André het sowat 'n maand gelede 'n hartoperasie ondergaan waarvan hy goed aan die herstel was. Sipke sê André was 'n besonder goeie vriend van hom. Hy sal later meer besonderhede stuur.
18.5.21
André Scheepers oorlede
22.4.21
Mediamense.com vir almal
JOHANNES FRONEMEN skryf: Mediamense.com het ‘n paar weke gelede herleef nadat dit vir ‘n paar jaar lank stil was. Die ou Mediamense.co.za is gekaap en ons moes van voor af begin. Gelukkig het nuwe programme en die slimfoon dinge makliker gemaak as 15 jaar gelede.
Daarom is daar nou letterlik honderde voorbeelde van koerantvoorblaaie op die nuwe Mediamense.com. En dit word letterlik daagliks aangevul.
Jy is meer as welkom om daar te gaan blaai en die vrug van 50 jaar se bymekaarmaak te geniet.
4.3.21
Hulp met foto's gevra
HENNIE VAN DEVENTER, Melkbosstrand, skryf: Ek kom by K'rant uit via Gerhard Burger.
In September verskyn van my, by Naledi, ‘n boek met die titel “Koerantkamerade”. Dit behels 50 gemoedelike, informele “grafskrifte” vir ontslape tydgenote.
Synde ‘n lewenslange Nasperser het my seleksie ‘n Naspers-oriëntasie. Perskor-mense wat wel ‘n buiging maak, sluit in PG du Plessis, Koos du Plessis, Gerrit Velthuysen en fotograaf Willie van der Walt.
12.2.21
Anita de Kock oorlede
![]() |
| Anita de Kock |
FANUS BOTHMA skryf: My jarelange vriendin en oudjoernalis en -kollega, Anita de Kock, is Woensdag 10 Februarie 2021 skielik aan 'n hartaanval in Robertson oorlede. Sy was 66.
Sy was ‘n algemene verslaggewer, subredakteur en kunsredakteur by Perskor tussen 1981 en 1992.
Haar belangstellings was ongekend, veral in die uitvoerende kunste, veral teater en klassieke musiek met 'n voorkeur vir opera en ballet. Sy was ook 'n groot aanhanger van die Grand Prixrenjaers en -renne!
Vele beginnerskrywers het onder haar leiding gepubliseer. Haar spitsvondigheid, aweregse uitkyk op die lewe en soms galgehumor sal gewis gemis word!
26.1.21
Huldeblyk aan Coenie Slabber
KARIN PRETORIUS bring hulde aan Coenie Slabber (81) wat die afgelope 23 jaar dieselfde woonstelblok as sy in Bloubergstrand gedeel het. Hy is verlede week oorlede.
Sy skryf: Hy was ‘n goeie vriend, altyd beleefd teenoor my, vriendelik maar stil en baie privaat.
25.1.21
Stella Niemand tree uit
Ons is Stella diep dankbaar vir die jare se getroue diens wat sy verrig het om K’rant ‘n suiwer Afrikaanse publikasie te hou.
Stella was en is ‘n taalpuris en het haar voortdurend op die hoogte gehou met die evolusie van ons taal.
Ons wens jou alles van die heel beste toe vir jou welverdiende aftrede, Stella. Weer eens BAIE DANKIE! -- Redakteur.
23.1.21
Coenie Slabber sterf
Netwerk24 het gister berig dat Coenie Slabber (81), ’n voormalige kunsredakteur van Rapport, vroeër vandeesweek dood in sy woonstel in Bloubergstrand aangetref is.
22.1.21
Komkommertyd by die koerant
KARIN PRETORIUS skryf: Met komkommertyd pas agter die rug in die joernalistieke wêreld, onthou jy dít as die gonswoord toe jy in 1970 as groentjie by Die Transvaler in Braamfontein aangesluit het. Moenie kla oor harde werk deur die jaar nie, het die ou hande gewaarsku, want Desember en Januarie is komkommertyd en dan skep almal asem. Baie min werk, het hulle opgemerk. En só was dit dan ook.
