Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

8.11.19

Gogga maak vir baba bang

PHILIP DEETLEFS skryf: In die vroeë jare sewentig was ons ‘n jongklomp by Die Transvaler wat min of meer saam begin werk het en ook groot vriende geword het. Willie Buys was nuusredakteur, Carel Noffke die hoofredakteur.

Ek dink dis omdat ons eintlik so min geld verdien het dat ons as ‘n groep vriende en kollegas naweke saam “goedkoop” pret gemaak het. Een van ons prettige dinge was om te gaan piekniek hou by plekke soos Gillooly's Farm en ‘n plek iewers in die Wesrand waarvan ek die naam nie meer kan onthou nie. Daar was ‘n lekker diep poel in die rivier onder ‘n krans. Dit was ‘n gewilde piekniekplek met die eerste piekniekgangers wat natuurlik die uitsoekplek gekies het.

Op ‘n Saterdagoggend het ons besluit dis weer tyd vir ‘n piekniek en het ons
soontoe verkas. Ek onthou nie meer al die name nie, maar in die gewone groep was wyle Johann van Loggenrenberg, wyle Harry Gouws, Piet Ebersöhn, Frans Scheepers, Lala Wahl, Willie Buys, Danie Malan, Joe van Buuren, Stella Fouché, ek en nog ander wie se name ek nou nie meer lekker onthou nie.

Gillooly's Farm, Johannesburg.
Die Saterdag toe ons by die watergat aankom was daar toe reeds mense wat “ons” plek beset het en hulle het kinders gehad. Ons was ‘n raserige, jolige groepie wat soms nie vir kinder-ogies em -oortjies goed was nie.

Ons was nie regtig lus om terug huis toe te gaan nie en Harry Gouws maak toe die plan. Hy het met ‘n Tarzan-kreet kaalgat van die krans af voor die ander piekniekers en hulle kinders in die waterpoel gespring.

Dit was toe vir die piekniekhouers met die kinders net een te veel en hulle het opgepak en huis toe gegaan sodat ons toe op ons “ongemanierde” manier verder piekniek kon hou.