken en dit met onderskeiding beoefen het. Ek skroom nie om te erken dat dit hy is wat die fondament gelê vir my taamlik suksesvolle loopbaan as joernalis nie.

Maar Hennie kon ‘n punt partykeer oorbeklemtoon, soos vroeër gemeld. Dit word treffend weerspieël deur ‘n voorval tussen hom en ‘n sekere senior joernalis – wie se naam ek liewer verswyg om hom verleentheid te bespaar. Dié man was ‘n letterlike swaargewig met ‘n kort lont, veral as die remme van redelikheid so ‘n bietjie verslap is deur alkoholiese oordadigheid.

So het dit gekom dat dié man en Hennie ‘n vreemde riel gedans het na ‘n meningsverskil in laasgenoemde se kantoor – al om die lessenaar met die nuusredakteur voor en die briesende joernalis agterna met die uitsluitlike bedoeling om handtastelik te raak. Hennie het die wedloop gewen en ongeskonde daarvan afgekom.

Soos goeie base maar gewoonlik is, het Hennie die swakheid gehad dat hy mense tot oor die grens van geduld gedryf het in sy ywer om net die beste uit hulle te haal. So het ek die titel as “wegloper” by hom verwerf nadat ek in die sestigerjare as’t ware gevou het onder ‘n kombinasie van sy genadelose woordgehamer (einste man wat hom wou donner het dit komielik beskryf as koeloe-koeloe!) en die nimmereindigende werkdruk. Ek het op ‘n dag net besluit genoeg is genoeg en my bedanking in sy mandjie gesmyt en die pad gevat. Vandaar die wegloperstatus.

Connie Mulder
Maar hy was ‘n gerespekteerde leermeester wat sy vak geken het. Bewys van my agting vir hom was ‘n ander geval jare later toe ek op ‘n Sondag as nuusredakteur gewerk het. Die diensdoende redakteur was ‘n gerekende woordsmid wie se naam ek ook liewer verswyg. Een van die vele telfoonoproepe wat ek op my diensbeurt beantwoord het, het die nuus gebring dat die destydse minister van inligting, dr Connie Mulder, en sy twee seuns op pad was na ons kantore.

Hulle wou persoonlik kom verduidelik oor die waarde van die vloedgolf aantygings wat toe al maande (en ook dié Sondag) in die media verskyn het oor wat destyds bekend gestaan het as die Inligtingskandaal. Almal wat die persgeskiedenis ken, sal weet van die geknoei met ‘n regeringsbefondsde dagblad wat moes dien as teenwig vir die genadelose media-aanslag op die destydse regering oor sy apartheidsbeleid.

Ek het sommetjies gemaak en tot die slotsom gekom dat die diensdoende redakteur nog nie genoegsaam geskool was in die politieke joernalistiek nie. Dus het ek Hennie Kotze in sy hoedanigheid as besturende redakteur van Die Transvaler gebel om te kom help. Hy hét en het die saak op uiters bekwame wyse hanteer.

Die volgende dag het dié woedende aspirant-redakteur my in my kantoor vasgekeer met die woorde: “Jy weet, ek sou die Mulders kon hanteer! Ek is die donner in vir jou dat jy Hennie Kotze gebel het … ”

• Otto Krause. Hy was soos Frikkie geskryf het ‘n vriendelike en bedagsame ou wat weens sy intieme en betroubare kennis van die sosio-ekonomiese politiek ‘n baie gerespekteerde man was. Ek meen hy is destyds deur wyle dr Willem de Klerk aangekeer om ons met die naweekwerk as redakteur by te staan. ‘n Ironie wat my nie destyds ontgaan het nie, was dat hy en wyle dr Willem in ‘n stadium albei ernstig siek in dieselfde hospitaal gelê het. Otto het die Groot Rivier voor De Klerk oorgesteek.