Nuusredakteur Hennie Kotzé sou in Desember/Januarie met sy groot swart dagboek om 10:00 by die algemene kantoor opdaag vir die redaksionele vergadering en met ‘n verleë laggie vra: enige voorstelle vir ‘n storie vandag? En dan sou ons grootoog na mekaar staar en wonder: wat nou?
26.11.20
2020 op sy rug
Hier by K’rant was die nuus hoofsaaklik die aankondiging van ‘n oud-kollega wat heengegaan het. Nietemin, die lewe gaan aan, al is dit nie op dieselfde trant meer nie. K’rant se redaksie wens al sy lesers ‘n vreugdevolle feestyd toe en hoop reise sal voorspoedig wees en dat die nuwe jaar aangename verrassings vir almal sal bring.
19.9.20
Só onthou ek Peet Smit, hoofsub by Die Transvaler
KARIN PRETORIUS skryf: Peet Smit, hoofsub by Die Transvaler in die sewentiger jare, was ‘n stil, teruggetrokke en vir ‘n eerstejaartjie by die koerant, nogal ‘n geheimsinnige man.
Hy’t soggens geruisloos die lang gang van die koerantgebou in Jorissenstraat in Braamfontein van die voordeur afgestap na sy kantoor, aan die linkerkant in die hoek. Omdat sy venster op ‘n binnehof uitgekyk het, kon jy hom altyd van die nagkantoor se venster af sien sit by sy lessenaar – geboë oor die koerant.
8.9.20
Koos Botha oorlede
SIPKE DE VRIES skryf: In die vroeë oggendure van Vrydag 4 September is oudTransvaler en SAUK joernalis Koos Botha in die ouderdom van 85 jaar by sy geliefde huis in Ferndale oorlede.
Koos was baie jare verbonde aan die finansiële redaksie van Die Transvaler voor sy aftrede. In die vroeë sestiger jare was hy 'n subredakteur by die Afrikaanse nuusdiens van die SAUK. Toendertyd by die hoofkantoor in Kommisarisstraat.
6.9.20
'n Droom aan skerwe

Hene, vandat ek kan onthou, was Rooi Rose deel van my lewe. Nou het Covid-19 meegebring dat hierdie ikoniese tydskrif, saam met 'n hele rits Suid-Afrikaanse tydskrifte, moes toemaak.
Aangesien Rooi Rose grotendeels by Afrikaanse Pers Beperk (later Perskor) begin wortel skiet het, het ek so 'n bietjie in Rooi-Rose se (verre) verlede gaan snuffel.
Rooi Rose is deur 'n man begin -- deur die baie bekende skrywer, Mark Preston. Dit was nie sy regte naam nie, maar die skuilnaam van Hendrikus Potgieter. Sy droom was om 'n vrouetydskrif te publiseer.
2.9.20
Koos Roelofse is nog perdfris
1.9.20
Waar is Koos Roelofse?
PIET ROODT sê hy het lanklaas geloer wat op ‘Krant se werf aangaan. Eers toe broer Frans laat weet Jannie Hebst het beter weivelde gaan soek, dat ek die blog weer bekyk.
Raak ek sommer bewoë oor almal wat al “afgesterf” het. Besef ek dat ek ook maar op genadetyd leef. Sal graag wil weet wat het van Koos Roelofse geword. Hy was mos professor in Kommusikasiekunde by Unisa, nadat hy lank n redaksielid van Die Transvaler was.
Ons was 'n bedrywige lotjie destyds in die nagkantoor. Manne soos Peet Smit, Koos Roelofse, Dave Viljoen, Frik van der Walt, Gert Hattingh, Jan Herbst en 'n klomp ander wat nie meer met ons is nie.
27.8.20
18.8.20
Wilma Deetlefs oorlede
RONELLE RADEMEYER skryf in Republikein, Namibië: Huldeblyke stroom in op ’n WhatsApp-groep waarop die vriende, familie, kennisse en kollegas van me. Wilma Deetlefs (64), een van Namibië se ses staatsdienskommissarisse, van haar afskeid neem.
