Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

30.5.14

Leeu brul ons by die paal op

PHILIP DEETLEFS skryf: In die jare 70 toe André de Bruyn by Die Vaderland was en ek by Die Transvaler, het ons in 'n stadium albei veldmotorfietse gehad en Sondagoggende graag vir die pret in die veldpaadjies rondom Johannesburg gaan rondry.

Een Sondag het ons saam met Digby Wesson, skakelman van Honda, in 'n westelike rigting in die voetpaadjies gery toe André se agterwiel skielik pap geword het. Ons blitsige oppomp-goed werk nie op die skeur in sy band nie en rondom ons kan ons net veld sien – niks huise nie.

André de Bruyn
Digby het aangebied om 'n nuwe band vir André te gaan kry. Ek het saam met André vir Digby gewag. Ons het ook nie die vaagste benul gehad van presies waar ons was nie.

Soos ons sit en wag hoor ons skielik die gebrul van 'n leeu en ook glad nie so ver van ons af nie. Is die sirkus iewers oor die rand waar ons nie kan sien nie? Ons kan aan geen ander rede vir die leeu se brul dink nie en sit maar weer en wag.

Die volgende oomblik brul die leeu bloedstollend byna reg langs ons. Vir dié van julle wat nog nie 'n leeu naby julle hoor brul het nie, sal nou nie mooi verstaan nie, maar ek en André het daar opgevlieg asof die leeu op ons skote beland het.

Daar's nie 'n boom in sig nie en hoe nou gemaak? Gelukkig sien ons 'n elektriese paal naby en albei van ons vlieg baie rats van vrees teen die paal op so hoog soos wat ons dink dit nodig is om uit die kloue van die leeu te bly. Lekker hoog tot net onder die elektriese drade!

Toe die ergste adrenalien eers weggesweet het, het ons so 'n bietjie rondom ons begin kyk. Agter ons was 'n yslike groot kennisgewingbord net oor die hoogte verskuil wat die Krugersdorp Leeupark aankondig.

Net voor ons van verligting kon afklim/val het Digby met die heel band daar opgedaag. Ek dink hy lag nou nog vir ons!