Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

2.6.14

Die dag toe Hoofstad vlamgevat het!

SCHALK SWANEPOEL skryf: Dit was redelik onlangs dat ek K’rant op die internet ontdek het – ’n ontdekking wat my gedagtes meer as 40 jaar teruggevoer het na die begindae van Hoofstad en Oggendblad.

Laat my begin deur te sê my verbintenis met Hoofstad en later Oggendblad spruit nie uit die redaksionele sy van hierdie twee publikasies nie, maar wel uit die tegniese kant. Ná my vakleerlingskap by die Pretoria News in die jare sestig – aanvanklik as handlettersetter en later as Linotype-operateur – het ek my in 1970 by Hoofstad as Linotype-operateur aangesluit.

Willie Maloney, wat op daardie tydstip voorman was van die Linotype-operateurs en ook ’n oudkollega van die Pretoria News, het my gewerf om my hand, of is dit nou my vingers, in Afrikaans op die Linotype te waag.

As iemand wat altyd my weg oopgesien het vir nuwe uitdagings, het ek daarna uitgesien om ná ’n dienstydperk van sowat vyf jaar in ’n uitsluitlik Engelse milieu my brood in die aanskyn van my sweet by ’n Afrikaanse dagblad te verdien.

Op stuke van sake was Afrikaans my moedertaal – ’n sprak wat ek maar min kon sprook tussen my Engelstalige vriende en kollegas en natuurlik ’n redaksie wat toe nog hogere Engels gebesig het – ten minste, dit is hoe dit vir my as stoere Afrikaner geklink het.

Feit is egter, my aanpassing was makliker gesê as gedaan. Ná ses jaar van Engels, dag in en dag uit, het ek besef my Afrikaans het skrikbarend daaronder gely. My spelvermoë in Afrikaans het inmiddels in die hek geduik. Daar was min kans dat ek by ’n mede-operateur kon kers opsteek oor die korrekte spelling van ’n woord, siende dat die meeste van hulle ook oud-operateurs van die Pretoria News was.

So, ten spyte daarvan dat bykans almal van ons Afrikaanssprekend was, het ons spelvermoë ver tekortgeskiet as gevolg van jare se blootstelling aan Engels. Maar, gelukkig was die proefleeskantoor net om die hoek, waar daar ’n paar nuttige woordeboeke was wat ’n mens vinnig kon naslaan.

Dr Andries
Treurnicht
Dit was die dae toe dr Andries Treurnicht hoofman oor honderd was en, as oud-dominee, ’n mens jou woorde getel het as hy bo van sy kantoor af gekom het om nat proewe te lees voor saktyd.

En so, op ’n doodgewone, doodnormale middag, terwyl die Linotype-matryse vrolik gekletter het en die rolpers nie ver daarvandaan breëbors sy koerante een vir een uitgespoeg het, toe vat dinge letterlik vlam.

Die Linotype-tegnikus (’n Belg en ook ’n oud-Pretoria News-kollega) was druk besig om langs ’n oop drom, gevul met paraffien, twee stukke yster aanmekaar te sweis. Dat die stomme man nie twee en twee bymekaar kon tel en dink dat van die vonke wat die wêreld vol spat, dalk net in die drom propvol paraffien kan beland nie, gaan my verstand te bowe. Stellig nie!

En, voor jy kon sê Tweebuffelsmeteenskootdoodgeskietfontein, toe trek die drom vol paraffien los met ’n “doef”-geluid soos hy vlamvat. Net daar is die gort gaar en die gekletter van matryse raak meteens stil. Alle oë is stip op die brandende drom gerig waar die vlamme nie net hoër begin lek nie, maar ook sywaarts mik na die massiewe rol papier daarnaas wat die gulsige rolpers voed.

Gou word die vlamme wild en wakker met brandblussers bestorm, maar vergeefs. Die vlamme woed net hoër en hoër. Tyd om die brandweer se hulp in te roep terwyl die bestuur al wat werker is na veiligheid buite begelei.

En, daar staan ons almal, soos ’n trop skape aan die oorkant van Mitchellstraat terwyl ons
die petalje gadeslaan. Uiteraard lok die skouspel sommer gou ’n skare en almal wil weet wat skeefgeloop het. Niemand weet presies nie, maar spekulasie vlam oral op terwyl dit net so vinnig soos die vlamme in die gebou geblus word.

Kort voor lank is elkeen weer terug op sy pos en die matryse begin weer kletter soos daar geset word aan die volgende dag se vroeë blaaie.

Mitchellstraat, Pretoria
Die vraag is, was die koerant láát op straat daardie dag? Watwou? Hoofstad láát? Sê wie?

Tussen al die water en geskarrel deur het die rolpers soos 'n wafferse stoomenjin voortgestoom, sonder om ’n koerant te mis!

Hoofstad het hom nie laat afskrik deur ’n ou vuurtjie nie!