Sy is Donderdag dood in haar huis in Avis in Windhoek gevind. Geen vuilspel word vermoed nie.
| Wilma Deetlefs |
Die kantoor van die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila (links onder), het haar dood gister bekend gemaak. “Ons het ’n ware, toegewyde en beroepstaatsamptenaar verloor,” lui die aankondiging.
Wilma het die staatsdiens reeds voor onafhanklikwording betree nadat sy haar loopbaan aanvanklik as ’n joernalis begin het. (Wilma was 'n redaksieland van Die Vaderland Die Transvaler.)
Sy was nou gemoeid met die organisering van die geskiedkundige aanvaarding en ondertekening van die Grondwet vroeg in 1990.
23.7.20
Die redaksie sien dubbel
4.7.20
Onderhoude met oom Hermie
2.7.20
Die dierbare omie met die snorretjie
1.7.20
Hermie Hendriks – hy was ‘n eenmalige verskynsel
30.6.20
Oom Hermie
PIET EBERSÖHN skryf: Hy was die eerbiedwaardigste van alle joernaliste wat my pad gekruis het. Nee, nou stel ek my aan – wie se pad dit my voorreg was om te kon kruis.Voorwaar ʼn Israeliet sonder bedrog – en dit in ʼn beroep waarvan Horace Flather in sy The Way of an Editor gesê het die meeste knappes is “slightly off the normal mental beam”.
26.6.20
Hermie Hendriks op 95 oorlede
8.6.20
K’rant bring ou vriende byeen
5.6.20
Jeanne het diep spore by Perskor getrap
![]() |
| Jeanne Goosen |
Jeanne het by nie minder nie as vyf Perskorpublikasies gewerk. Sy was onder meer kunsredakteur by Hoofstad en joernalis by Oggendlad, Die Transvaler, Rooi Rose en Tempo.
Jeanne was bekend vir haar unieke karakter en talent. Die volgende toekennings is onder meer aan haar gemaak: CNA-prys (1990), MNet-prys (1991), Rapport-prys (1990 en 1992), Afrikaans Onbeperk (1998) en die Eeufeesmedalje van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (2009).
‘n Volledige artikel oor Jeanne is HIER.
Verskeie koerante het gisteroggend voorbladberigte of -foto’s van haar geplaas.
25.5.20
Christien (Swanepoel) Nieman oorlede
![]() |
| Christien Nieman |
Christien het saam met haar broer Jan Swanepoel (hy is in Desember oorlede) in Die Vaderland se subkantoor gewerk. Sy was ons groot taalkenner. 'n Mens kon vir Christien enigiets vra, sy het altyd geweet wat die korrekte taalgebruik was. Waar party mense 'n "wandelende ensiklopedie" is, was Christien 'n "wandelede woordeboek."
Vir baie jare het ek gewonder wat van Christien en Jan geword het. Toe my pasgetroude kinders aan die Wes-Rand gaan woon het, het hulle in dieselfde kerk beland as Christien, Jan en Christien se man, Piet. Hulle drie het die twee onder hulle vlerk geneem en 'n groot rol in hul lewens gespeel. Al drie is nou nie meer met ons nie, maar sal altyd onthou word vir hoe besonders hulle was.
Die foto bo van Christien is in Februarie deur een van haar goeie vriendinne geneem. Christien het 'n baie hegte vriendekring gehad.
'n Gedenkdiens sal ná die inperking gehou word.
14.5.20
Op soek na Jac de Vries
I came to know, professionally and as a friend, Jac de Vries, deputy editor of Oggendblad. After my stint in South Africa my career took me back to South East Asia and Australia and I lost contact with Jac.
