Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

20.11.19

Hoeveel kos iets moois?

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Terwyl ek navorsing vir 'n storie oor Brixton gedoen het, het ek ook deur K'rant gesnuffel en onder andere huldeblyke aan Kittie Vermaak gelees.

Dit het my baie hartseer gemaak. Nie net omdat sy nie meer met ons is nie, maar ook omdat ek ten tye van haar dood nie daarvan geweet het nie en dus nie haar begrafnis kon bywoon nie. Die rede hiervoor is dat ek toe nog nie met K'rant kennis gemaak het nie.

Nou wil ek graag 'n laat huldeblyk aan haar bring. Kittie was vroueredaktrise van Die Vaderland terwyl ek in die vroeë sewentiger jare hofverslaggewing gedoen het.

Kittie Vermaak
Nadat ons paaie by Die Vaderland geskei het, het ons mekaar dikwels by winkels raakgeloop. Dan was daar die gewone oor en weer beloftes om "een of ander tyd" by mekaar te gaan tee drink. Ongelukkig het dit nooit gebeur nie.

Op 'n oggend was ons gelyktydig by 'n kwekery in Randburg. Ek het tweeroosbome gekoop en terwyl ons in die tou by 'n betaalpunt wag, het ons mekaar se inkopies bewonder. Die allemintige pryse het ook ter sprake gekom.

Dit was toe dat Kittie opmerk: "Wat sal 'n mens tog nie vir iets moois betaal nie?" Inderdaad.

Maar min het ek geweet dat dit laaste keer was wat ek hierdie merkwaardige vrou sou sien, want op 25 Augustus 2012 is sy oorlede.

Die rose wat ek daardie dag gekoop het, groei steeds in my woonstel se tuin en dikwels as ek na dié pragtige blomme kyk of daarmee werk, dink ek aan Kittie.