Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

2.3.20

Peet verklap sy geheime

PEET SIMONIS skryf: Ek sien K’rant is op soek na sy duisendste “storie”. Jare gelede het ek die eerste een geskryf toe ek die eerste weergawe van die blad op die internet begin het. (Lees die voetnota.)

As my ou vingers, wat nou byna 83 jaar oud is, nie te veel bewe nie, haal ek dalk nog die saktyd vir nommer een duisend. Beurtkrag moet net saamspeel ... en natuurlik moet die storie/s goed genoeg wees anders land dit in K’rant se snippermandjie.

Miskien moet ek nie net een storie skryf nie maar ‘n paar uit die ou dae van Afrikaanse Pers, Perskor en ander publikasies. Dan kan ek ook praktiese vryskutwenke verklap wat afgetrede nuushonde op hulle oudag geld in die sak kan bring.

As heeltydse koerantman vir 18 jaar en vryskutman tot nou – 42 jaar later – het ek ‘n paar geheime te verklap of soos Landstem dit sou stel “onthullings” om te maak.

Peet met 'n ou perskamera by 'n lood "tikmasjien" en koerantbladsy ook in lood.

Deesdae is ons mos nie meer afhanklik van uitgewers nie – jy kan jou eie boeke druk. As dit nie goed is nie, betaal jy vir die gelag, maar as dit goed is, lag jy al die pad bank toe. ‘n Uitgewer gee jou miskien 15% van 'n publikasie se verkoopwins. As jy self publiseer en suksesvol bemark, kry jy tot 85% en dalk meer.

Dis 'n lekker werkie vir oudjoernaliste. Ek het juis net gister weer die groen lig gegee vir die druk van 2 000 boeke (in Frans) wat hoofsaaklik in die Kongo versprei sal word. Dis ‘n A5-boek van 276 bladsye in volkleur gedruk op 90 gram semi-glanspapier.

Kortliks en in breë trekke -- hoe publiseer en bemark jy jou eie boeke? Dis een
van die geskriffies wat ek vir K’rant sal aanbied. 'n Voorbeeld hiervan is gister se erkenning van ‘n drukopdrag aan my drukker uit Minsk, Belarus.

Die tyd staan nie stil nie en elke koerantman en -vrou wat vertrek sonder om als te vertel, is soos ‘n stukkie biblioteek met onvervangbare publikasies wat afbrand.

My koerantman-bib het ek sestig jaar gelede begin bou toe Die Volksblad -- die oudste Afrikaanse nuusblad in die land -- my aangestel het as groentjie-verslaggewer op voorwaarde dat ek daardie jaar my graadstudie afhandel aan die buitemuurse afdeling van die Vrystaatse Universiteit.

Die Volksblad was ‘n goeie leerskool en baie koerantmanne van ander publikasies het daar 'n draai gemaak. In die dae voor die koerantstryd tussen noord en suid, was dit selfs op beperkte skaal geoorloof dat Volksblad-ouens vir die noordelike koerante soos Die Vaderland se Naweek of vir Dagbreek en Sondagnuus “string” vir 'n ekstra geldjie.

So het ek ná ses jaar by Die Volksblad by Dagbreek beland en vir twaalf jaar by Afrikaanse Pers, Voortrekkerpers en Perskor gewerk. Die afgelope 42 jaar doen ek vryskutwerk as skrywer en uitgewer op beskeie skaal.

Drie jaar gelede is ek byvoorbeeld gevra om die Volksblad se reünieblad in sy 113de jaar saam met Herman le Roux -- befaamde sportredakteur -- te skryf en te publiseer. Dis 'n 28-bladsy volkleur A4-publikasie. Miskien moet ons so iets vir K’rant-mense ook aanpak?

(Hierdie is K'rant se duisendste storie.Dis gepas dat dit van Peet Simonis kom.  In 2004 het hy manalleen K’rant as ’n nuusbrief per e-pos die lig laat sien. Dit was die voorloper van K'rant in sy huidige formaat.  Berig HIER.  -- Red.)