7.4.20
Ons soek 'n engel vir Rapport (Deel 2 van 2)
PEET SIMONIS skryf verder: Drie dae voor ons moes terugkeer na Nairobi, was ons op die Kigali-lughawe. Baie van die groot ruite van die lughawe was flenters geskiet en daar was ander oorlogskade.Ons het gehoop om op 'n leë vragvliegtuig na Nairobi te kom – dit sou ons die lang oorlandroete spaar waarvoor daar kwalik genoeg tyd was voor ons weer die vlug na Suid-Afrika by Nairobi moes haal.
Ons was moeg, maar skielik is ons vaakheid verdryf deur ‘n aankondiging oor die luidspreker van die lughawe dat ‘n vragvliegtuig op die punt staan om te vertrek na Bukavu -- en daar is een sitplek beskikbaar.
6.4.20
Ons soek ‘n engel vir Rapport (Deel 1 van 2)
PEET SIMONIS skryf: Om ‘n vryskut-joernalis te wees, het in die ou dae beteken jy werk nie vir een werkgewerkoerant nie, maar verkoop jou storie aan enigeen wat belang stel. Die koper het oor die algemeen volgens vaste tarief betaal – per kolom sentimeter. Vir foto’s is apart betaal.Min vryskut-joernaliste wat ek ken, kon genoeg produseer om gemaklik te lewe en na mate koerante se lesers se belangstelling wyer en wyer gestrek het, het dit meer en meer gekos om die storie daar ver te gaan haal.
Toe ek die Rwanda volksmoord gedek het, was ek verskeie kere na die land en terug SA toe want daar was nie selfone nie. Telefone het ook nie gewerk nie.
31.3.20
Thijs was skepper oor wye front
PAUL KRUGER skryf oor die talente van sy vriend en kollega, Thijs Nel, wat Saterdag oorlede is: Thijs was op sy dag kunsredakteur van Die Vaderland, toe die grootste dagblad in die RSA.Hy was ‘n kunstenaar van formaat en sy talente was oor ‘n wye front versprei, hy was skilder (verskeie suksesvolle kunsuitstallings deur die jare), hy was pottebakker, digter, kortverhaalskrywer, navorser en kenner van CJ Langenhoven se werk wat hy in ‘n omvattende boek saamgevat het.
30.3.20
Thijs Nel oorlede
THIJS NEL, voormalige kunsredakteur van Die Vaderland en befaamde kunstenaar, is Saterdagoggend in die versorgingseenheid van ‘n aftreeoord in Oudtshoorn oorlede, het Paul Kruger, ‘n goeie vriend en kollega van destydse laat weet. Hy was 76.Thijs wat alleen gewoon het, het sowat ses weke gelede siek geword. Vriende wat na hom omgesien het, het hom gehelp om na ‘n aftreeoord te verhuis. Voor dit was hy nog bedrywig met keramiekwerk en het ‘n opdrag vir ‘n fontein vir iemand in Fancourt, George, voltooi. Hy het veral naam gemaak met sy skilderye en was ook skrywer en digter.
21.3.20
Wouter de Wet oorlede
Wouter de Wet, destyds Die Transvaler se kunsredakteur en vir dekades lank RSG se aanbieder van die programme “Dis Opera” en “Loof die Here” is op 9 Maart by sy huis in sy slaap oorlede.Magdaleen Kruger, stasiebestuurder van RSG skryf: "Dis met hartseer dat RSG afskeid neem van ‘n geliefde omroeper, Wouter de Wet. Hy is vroeg vanoggend (9 Maart) by sy huis oorlede ná ‘n kort siekbed. Hy het kanker gehad.
Wouter se uitsaailoopbaan strek oor 52 jaar. Dit het begin nadat hy by Die Transvaler in Johannesburg gewerk het. Wouter was ook ‘n groot tennis-ondersteuner en het vir jare lank tennis van Wimbledon in Londen uitgesaai.
