Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

26.9.13

'n Ontydige graf

PHILIP DEETLEFS skryf: Piet Roos se onlangse storie (klik HIER) het my laat dink aan 'n begrafnis wat ek destyds vir Die Transvaler moes bywoon. Ek kan nie meer onthou presies waar die begrafnis was nie, maar dit was destyds groot nuus.

Die storie was oor twee boesemvriende wat nog skoolkinders was, wie se maatjie selfmoord gepleeg het. Uit pure, ek weet nie mooi wat nie,
het die twee boesemmaats toe besluit om by hul vriend aan te sluit en pleeg die twee toe saam selfmoord. Driedubbele tragedie wat die wêreld aan die gons gehad het.

Die families van die drie maatjies het toe besluit hulle kan ook nie na hul dood geskei wees nie en al drie word in dieselfde gat begrawe – die een kis bo op die ander een in 'n diep graf.

Nou soos mens kan dink was die pers van heinde en verre daar om die begrafnis te dek. Vir ons verslaggewers was dit nie moeilik nie want jy kon mos loop en praat met wie jy wil, maar vir die fotograwe was dit 'n perd van 'n ander kleur.

Die groot groep bedroefde familie en vriende het die graf toegestaan en om daar in te kon kom met 'n kamera was haas onmoontlik.

Ek kan ook nie onthou wie die fotograaf was nie, maar die kameraman van Rapport het met 'n slim plan vorendag gekom. Hy sal sommer in die boom klim waarvan 'n groot tak oor die graf gekronkel het. So besluit, so gedoen.

Hy kry die een treffer-foto na die ander tot die oomblik toe die laaste kis grond vat en die tak waarop hy le en foto's neem, gebreek het. Rapport se man val toe met kameras en al bo op die boonste kis in die graf.

Nou is baie se moeilikheid hoe om in hierdie tragiese situasie nie hardop uit te bars van die lag nie. Baie van ons en die begrafnisgangers kon hulself nie goed inhou nie. Party het uitgebars van die lag wat, ek dink, ook 'n teen-reaksie is vir die hartseer van die geleentheid. Van die nader familie het nie gesukkel om nie te lag nie. Hulle was wippend bebliksemd en Rapport se ou moes spring om betyds uit die gat te kom.

Die nuus-foto van die dag was van Rapport se fotograaf in die graf!