Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

19.9.13

Aangename kennis, ek is van Die Transvaler

PIET ROOS het in Perskorhaan geskryf:  Hulle het my vertel dat elke koerantman stories kan vertel wat voorbladnuus sou wees, maar nooit geskryf word nie. Hierdie stories het met hulleself gebeur,

Ek is deur Die Vaderland gestuur na die begrafnis van die mense wat in die vliegramp in Natal omgekom het. Dit was die eerste keer dat ek na 'n begrafnis gestuur is en die fotograaf het ook nie veel daarvan gehou nie. "Te treurig," het hy gesê.



Ons het die middag op Rustenburg by die kerk stilgehou en ek kon sommer voel die hele wêreld is vanmiddag bedroef. Almal het swart klere aan en praat saggies. Hier en daar snik 'n vrou.

En nou? het ek by myself gedink.

Uit watter hoek gaan ek hierdie storie benader? In Prawda en die Rooipers is die storie al holruggery. Maar natuurlik, dink ek, benader dit uit die dorpsmense se oogpunt. Die oorledenes was goed bekend en almal is baie bedroef.

Daar eenkant gewaar ek toe 'n omie wat vir my lyk asof hy dalk sal gesels. Hy lyk meer na 'n toonbankklerk in 'n klerewinkel as 'n boer en ek benader die heer.

"Goeiemiddag," sê ek en voordat hy kan asemskep, gaan ek voort: "Ons het verneem van die droewige heengaan van die twee geliefde inwoners van u dorp en het nou net hier uit Johannesburg aangekom. Treurig. Darem lekker warm hier op Rustenburg ... "

"Ja, dis baie warmer as in Johannesburg," antwoord hy.

"En hoe voel die dorp oor die skielike tragiese heengaan van hierdie twee welbekendes?" vra ek hom toe ek sien hy wil ontdooi.

"Man, ek is van Die Transvaler. My naam is Jan Beukes. Ken jy my nie?"

En toe is hy al die tyd die Hun.

"Nee sien," beduie ek toe, "ek is nog maar net 'n week by Die Vaderland en ek ken nog nie al die mense nie."

"Is jy hulle verslaggewer?" begin hy my vra.

"Nee, ek is eintlik net die fotograaf." Gelukkig het ek Nico se kamerasak byderhand" en glimlaggend wys ek dit aan hom.

"Nou maar wie is dan die verslaggewer?" hou hy vol

"Nee kyk, dis 'n nuwe outjie wat ek nog nie ken nie en ek sien hom ook nou nêrens nie," moes ek maar antwoord.

Só het ek 'n lid van Perskor ontmoet. Ek wens hier was 'n bekendstellingsburo of so iets.