18.3.20
Perskor-reünie uitgestel
11.3.20
Western Transvaal Record palm trofee in
ENGELA (Badenhorst) KORKOWSKI skryf uit Duitsland hoe 1974 ‘n interessante jaar by die Western Transvaal Record was. Die WTR het destyds weekliks verskyn.In Augustus 1974 het die Franse nasionale Rugbyspan met spelers soos Arturo Ortzabal en Denoit Dauga in die span, ‘n georganiseerde toer deur die opleidingsentrum van die Stilfonteinse myn gedoen en die Western Transvaal Record, het dié storie “eksklusief” gedek.
5.3.20
Happie plaas, happie stad
KARIN PRETORIUS skryf: Ek blaai deur ‘n ou foto-album vol stof opsoek na familiefoto’s. Is dit nie snaaks om nog foto-albums te besit nie? Met foto’s wat in goue of swart driehoekies vasgeplak is? Maar hoe gooi mens dit sommer weg met soveel herinneringe?My oog val op ‘n artikel wat ek op 30 Desember 1975 op versoek van nou wyle Kitty Vermaak, vroueredaktrise van Die Vaderland, geskryf het: Happie plaas, happie stad … dit smaak beter saam.
4.3.20
Reünie, 2020
Kontakbesonderhede:
- lblake2@telkomsa.net of
- pagemadelaine@gmail.com of
- Skakel Louise Blake by 082 472 2840 of 010 210 7381 of
- Skakel Madelaine Page by 083 417 2044.
3.3.20
Kotie van Heerden oorlede
Van Heerden, saam met die koerant se destydse hoofbestuurder, Tobie Boshoff, se grootste deurbraak om die koerant se sirkulasie in die 1970's te help bou, was waarskynlik die koerant se betrokkenheid by boks.
2.3.20
Peet verklap sy geheime
PEET SIMONIS skryf: Ek sien K’rant is op soek na sy duisendste “storie”. Jare gelede het ek die eerste een geskryf toe ek die eerste weergawe van die blad op die internet begin het. (Lees die voetnota.)As my ou vingers, wat nou byna 83 jaar oud is, nie te veel bewe nie, haal ek dalk nog die saktyd vir nommer een duisend. Beurtkrag moet net saamspeel ... en natuurlik moet die storie/s goed genoeg wees anders land dit in K’rant se snippermandjie.
26.2.20
Carl Köhler oorlede
CARL KÖHLER, boksskrywer en voormalige assistent-sportredakteur van Die Vaderland, is Donderdag in die Hospitium in Houghton, Johannesburg oorlede. Hy het pankreaskanker gehad. Carl was 82.Een van Carl se hoogtepunte in sy loopbaan was in 1973 toe hy die boksgeveg tussen Pierre Fourie en Bob Foster om die wêreld se ligswaargewigtitel in Albuquerque, New Mexico, VSA bygewoon het. ‘n Vertelling van hom is HIER.
Winnie, Carl se vrou, vertel dat hy baie danig was oor die feit dat hy reeds ‘n oupagrootjie van ‘n tweejarige dogtertjie was.
25.2.20
K’rant se millennium-uitgawe net om die draai!
Die onstaan van K'rant het binne enkele dae soos 'n veldbrand versprei. Oudkollegas het gretig deelgeneem. Op vier na het ons in die eerste drie jaar nie minder nie as 800 stories ontvang. In die vyf jaar daarna het nog amper 200 ons bereik.
14.2.20
Pers-ID van toentertyd
![]() |
| Frans Wessels |
![]() |
| Bienkie Wessels |
Ek was nie self by Perskor nie, maar het deur my ouers, Frans en Bienkie, Perskor baie goed leer ken; aldus my belangstelling in K’rant.
Oor die jare het ek baie stories gesien met name uit vanmelewe se dae; mense wat ek destyds goed geken het en met wie ons baie ondervindinge saam meegemaak het.
12.2.20
Reünie 2020: geborg deur Dagbreektrust
![]() |
| Margaret Lombard |
Madelaine Page het ingestem om by die komitee aan te sluit. Die komitee, onder leiding van ons voorsitter Harald Pakendorf, en bygestaan deur sy gade Aletta, Louise Blake en Madelaine Page, het besluit om die funksie weer by die Irish Rock-restourant te hou.
