Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

17.9.13

Eerste vrou Knipe die kat in die donker


JAPIE BOSCH skryf: “Nooit, nooit, nooit weer nie,” het dr AD Bensusan in Maart 1974 driftig gesê toe ek hom gevra het of hy weer burgemeester van Johannesburg sou wou wees ná sy pas afgelope termyn. Min het ek geweet watse skandaal en vernedering agter sy woorde was.

Dr AD Bensusan
Bensusan was ‘n wêreldbekende in die fotografie-geskiedenis. Hy het ‘n reuse-versameling kameras, fotografiese toerusting en boeke gehad.In 1969 het hy dit aan die Stad Johannesburg geskenk waarna die Bensusan Fotografiese Museum gestig is. Hy het ‘n reeks prestasies agter sy naam gehad, onder meer die uitvinder van onmiddellik-beskikbare X-straalfoto’s en die eerste Suid-Afrikaner wat ‘n toekenning by die Cannes-filmfees ontvang het. Op die mediese terrein het hy ook gepresteer en aan tientalle organisasies behoort, voorsitter hier en onder-voorsitter daar. ‘n Merkwaardige, maar baie besige en ernstige man.

In 1973 het hy as lid van die destydse Verenigde Party burgemeester van Johannesburg geword. Dit het rampspoedige gevolge vir die geëerde Bensusan-naam gehad. En die Bensusan-naam was vir hom van groot belang. Soms het raadslede van die Nasionale Party uitttartend na hom as dr “Ben Suzman” verwys. Dan het hy het opvlieënd gereageer dat hy geen verbintenis met “daai vrou” (Helen Suzman) het nie.

‘n Rukkie ná my onderhoud met Bensusan het die stadsraad 'n maandvergadering gehad. Gewoonlik was daar een verslaggewer van elk van die vier dagblaaie. Dié keer was daar ‘n paar van die Rand Daily Mail. Elke nou en dan het hulle suutjies-suutjies met Paddy Weech, die koerant se munisipale verslaggewer, beraadslaag. Teetyd het hulle oral praatjies gepraat.

Paddy, ‘n baie ordentlike en vriendelike man en ‘n goeie joernalis wou nie sy geheim met my deel nie. Later die middag het hy tog besluit om my daarop in te laat: “Ek sal jou vertel, want jou koerant verskyn ná myne, maar bly stil”.

Toe hoor ek dat Bensusan se vrou ‘n buite-egtelike verhouding het. Nie dat dit so uitsonderlik was nie, maar

• Sy was in die gesogte posisie van burgemeestersvrou van ‘n wêreldstad en het feitlik elke dag van die burgemeesters- jaar een of ander uithanggeleetheid saam met haar man bygewoon of aangebied;
• Die verhouding met haar veel jonger minnaar, ene Bill Knipe, was passievol;
• Knipe was die bestuurder van, TJ 1, die blinkswart Rolls Royce-burgemeestersmotor en
• Die Bensusans en Knipe het dit reggekry om dié onsmaaklikheid vir maande aaneen geheim te hou terwyl hulle ‘n front van samesyn tussen hoë lui voorgehou het.

Nie een van die Rand Daily Mail se verslaggewers kon die storie bevestig kry nie. Paddy ook nie en hulle het vertrek. Geen woord daaroor het die volgende dag verskyn nie.

Tydens aandete in die burgemeesterskantore het ek ‘n paar raadslede oor dié gerug uitgevra. Bensusan was nie daar nie. Vroegaand wou niemand daaroor praat nie. Soos die aand ouer en die bottels leër geword het, het een of twee raadslede my vrae sku beantwoord. Ten einde laaste het ‘n senior lid van die Verenigde Party dit bevestig, maar, soos dit gewoonlik met sulke stories gaan, was sy versoek dat ek nie sy naam mag gebruik nie.

Die volgende middag het my storie bladsy 3 gehaal, maar toe die eerste uitgawe verskyn, het Dirk Richard die nuustafel aangesê om dit die hoofberig op bladsy een te maak. Dis die aanloop tot sensasie op sy beste.

Paddy het my dieselfde middag gebel en my gelukgewens dat ek hom met sy eie storie ge-“scoop” het.

Die Bensusans se skeisaak het groot belangstelling gewek. Dit was in die dae toe daar nog uit die Hooggeregshowe oor skeisake gerapporteer kon word. Tydens sy burgemeestersjaar het Bensusan nie alles van sy vrou se manewales openbaar gemaak nie om die amp van burgemeester te beskerm. Daar is nietemin getuig hoe me Benusan, as die geleentheid hom voorgedoen het, onkuis op die agterste sitplek in TJ 1 gesit het sodat mnr Knipe in die truspieëltjie ‘n beter oog op haar kon kry.

Die skeisaak en alles wat dit voorafgegaan het, moes ‘n yslike vernedering vir hom gewees het. Dit moes ook uiterste selfdissipline geverg het elke keer as Bill Knipe hom en sy vrou iewers geneem het. Daarby moes hy nog die beeld van Johannesburg bevorder en saam met haar vir honderde foto’s by al wat ‘n geleentheid is regstaan.

Wat vir hierdie talentvolle man ‘n hoogtepunt in sy lewe moes gewees het, het as ‘n laagtepunt en ‘n skande geëindig.

Daarna het ek verstaan hoekom dr Bensusan nooit, nooit, nooit weer burgemeester wou wees nie.

• Ná sy aftrede het Bensusan ‘n meestergraad in die teologie verwerf. Hy het voortgegaan om boeke en artikels oor die teologie en fotografie te skryf waarvan sommiges tot enkele maande voor sy dood gepubliseer is. Hy is op 85, terwyl hy in Nieu-Seeland was, oorlede.