Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

27.9.13

Peet se waagstuk

PEET SIMONIS skryf: Hans Lombaard, ek glo ek praat namens ons almal van K'RANT as ek jou gelukwens met jou merkwaardige reeks oor jou groot avontuur met die kleine Loyd na en van en agter die Ystergordyn.

Puik man!

Die Volksie waarmee ons en ons vier kleingoed 
deur 'n deel van Oos-Duitsland tot in Berlyn gery 
het. Anina was die jongste van die geselskap.
Ons wat ook al oukant toe staan, onthou nog die Groot Oorlog en die Koue Oorlog daarna en hoe ontoeganklik Sowjetlande vir ons as Suid-Afrikaners was.

Ek en my gesin het ook agter die ystergordyn gaan draai. Terwyl ek in Londen gewerk het, is ons met
vakansie Europa -- Duitsland -- toe. Ons het ons vier kleintjies in die Volksie geprop en is deur 'n stukkie van Oos-Duitsland tot in Berlyn.

Voorin my en Esther se paspoorte (wat ek nog het) was 'n stempel dat hy nie geldig is vir Oos-Duitsland nie.

Tog is ons na 'n halfuur of wat deurgelaat. Maar toe ons eers deur is en in Berlyn, tref dit my -- as hulle jou wil vastrap met die ongeldige reisdokument, sal hulle dit doen as jy teruggaan, want dan kan hulle jou van spioenasie beskuldig of wat ookal.

Suid-Afrikaners was destyds persona non grata in Kommunistiese lande.

Bockwurst en kartoffelnsalat
Johannesbeeren
Só, dit was maar 'n spanningsvolle tyd en toe ons uiteindelik weer veilig in Wes-Duitsland aangekom het, het ons dit by die grens se restaurant gevier met 'n groot feesmaal van bockwurst, kartoffelnsalat (aartappelslaai -- Red.) en roomys met Johannesbeeren en sous. Johannesbeeren is iets soos brame.

Ek noem dit om te wys dat ons iets verstaan van die prestasie van 'n joernalis van Suid-Afrika wat kon doen wat jy gedoen het.

So baie geluk Hans. Sal graag wil weet hoe die koerant jou storie gebruik het - bladsye vol oor 'n paar dae? En wat was die reaksie in Suid-Afrika? Het jy nie 'n paar besoeke van die veiligheidspolisie gehad nie?

Dachau-konsentrasiekamp
Terloops - ons was by 'n ander Duitse konsentrasiekamp -- Dachau - byna net so erg soos Auswitz. Hoe kan een volk dit aan 'n ander doen - om ses miljoen mense dood te maak net oor hulle Jode is? Daarteen is Rwanda waar ongever 700 000 vermoor is maar 'n vulletjie.

Ek was daar en dit het my geskud -- my lewe verander! Dis dalk 'n storie vir annerdag se K'RANT.