7.1.20
R300 miljoen se "scoop"
MARIUS DU PLOOY skryf: Ek waarborg nie dat ek alles 100% onthou soos dit was nie. Dit was Maart 1978 toe ek die Sondagoggend by Die Transvaler ‘n oproep van ‘n informant kry. (Dit klink altyd so belangrik om van "my informant" te praat. So asof ek êrens uit ‘n James Bond-fliek kom.)Hy vertel my toe dat daar ‘n reuse-diamantontdek is by die Premiermyn noord van Pretoria, maar dat niemand ‘n woord daaroor rep nie.
17.12.19
Jaareinde op hande
Dankie aan al die bydraers en lesers van die afgelope jaar. Ons kort nog agt stories om aan K’rant millennium-status toe te ken. Dit is die onmiddellike uitdaging vir 2020.
Die komkommers is op die land en K’rant se redaksie gaan ook bietjie uitspan tot vroeg volgende jaar.
Ons wens al ons lesers ‘n vreugdevolle en geseënde Kerstyd toe en ‘n voorspoedige 2020 wat vol heerlike verrassings sal wees! -- Redakteur.
11.12.19
Jan Swanepoel oorlede
![]() |
| Jan Swanepoel |
Hy is op 6 Desember oorlede. Sy troosdiens is op 11 Desember om 11:00 by die Gereformeerde Kerk Noordrand, Landhuisstraat 1129, Allensnek. Roodepoort.
20.11.19
Hoeveel kos iets moois?
MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Terwyl ek navorsing vir 'n storie oor Brixton gedoen het, het ek ook deur K'rant gesnuffel en onder andere huldeblyke aan Kittie Vermaak gelees.Dit het my baie hartseer gemaak. Nie net omdat sy nie meer met ons is nie, maar ook omdat ek ten tye van haar dood nie daarvan geweet het nie en dus nie haar begrafnis kon bywoon nie. Die rede hiervoor is dat ek toe nog nie met K'rant kennis gemaak het nie.
Nou wil ek graag 'n laat huldeblyk aan haar bring. Kittie was vroueredaktrise van Die Vaderland terwyl ek in die vroeë sewentiger jare hofverslaggewing gedoen het.
18.11.19
Hillbrow se ander spore
PIET EBERSÖHN skryf: Dit het gʼn niks met Perskor uit te waai nie, maar Maureen Swart, Karin Pretorius en Gert van Rooyen se Hillbrow-stories herinner my met ʼn ompad aan ʼn ervaring as buitemuurse student.Dalk is dit versagtend dat die stil tye tussen opeenvolgende uitgawes in die nagkantoor broodnodige studietyd opgelewer het.
In elk geval, ek moes destyds ʼn werkstuk oor die ontstaan en ontwikkeling van die Johannesburgse Hospitaal doen en navorsing uit The Star van die jare voor die eeuwisseling het vir ʼn ligter oomblik of wat gesorg.
13.11.19
Suzelle Fourie in haar slaap dood
![]() |
| Suzelle Fourie |
In ‘n berig wat Johann aangestuur en reeds op 1 April 2019 in Weslander (kantoor in Vredenburg -- Red.) verskyn het, skryf Trish Goosen: “Suzelle Fourie, gewese mede-eienaar van Weslander, is verlede week (in Maart 2019 -- Red.) in haar slaap dood.
“Suzelle (77) was meer as 20 jaar (1979-2000) die redakteur van Weslander voor sy en haar man, Gerrie, die koerant aan Media24 verkoop het.”
12.11.19
K’rant byna by sy millennium-uitgawe
PIET EBERSÖHN skryf: Wat ʼn mal perd het ek nie opgesaal toe ek toentertyd op Peet Simonis se versoek die redakteurskap van K’rant by hom oorgeneem het nie.
