Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

10.9.13

Gert se omgee atlete se hardekool

Gert le Roux
Nog ‘n huldeblyk aan wyle Gert le Roux, wat vanweë tegniese probleme nou eers verskyn.

INA VAN RENSBURG, Oudspringbokatleet en gewese atletiekmedewerker van Metro, skryf: Atletiekmense het gekom en gegaan, maar die groot gees, oom Gert le Roux, was maar altyd daar – in dekades se statistiekboekies, waarvan hy die meesterbrein was. Atletiek en die media is vandag baie armer, want hy was ‘n lewende atletiek-internet.

Die twee dekades wat ek aan atletiek deelgeneem het, was oom Gert ons atletiek pa. Ek en my man, Theodor (en ek glo al die atlete wat oom Gert geken het), sal hom onthou as die warm, vriendelike mens, wat regtig baie vir sy atletiekkinders omgegee het. Met entoesiasme het hy almal se prestasies feitlik foutloos opgeteken. Hy en tannie Theo het geborrel van trots oor elke atleet se prestasie en was soms meer opgewonde daaroor as die atleet self. Hulle was net so trots op hulle eie kinders wat uitmuntend presteer het.

Hy het so lekker gekry as ons atlete in die isolasiejare wêreldklasprestasies behaal het, wat die wêreldatletiek laat skaam kry het, soos toe Fanie van Zijl die Olimpiese kampioen geklop het! Die kroon word waarskynlik gespan deur Johan Cronjé se bronsmedalje op die afgelope Wêreldkampioenskap, ‘n eer wat nie vir sy ouers die oudatlete, Sarina en Danie Cronjé, beskore was nie.

Dankie, oom Gert, dat u atlete se bloed, sweet en trane, in tye en afstande met liefde vir die nageslag opgeteken het. Dit het ons harde werk die moeite werd gemaak. Ons prestasies was die vuurmaakhout vir u oudag – u omgee en statistieke is die atlete se hardekool. Dankie vir wat u vir atlete beteken het en in besonder vir my en Theodor. Ons gaan oom baie mis.