Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

2.9.13

Gee kleur aan K'rant: Maandae is voortaan fotodag


Maandae is voortaan fotodag in K’rant. Ons wil foto’s van jou as oudkollega, hetsy uit jou dae by Perskor of oor gebeure in jou alledaagse lewe, hier plaas.

Ons wil graag sien hoe en wat jy gedoen het van die dae her tot vandag. Wat het jy aangevang toe jy jonk was? Was jy miskien Mej Hoërskool of Mnr Tawwe Tienie. Wat het jy tydens jou Perskordae gedoen? Wat doen jy nou?



Gaan krap in jou ou bokse en stuur aan ons foto’s van jou bedrywige dae by ‘n Perskor-koerant. Stuur sosiale foto’s saam met kollegas, werkfoto’s, uitvangfoto’s. Enigiets wat jou kollegas van destyds sal geniet.

Maar meer nog: stuur foto’s van wat jy vandag doen: jou stokperdjies, samesyn met oudkollegas wat by jou kom kuier het, jou spogfoto’s, jy en jou unieke tuin, unieke reisfoto’s, werk wat jy vandag doen. Enigiets wat jy dink jou oudkollegas graag sal wil sien en oor sal praat.

Daar is een voorwaarde: jý en/of ‘n oudkollega móét op die foto wees.

Foto’s van jou kleinkinders met hul grafies en emmertjies op die strand sal nie aftrek kry nie, nes X-straal-foto’s.

Voorbeelde van wat ons graag wil hê:

• ‘n Jaar terug het Nic Kruger vertel dat hy ‘n streeksraadslid in Windhoek is. Stuur foto’s, Nic.
• Jakkie Groenewald speel deesdae die rol as ‘n bemiddelaar in Binnelanders. Stuur foto’s, Jakkie.
• Tienie Fourie is 'n onderwyser/dosent in Engels in Beijing. Stuur foto’s Tienie.
• Piet Roos is ‘n apteker. Wys ons hoe jy pille tel, Piet.
• Tom Cairncross is ‘n vaardige boogskutter. Stuur die kiekies, Tom.
• Willem Knoetze praat dikwels op Jakaranda FM. Wys ons hoe lyk jy agter ‘n mikrofoon, Willem.
• Peet Simonis het huise gebou. Wys ons, Peet.
• Harry Lombaard is onlangs aangeval en was in die intensiewesorgeenheid. Hoe gaan dit nou, Harry? Wys ons jy glimlag weer.
• Japie Bosch het in 1965 die rol van ‘n skurk in ‘n fotoverhaal gespeel. Stuur aan!

Gaan deur die lys van oudkollegas. Elkeen van ons het foto-stories. ‘n Foto met ‘n byskrif gaan net so goed ontvang word soos ‘n storie.

Het jy kontak met die familie of vriende van oudkollegas wat nie meer met ons is nie en wie altemit ‘n gepaste foto of twee het?

Hulle sê: ‘n foto is meer werd as ‘n duisend woorde. Ouboet Snyman sou gevra het: wie is dié “hulle”?  Dis ons almal wat jou foto’s gaan geniet en waardeer.

Daar is nog ‘n klompie foto’s uit ou Perskorhane wat ook geplaas sal word.