Nou vertel die huidige redakteur, Philip Deetlefs, my dat ons nog net 13 stories kort om dit 1 000 stories te maak wat al in K’rant gepubliseer is.
Noudat die stories in K’rant al die millennium-merk verbysteek, raak die bittersoet van daardie vestigingsjare sommer heuningsoet.
11.11.19
Tyd om vir oulaas diep te grou
1 000 stories te bring!
K’rant het oor die jare saam met die lesers en bydraers gegroei om ‘n unieke naslaanbron met interessante stories en (nou) geskiedkundige foto’s te word, wat op hierdie manier vir die nageslag bewaar word.
Ek weet dis nie altyd goed om bloot hoeveelhede te jaag nie, maar ek dink as elkeen van ons nog net een (laaste?) keer lekker diep in ons geheue gaan rondgrawe, sal daar tussen ons gewis nog 14 trefferstories opgedis kan word.
Ons sien uit daarna om julle stories te kry en moet nie dink dat die syfer 14 ‘n doodsnik is nie. Daar is nog 'n hele paar leë blaaie wat gevul kan word. -- Redakteur.
8.11.19
Gogga maak vir baba bang
PHILIP DEETLEFS skryf: In die vroeë jare sewentig was ons ‘n jongklomp by Die Transvaler wat min of meer saam begin werk het en ook groot vriende geword het. Willie Buys was nuusredakteur, Carel Noffke die hoofredakteur.Ek dink dis omdat ons eintlik so min geld verdien het dat ons as ‘n groep vriende en kollegas naweke saam “goedkoop” pret gemaak het. Een van ons prettige dinge was om te gaan piekniek hou by plekke soos Gillooly's Farm en ‘n plek iewers in die Wesrand waarvan ek die naam nie meer kan onthou nie. Daar was ‘n lekker diep poel in die rivier onder ‘n krans. Dit was ‘n gewilde piekniekplek met die eerste piekniekgangers wat natuurlik die uitsoekplek gekies het.
5.11.19
Nagmerrie in Twiststraat
MAUREEN (Heyl) SWART skryf: MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Wat ís dit tog met Hillbrow dat ons hom nie kan uitlos nie en hy ons nie wil laat gaan nie? Net toe ek gedink het dat alles wat daar oor die "Brow" te sê is, reeds gesê is, was Karin Pretorius se heerlike en interessante storie in K'rant.Helaas, hierdie eens geliefde voorstad het 'n plek geword om te vrees. Hóór deesdae net die naam, "Hillbrow," en alarms begin in jou kop skree: GEVAAR! BLY WEG!
Daar is oorbevolking, erge armoede, baie van die geboue, 'n swetterjoel daarvan gekaapte plekke, is in so 'n vervalle toestand dat dit lewensgevaarlik is om daarin te woon en elke soort misdaad onder die son vier in hierdie woonbuurt hoogty.*1)
9.10.19
Bloeddorstig in Brixton
MAUREEN (HEYL) SWART skryf: In heelwat K'rantstories word daar na die Brixton‐polisiestasie*1) ‐‐ alombekend as die Brixtonse moord‐ en roofafdeling ‐‐ verwys, asook na die Brixton‐blitspatrollie en die voorstad self. Sommige kollegas het in Brixton of omgewing gewoon, soos dinamiese en geliefde Kittie Vermaak, wat 'n huis in Putneyweg gehad het. Boonop was Perskor in 'n stadium skaars 'n klipgooi van hierdie gewilde woonbuurt af geleë en baie van ons het seker ook jare lank ons inkopies by die destydse OK Basaar ‐‐ ai,waar is daardie dae? ‐‐ in Highstraat gedoen.Dus moeilik om te glo dat hierdie einste voorstad eens deel van een van die bloedigste gebeurtenisse in Suid‐Afrika se geskiedenis was. So gewelddadig was dit dat ons land op die randjie van 'n burgeroorlog gestaan het.




















